Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nuwe Maties maak ’n verskil
Outeur: Corporate Communication/Korporatiewe Kommunikasie [Asiphe Nombewu & Rozanne Engel]
Gepubliseer: 31/01/2020

Meer as 5 000 nuwe Matie studente het aan die jaarlikse Sosiale Impak-gemeenskapsoggend deelgeneem tydens die Universiteit Stellenbosch se amptelike Verwelkomingsweekprogram vir nuwelingstudente.

Donderdag, 30 Januarie 2020, het studente die geleentheid gehad om verskeie gemeenskapsvennote wat by Sosiale Impak-aktiwiteite in en rondom Stellenbosch en die Tygerberg-gebied (vir studente op die Tygerbergkampus), te ontmoet. Hulle het aan 'n wye verskeidenheid aktiwiteite deelgeneem wat in samewerking met gemeenskap- en studenteleiers beplan is.

Op die Stellenbosch-kampus, het Academia-inwoners met die Stellenbosch Munisipaliteit se Rampbestuur saamgewerk om meer as 'n honderd toebroodjiekospakkies voor te berei. Dit sal in aangewese gebiede in die Cloetesville-area versprei word.

Volgens Jessica Garschagen, 'n studenteleier van Academia, was dit nie 'n eenmalige aktiwiteit net vir Verwelkomingsweek nie. Hulle beplan om die Rampbestuureenheid en ander gemeenskapsvennote regdeur die jaar by te staan deur “Toebroodjie-Sondae" een of twee keer per maand te hou. Hier sal hulle kospakkies voorberei en pak wat aan behoeftiges in die groter Stellenbosch-gebied versprei kan word.  

Die Gemeenskapsoggend sluit aan by die Universiteit se visie om onder meer kennis tot diens van die samelewing te bevorder, asook die Universiteit se missie om gemeenskappe te verryk en te transformeer en die kern strategiese tema om doelgerigte vennootskappe en inklusiewe netwerk te bou – in hierdie geval met die gemeenskappe omliggend aan die Universiteit.

Studente van die Goldfields-koshuis het gasheer gespeel vir leerders van Laerskool Idasvallei vir 'n dag van pret en speletjies, gesigverf en die uitdeel van kospakkies. Die HK vir Sosiale Impak by Goldfields, Ayrton Jackson, het gesê hul vennootskap met die skool strek al oor vier jaar.

“Dit is een van die baie maniere waarop die Universiteit Stellenbosch sy deure vir die gemeenskap oopgooi. Ons wil hê die eerstejaarstudente moet weet dat Stellenbosch nie net 'n universiteit is nie; dit is 'n dorp en gemeenskap."

Die adjunkdirekteur vir Sosiale Impak en hoof van Maties Gemeenskapsdiens by die US, Rene Hector Kannemeyer, het gesê: “Ons wil die Universiteit toeganklik vir die mense maak, veral vir kinders binne die Stellenbosch-gemeenskap."

Die Helshoogte-koshuis het as deel van hul Gemeenskapsoggend saam met Rietenbosch Primêre Skool gewerk om 'n pretdag op die sportveld te hou. Die koshuis se HK vir Sosiale Impak, Christiaan Burger, het gesê vir hul gemeenskapsbetrokkenheid eindig nie wanneer die leerders teruggaan skool toe nie.

“Ons beplan ook 'n toebroodjie-veldtog na die nagskuiling en ons het boekvoorlesings by een van die skole in die gemeenskap in ons jaarplan ingesluit. Ons wil hê die studente moet bewus wees van die verskil wat hulle in die samelewing kan maak."

Die koshuise Majuba en Nerina het die geleentheid gehad om tyd saam met 30 kinders van die Hanna-liefdadigheids- en bemagtigingstigting te spandeer. Die HK vir Sosiale Impak by Majuba, Jacques Ceronia, het gesê: “Ons koshuis werk al vir vyf jaar saam met die stigting. Ons beplan jaarlikse stranduitstappies met die kinders. Ons het ook sekondêre projekte soos die maak van toebroodjies vir haweloses. Ons wil nie net vir hulle toebroodjies gee nie, ons wil hê die studente moet saam met hulle sit en gesprekke met hulle hê."

Hoewel sommige van die Gemeenskapsoggend se aktiwiteite eenmalig was, bied van die ander aan studente die geleentheid om regdeur die jaar betrokke te wees.

 

Foto deur Stefan Els.