Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Studie wil help om CO2-vrystellings in padvervoer te verminder
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie [Alec Basson]
Gepubliseer: 23/01/2020

As die vernaamste manier om goedere in Suid-Afrika te vervoer, stel padvervoer (passasiervervoer uitgesluit) jaarliks sowat 16,8 ton koolstofdioksied (CO2) vry, wat dié bedryf die tweede grootste bydraer tot die vrystelling van kweekhuisgasse naas elektrisiteit maak. Een manier om hierdie koolstofvrystelling te verminder, is om 'n raamwerk vir die ontkoling van padvervoer daar te stel wat spesifiek vir ons plaaslike konteks ontwikkel is.

Só meen sake-analis dr Lee-Anne Terblanche wat onlangs haar doktorsgraad in Logistieke Bestuur aan die Universiteit Stellenbosch verwerf het. Sy het die heel eerste padvervoer-ontkolingsraamwerk vir Suid-Afrika ontwikkel wat vervoermaatskappye en beleidsmakers kan gebruik om die vrystelling van CO2 te verminder.

“Gegewe die noodsaaklikheid van laer koolstofvrystellings, sal die raamwerk riglyne aan maatskappye en beleidsmakers verskaf oor hoe dit bereik kan word en watter gebiede hulle op moet fokus," sê Terblanche.Terblanche1.jpg

Ten einde hierdie ontkolingsraamwerk te ontwikkel, het Terblanche onderhoude met kundiges en bestuurders in die padvervoerbedryf gevoer en hulle gevra om vraelyste te voltooi. Altesame 132 geregistreerde padvervoermaatskappye het aan haar navorsingstudie deelgeneem.

Terblanche se raamwerk het vier sleutelbesluite wat 'n maatskappy moet neem wanneer dit kom by padvervoer, geïdentifiseer. Al hierdie besluite kan die hoeveelheid koolstof wat vrygestel word, beïnvloed. Die raamwerk het ook bepaal hoeveel koolstofvrystelling elk van hierdie besluite tot die totale padvervoervrystelling in Suid-Afrika bydrae. Hierdie besluite wentel om 'n verskuiwing van pad- na spoorvervoer, die doeltreffendheid van die logistieke roete of netwerk, operasionele en meganiese doeltreffendheid, en 'n kultuur van voldoening aan die Padvervoerstelsel ('n vrywillige stelsel van selfregulering beter bekend as die RTMS).

Die vier sleutelbesluite is in nege kleiner koolstofveranderlikes onderverdeel om aan te dui hoe elk van hierdie veranderlikes tot die totale padvervoerkoolstofvrystelling bydra. Dit sluit onder meer die verpassing van tydsgleuwe of afleweringstye, kaping, diefstal (wat onbeplande ritte en dus meer koolstofvrystelling tot gevolg het), leë vragte (vragmotors wat leeg na hul pakhuise terugkeer ná 'n dag se aflewerings), onnodige ritte, meganiese doeltreffendheid van vragmotors en bestuurdersgedrag (byvoorbeeld of bestuurders die beste besluite neem om vragmotor te laat luier, versnelling, die gebruik van spoedkontrole, onbeplande of ongemagtigde stoppe, ens).

Terblanche sê koolstofvrystelling kan aansienlik verminder word indien maatskappye meer aandag aan hierdie aspekte gee.

“Indien Suid-Afrikaanse maatskappye op hierdie kernaspekte fokus, kan ons koolstofvrystelling in padvervoer met 'n ongelooflike 46% verminder. Hierdie syfer toon hoe ondoeltreffend ons padvervoer bestuur word.

“Die grootste potensiaal vir die vermindering van koolstofvrystelling en padvervoerkilometers lê in die doeltreffendheid van besluitnemingsinvloede binne die logistieke netwerk, wat koolstofvrystellings met 27% kan verminder. 'n Verskuiwing na spoorvervoer kan tot 'n afname van 7,5% bydra, terwyl operasionele of meganiese doeltreffendheid tot 'n afname van 20% kan lei.

“Indien al die invloede gelyktydig geïmplementeer word om sinergie te verkry, kan dit tot 'n totale geraamde koolstofbesparing van 7,7 miljoen ton lei, wat met 'n vermindering van 6,36 miljard padvervoerkilometers gepaard sal gaan," voeg Terblanche by.

Ter beklemtoning van die waarde van die ontkolingsraamwerk, sê Terblanche dit is nou moontlik om vas te stel waar die grootste potensiaal vir die vermindering van koolstofvrystelling binne padvervoer in Suid-Afrika lê en watter stappe gedoen kan word om hierdie vrystellings te verminder.

“Dit is belangrik indien ons in ag neem dat padvervoerverkeer na verwagting teen 2050 tot 1 miljoen vragmotors op ons paaie sal toeneem, met Gauteng wat die grootste toename sal ondervind weens die ekonomiese aktiwiteite in die provinsie."

Terblanche sê padvervoermaatskappye, beleidsmakers en plaaslike en internasionale navorsers sal die meeste by haar navorsing baat.

  • Hooffoto: 'n​ Vragmotor wat goedere vervoer: Krediet: Pixabay.
  • ​Foto 1: Dr Lee-Anne Terblanche

SLEGS VIR MEDIANAVRAE

Dr Lee-Ann Terblanche

Analis in Informasie- en Kommunikasietegnologie: Toevoerketting

Distell

Stellenbosch

E-pos: gmleeanne@gmail.com

UITGEREIK DEUR

Martin Viljoen

Bestuurder: Korporatiewe Kommunikasie

Universiteit Stellenbosch

Tel: 021 808 4921

E-pos: viljoenm@sun.ac.za