Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
‘Fantastiese Vier’: TygerMaties bied hulp op Leeukop
Outeur: Aydn Parrott
Gepubliseer: 30/01/2020

Vier TygerMaties het onlangs die nuus gehaal toe hulle ʼn vrou wat ernstige beserings opgedoen het na ʼn 13m val op die bekende staproete by Leeukop te hulp gesnel het.

Die derdejaar- mediese studente was deel van ʼn groep Kerkenberg-huiskomiteelede wat saam met eerstejaars gaan stap het by Leeukop toe die 21-jarige Mieschka Dollie van die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie 13m ver geval het. Dollie was deel van ʼn ander groep stappers op die berg.

Dollie het te lande gekom naby waar die Kerkenberg-studente gestap het. Sy het ʼn kopbesering en ʼn gebreekte arm opgedoen.

Die vier TygerMaties het Dollie te hulp gesnel en haar gestabiliseer totdat verdere mediese hulp opgedaag het. Volgens Die Burger, Beeld en Timeslive is Dollie per helikopter na die Christiaan Barnard-hospitaal geneem.

Koos Botha, Kelton Poultney, Tessa Brooke en Glen Thatcher van die Kerkenberg-huiskomitee het hulle ervaring tydens en na die dag beskryf.

“Hulle het my naam verkeerd gespel in die koerant,” het Kelton Poultney gesê. Volgens hom word hy baie geterg want sy bynaam is ‘Keldrogo’, “soos die karakter van Game of Thrones, ‘Khal Drogo’.”

Oor die insident by Leeukop het hy die volgende te sê gehad: “Dit was die eerste keer dat ek die eerste respondent by ʼn toneel was. Ek het rondgekyk en gedink ‘Waar is iemand wat kan help?’, maar toe besef ek: ‘Wag ʼn bietjie, ek is die naaste en ek moet iets doen.

“Dit was belonend om te weet dat ek wel iets kon doen en kalm kon bly tydens so ʼn situasie,” het Poultney gesê.

Hy skryf die suksesvolle behandeling van die pasiënt by Leeukop toe aan die feit dat hulle kalm gebly het. “Almal het kalm gebly en geweet watter rol hulle moet speel en die situasie was maklik om te hanteer.” Hy het gesê die Hippokampus-fietstoer het hom geleer hoe om kalm te bly en hoe om deur te druk onder moeilike omstandighede.

Tessa Brook het gesê die ervaring het haar laat besef “hoe ernstig die werk is wat ons doen en dat mens altyd voorbereid moet wees.” Brook, wat binnekort met haar eerste kliniese blok begin, het gesê dit was “bevredigend om te kan help.”

“Daar is geen sin daarin om toegerus te wees met kennis en dit nie saam met jou te dra nie,” het Brook gesê. Dié Zimbabwiër met ʼn passie vir omgewingsvolhoubaarheid het gesê dit was op Leeukop haar prioriteit om na die pasiënt se belange om te sien.

Volgens Brooke was Dollie baie gespanne en het sy haar probeer kalmeer. “Ek was nie betrokke by enige van die fisiese hulp wat aangebied is nie, maar ek het voordurend met haar gepraat.”

Spanwerk was ook belangrik in die sorg wat hulle gebied het, het Glen Thatcher gesê. “Dit kan môre (weer) gebeur. Toe ek op die berg was saam met die nuwelinge het ek gehoor mense roep: ‘Iemand het geval! Iemand het geval!’”

Thatcher, ʼn toegewyde kok en swemmer, het gesê: “Ek was die heeltyd bekommerd oor die nuwelinge. Wat gebeur nou met die res van die mense waarvoor ek verantwoordelik is?” Volgens hom is een van die Kerkenberg-koshuis se waardes ‘familie’.

“Jy kan verseker op jou span staatmaak. Die res van die HK en die mentors het beheer geneem van die situasie,” het hy verduidelik. Volgens hom was daar ʼn span wat die eerstejaars in die groep bygestaan het terwyl hy en sy span na die pasiënt omgesien het.

“Wat jy ookal besig is om te leer is uiters relevant. Selfs as ʼn student kan jy ʼn groot impak maak op iemand se lewe. Ons het ʼn keuse gemaak om na mense om te sien, en dit stop nie as jy jou handboek toemaak nie.”

Koos Botha het dit beaam. “ʼn Ongeluk kan ʼn mens enige tyd tref, en jy moet reg wees. Dit was regtig wonderlik dat ons daar was om te help.” Botha, ʼn kranige stapper, het gesê mens moet “altyd voorbereid wees, selfs as jy dit die minste verwag.”

Vir Botha het die ervaring op Leeukop vir hom bevestig dat gesondheidsorg die regte loopbaankeuse was en dat hy dit geniet. “Om in ʼn situasie te kom en te weet wat om te doen en in staat te wees om iemand te help,” het Botha gesê, het sy behoefte om vir ander te sorg weereens bevestig.

Onderskrif: Die 'Fantastiese Vier': Koos Botha, Kelton Poultney, Tessa Brooke en Glen Thatcher van die Kerkenberg-huiskomitee.