Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
‘US verbind tot inklusiwiteit en gelykheid’
Outeur: Corporate Communication/Korporatiewe Kommunikasie [Rozanne Engel]
Gepubliseer: 24/01/2020


“As jy wil groei, moet jy diversiteit omhels. Dit is 'n onontbeerlike onderdeel van uitnemendheid."

Met hierdie woorde het die Universiteit Stellenbosch (US) se Viserektor: Leer en Onderrig, Prof Arnold Schoonwinkel, die US se meer as 5 000 nuwelingstudente, vergesel deur hul ouers, welkom geheet by die amptelike verwelkomingsgeleentheid wat Donderdag, 23 Januarie 2020, in die Danie Craven-stadion gehou is.

“Ons is verbind tot inklusiwiteit en gelykheid. Ons kom almal uit verskillende dele van die land en uit verskillende agtergronde. Dit is juis wat universiteit so aanloklik maak. Hier gaan jy blootgestel word aan 'n verskeidenheid mense en idees … Dit is deel van jou ontwikkeling om ander mense te leer ken, en om almal met respek te behandel," het Schoonwinkel gesê.

Hy het die nuwelingstudente gelukgewens omdat hulle só ver op hul reis gevorder het en het beklemtoon hoe spesiaal die nuwelinge vir die Universiteit is, veral omdat die US jaarliks duisende aansoeke ontvang.

“Ons het 45 000 aansoeke vir toelating vanjaar ontvang, maar het net plek vir sowat 5 500 nuweling-eerstejaarstudente – so as jy dit tot hier gemaak het, is jy werklik 'n topstudent. Ouers kan gerus wees dat hierdie Universiteit hard werk om 'n omgewing wat bevorderlik is vir studentesukses, te skep. Maties het die hoogste graduering-deurvloeikoers van alle universiteite in Suid-Afrika. Stellenbosch is 'n top universiteit vir topstudente," het Schoonwinkel gesê.

 


Hy het ook die belangrikheid daarvan beklemtoon dat studente verantwoordelike jong volwassenes moet wees; dat hulle hulp moet soek wanneer hulle uitdagings mag ondervind op hul reis aan die US en hulle moenie die kans verspeel om lewenslange verbintenisse en verhoudings te bou nie.

“'n Mens kom nie net universiteit toe vir 'n graad nie, maar vir 'n opvoeding. En daarvoor het jy blootstelling aan 'n wye verskeidenheid aktiwiteite nodig – ook buite die lesingsaal. Sluit aan by een van ons talle studenteverenigings. Gebruik hierdie tyd om stewige netwerke vir die res van jou lewe te bou."

Dr Choice Makhetha, Senior Direkteur: Studentesake by die US, het die nuwelingstudente by die formele geleentheid welkom geheet. Sy het gesê sy is trots daarop dat al hierdie nuwelinge “Maties as hul nuwe tuiste gekies het".

Die voorsitter van die US se Primkomitee, me Ingrid Heydenrych, het ook die nuwelinge verwelkom en aangemoedig. Sy het gesê die studente moet hierdie stap na hoër onderwys aangryp as 'n geleentheid om keuses te maak wat op die lange duur “tot 'n toekoms wat ons almal vir hierdie land, vir Afrika en vir die wêreld as 'n geheel wil sien, by te dra".

“Dit is 'n buitengewone voorreg in hierdie land om op universiteit te wees. Julle gaan julself verdiep in 'n wêreldwye akademiese tradisie wat deur die eeue een van die hoofbronne van menslike ontwikkeling was. Julle gaan dinge sien, leer en ondervind wat julle gaan uitdaag, julle gaan laat groei en julle in die uitsonderlike mense gaan verander wat julle bestem is om te wees," het Heydenrych gesê.

 


Die belangrike verwelkomingsgeleentheid op die Universiteit se kalender het uit pret, musiek, 'n formele verwelkoming en 'n menslike uitbeelding van die jaartal 2020 op die sportveld van die Danie Craven-rugbystadion bestaan. Ná afloop van hierdie aktiwiteite het die studente en hul ouers aan 'n optog vanaf Coetzenburg na die ikoniese Victoriastraat op die kampus deelgeneem.

Die nuwe Maties het van die stadion af na Victoriastraat gestap as deel van 'n “Droomlansering" wat die begin van hul reis by die US om hul drome te realiseer, gesimboliseer het. Die studente het elkeen 'n kaartjie ontvang waarop hulle hul drome vir hulself kon neerskryf.

Die kaartjies is by verskeie punte langs die roete na Victoriastraat opgesit waar dit vir die volgende paar dae teen die bome – waarvan die stamme in verskillende kleure materiaal toegedraai is – sigbaar sal wees vir almal wat Victoriastraat langs sal ry of stap.

Nuwelingstudente kan ook meer inligting op die Universiteit se webwerf, www.sun.ac.za, vind. Dit bevat al die nodige inligting oor die hele week se verwelkomingsprogram, asook oor die registrasieskedule, vervoer, persoonlike veiligheid, die biblioteek en gratis skryfhulp. 


Klik hier vir die volle toespraak deur Ingrid Heydenrych.

Klik hier vir die volle toespraak deur Prof Arnold Schoonwinkel.