Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
FGGW lewer eerste PhD in Ortopediese Chirurgie
Outeur: Sue Segar
Gepubliseer: 11/12/2019

Dit was 'n geskiedkundige oomblik hierdie jaar toe dr Reggie King die eerste student geword het aan die FGGW om 'n PhD in Ortopediese Chirurgie te ontvang.

King (39) – 'n praktiserende ortopediese chirurg in private praktyk by die Spine-sentrum, het gesê dat hy trots was op sy prestasie. "Dit was 'n lang pad tot hier en ek is werklik gelukkig dat ek dit suksesvol kon voltooi," het hy gesê.

“Vele uitmuntende ortopediese chirurge het al by Stellenbosch Universiteit opleiding ontvang – en ek is trots daarop om die eerste doktorsgraad te ontvang. Baie mense was betrokke daarby om dit te fasiliteer en ek wil in die besonder die hoof van ons departement, prof Jacques du Toit, bedank, wat die visie gehad het om 'n fasiliterende navorsingsomgewing te skep.  My studieleier, prof Rob Lamberts, was instrumenteel daarin om hierdie graad moontlik te maak. “Hierdie graad het soveel leiding geverg. Dit is min of meer onmoontlik om dit op jou eie te doen."

King se PhD tesis het die volgende titel gehad: The management of clavicle shaft fractures - evaluating the ability of a novel locked intramedullary device to achieve union and restore function of the shoulder.

King, wat op 'n plaas naby Riebeeck Kasteel woon, waar hy deeltyds met koejawels boer, wou altyd spesialiseer in ortopediese chirurgie. “Daar was verskeie individue wat gehelp het om my loopbaan te vorm. Ek was gelukkig genoeg om opleiding te kon ontvang by 'n uitsonderlike opleidingsfasiliteit waar ek leiding kon ontvang van hoogs gespesialiseerde ortopediese chirurge". In sy private praktyk fokus hy op rug-chirurgie, en die bestuur van nek- en rug-patologie. Hy doen operasies by die Mediclinic-hospitaal en by die Kuilsrivier Netcare-hospitaal.

King het gesê dat toe hy met sy spesialis-opleiding begin het, daar nie veel van 'n navorsingskultuur in die departement bestaan het nie. "Maar sedertdien is baie werk gedoen om hoë-gehalte navorsing te fasiliteer."

King se studieleier, professor Rob Lamberts, Hoof van Navorsing en Akademiese Beplanning in die Afdeling van Ortopediese Chirurgie, was ook verheug deur die prestasie.

“As 'n studieleier, was dit 'n voorreg om met dr King te kon saamwerk en om geskiedenis te kon maak by die Universiteit Stellenbosch. Hierdie PhD is 'n absolute hoogtepunt," het hy gesê.

“Interessant genoeg, is daar slegs vyf ortopediese chirurge in Suid-Afrika met 'n PhD – so dit is werklik uniek," het hy gesê.

“Ek het daarin geslaag om 'n sterk navorsingskultuur op te bou by die Afdeling Ortopediese Chirurgie, wat hierdie jaar meer as 20 portuur-beoordeelde artikels laat publiseer het. Voorheen was daar maar gemiddeld een portuurbeoordeelde publikasie per jaar. Hierdie eerste PhD deur dr King, sowel as die inhandiging van die tweede PhD deur prof J du Toit (Hoof van die Departement), is bewys daarvan dat ons daarin geslaag het om 'n hoë-kwaliteit navorsingskultuur in hierdie Departement te vestig."

King, wat getroud is met 'n huisartskundige, en twee dogters het van onderskeidelik vier en twee jaar oud, het gesê dat hy sal voortgaan om in sy baie besige private praktyk te werk, maar "ek hou ook baie van akademiese geneeskunde, en sal graag betrokke wil bly in die departement om leiding te gee aan ander ortopediese navorsers en studente. Ons departement is werklik goed geposisioneer om 'n sentrum van uitmuntendheid te word wat op die wêreldverhoog kan meeding." 

Onderskrif: Prof Rob Lamberts en dr Reggie King.

Foto-erkenning: Stefan Els