Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Navorsing, aksie oor klimaatsverandering is dringend nodig – GAUC
Outeur: Corporate Communication Division/Afdeling Korporatiewe kommunikasie
Gepubliseer: 12/12/2019

Oproepe tot navorsing oor klimaatsverandering, voorspraak en aksiestappe is vandeesweek by die eerste COP25-konferensie gedoen wat deur die “Global Alliance of Universities on Climate" (GAUC) by die China Pavillion in Madrid, Spanje, gehou is.

Die Universiteit Stellenbosch (US) en 11 ander universiteite van regoor die wêreld het aan die konferensie deelgeneem. Die tema was “University mission and action on climate change". Die konferensie was  bykomend tot die Verenigde Nasies se twee week lange konferensie oor klimaatsverandering wat more ten einde loop.

Die Adjunkgeneraaldirekteur van die Chinese Ministerie van Ekologie en Omgewing, SUN Zhen, het in sy openingstoespraak by die geleentheid gesê hy wens dat GAUC 'n belangriker rol sal speel om oplossings vir die uitdagings van klimaatsverandering te vind.

Prof Guy Midgley van die US het in sy aanbieding by die konferensie oor Suid-Afrika se lae-koolstof-transformasie gepraat. Midgley word internasionaal as 'n kundige op die gebied van biodiversiteit en globale veranderingswetenskap erken. Sy belangrikste navorsingbelangstellings is plante-, water- en koolstofverwantskappe – veral fotosintese hoërorde-reaksies op verhoogde koolsuurgas (CO2) en klimaatsverandering. Hy het in 2010 'n sintetiese modelleringsraamwerk en werktuig (BIOMOVE) help ontwikkel en gepubliseer om veranderinge in bevolkings- en geografiese reik vas te stel. Dit is suksesvol in Kalifornië aangewend. Hy het al bygedra tot en verskeie beleidsverwante regeringsverslae gelei en het internasionaal saamgewerk aan globale veranderingsnavorsingstemas in Chili, Australië, die VSA, die VK, Duitsland, Frankryk, Botswana en Namibië.

 

Prof He Jiankun van die Tsinghua-universiteit, het by die konferensie in Kaapstad dit uitgelig dat ons nou moet aksie neem en dat hierdie aksies absoluut internasionaal moet wees en dat universiteite deel moet wees daarvan.

​GAUC het vroeër vanjaar by die jaarlikse vergadering van die Wêreld-Ekonomiese Forum in Davos, Switserland, tot stand gekom. Die alliansie beoog om saam te werk aan die bevordering van maatreëls wat die Verenigde Nasies (VN) se konvensies oor klimaatsverandering en die doelwitte vir volhoubare ontwikkeling ondersteun. Die stigterslede is die Australiese Nasionale Universiteit; die Universiteit van Kalifornië, Berkeley; die Universiteit van Cambridge; Imperial College, Londen; die Londense Skool vir Ekonomie en Politieke Wetenskap; die Massachusetts Instituut vir Tegnologie; die Universiteit van Tokio en Tsinghua-universiteit in China. Die vier bykomende lede wat genooi is om deel te word van GAUC, was die Universiteit Stellenbosch, die Federale Universiteit van Rio de Janeiro, die Indiese Instituut vir Wetenskap en Sciences Po – hierdie 12 universiteite vorm nou GAUC.

Die alliansie se doelwit is om oplossings vir klimaatsverandering deur navorsing, onderwys en openbare uitreikaksies te bevorder, en om in vennootskap met nywerhede en nie-winsgewende en regeringsorganisasies die oplossings op van 'n plaaslike tot 'n internasionale skaal vinnig te implementeer. GAUC sal hierdie doelwit nastreef deur uitruilooreenkomste en deur samewerking tussen liduniversiteite te bevorder, asook deur sy leiersrol in die wêreldwye hoëronderwyssektor se pogings om klimaatsverandering te bekamp.

 

Prof Hester Klopper, Viserektor: Strategie en Internasionalisasie, wat die Universiteit Stellenbosch by GAUC se stigtingsvergadering verteenwoordig het, sê die Universiteit beskik oor die kennis en kundigheid wat oor veelvuldige dissiplines strek. Die US se akademiese werk oor klimaat en volhoubaarheid, asook sy Groen Kampus-inisiatiewe, is volgens haar 'n groot aanwins vir die alliansie.

 

 

 


​