Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Rekord aantal kwalifikasies by US se Desember 2019-gradeplegtighede toegeken
Outeur: Corporate Communication
Gepubliseer: 05/12/2019

​Die bekroonde Suid-Afrikaanse akteur, regisseur en dramaturg John Kani word vanjaar met 'n eredoktorsgraad by een van die Universiteit Stellenbosch se Desember 2019-gradeplegtighede vereer.

Kani ontvang die graad Doktor in die Wysbegeerte (DPhil), honoris causa, vir sy uitlewing van uitnemendheid in sy 50 jaar lange loopbaan in die uitvoerende kunste en as dramaturg, vir sy onwrikbare toewyding om te verseker dat jongmense toegang tot die uitvoerende kunste het en vir sy gebruik van die kunste as 'n instrument vir onderwys, gemeenskapsontwikkeling en om die onderdruktes hoorbaar te maak.

Kani het al verskeie toneelstukke geskryf en ook in talle gespeel, met van sy mees onlangse internasionale suksesse rolle in die rolprente Black Panther (2018), The Lion King (2019) en Murder Mystery (2019) insluit.

Die Universiteit ken vanjaar weer 'n rekord aantal kwalifikasies​ (grade, diplomas en sertifikate) toe by sy Desember 2019-gradeplegtighede – 5 853 in vergelyking met 5 769 in Desember 2018. Daar is ook 'n toename in die aantal doktorsgrade – 154 in vergelyking met Desember 2018 se 149 – wat vanjaar toegeken word.

Die Universiteit sal ook by die plegtigheide erkenning aan van sy voorste akademici en ander personeellede gee met die toekenning van die US Kanselierstoekennings.

Nege plegtighede word van Maandag, 9 tot Vrydag, 13 Desember 2019 in die Coetzenburg-sentrum op Stellenbosch gehou. Kani sal sy eredoktorsgraad op Vrydag, 13 Desember om 10:00 ontvang.

Die program vir die Desember-gradeplegtighede is soos volg:

  • Maandag, 9 Desember 2019 (10:00): Fakulteite Teologie end Ingenieurswese
  • Maandag, 9 Desember 2019 (17:30): Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe (Groep A)
  • Dinsdag, 10 Desember 2019 (10:00): Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (Alle programme behalwe NG Diplomas)
  • Dinsdag, 10 Desember 2019 (17:30): Fakulteite Ekonomiese en Bestuurswetenskappe (Groep B)
    Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (slegs NG Diplomas)
  • Woensdag, 11 Desember 2019 (10:00): Fakulteit Natuurwetenskappe
  • Woensdag, 11 Desember 2019 (17:30): Fakulteite Opvoedkunde en Krygskunde
  • Donderdag, 12 Desember 2019 (10:00): Fakulteite Lettere en Sosiale Wetenskappe (Groep A), AgriWetenskappe en Regsgeleerdheid (met uitsondering van BA (Regsgeleerdheid), BCom (Regsgeleerdheid) en BRekLLB)
  • Donderdag, 12 Desember 2019 (17:30): Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe (Groep C)
  • Vrydag, 13 Desember 2019 (10:00): Fakulteite Lettere en Sosiale Wetenskappe (Groep B)

Regstreekse stroomuitsending: Al die gradeplegtighede kan regstreeks op die internet gevolg word by www.sun.ac.za/streaming.

MEER OOR BONISILE JOHN KANI

John Kani se toewyding tot die gebruik van die uitvoerende kunste as ʼn instrument vir onderwys, gemeenskap en uitdrukking vir die onderdruktes vorm die kern ʼn gevierde 50 jaar lange loopbaan.

Bonisile John Kani is op 30 August 1943 in New Brighton, Port Elizabeth, gebore. Sy band met drama, wat reeds op skool begin, duur voort ná matriek.

As ʼn jong swart man wat in apartheid-Suid-Afrika grootword, was sy eerste begeerte altyd om deel van die vryheidstryd te wees. Sy behoefte om die verdruktes se stories te vertel en die uitwerking daarvan op mense te sien, lei tot die ontwikkeling van sy grondige oortuiging dat die teater ʼn magtige instrument vir verandering is en dit word uiteindelik die katalisator vir al sy werk, toneelspel, regie en skryfwerk.

In 1965 sluit hy by die Serpent Players aan en hier begin sy band en vriendskap met Winston Ntshona en Atholl Fugard. In 1972 ontwikkel Kani, Fugard and Ntshona die invloedryke Sizwe Banzi is Dead en in 1973 skep en vervaardig hulle The Island. Hulle voer albei op plaaslike en internasionale verhoë op en in 1974 wen Kani en Ntshona albei die gesogte Tony-toekenning vir beste akteur in die twee toneelstukke.

In 1977 stig Kani en Barney Simon die Markteater, wat in gelyke mate op teaterwerk en sosiale opheffing fokus. In 1990 stig hulle die Markteater Laboratorium, wat aan jongmense uit gemarginaliseerde omstandighede die geleentheid gee om die uitvoerende kunste te bestudeer.

In 1982 skud Kani en Sandra Prinsloo die fondasies van die wit Suid-Afrikaanse samelewing in die hoofrolle in Strindberg se Miss Julie by die Baxterteater. In 1987 word hy ook die eerste swart Suid-Afrikaner om Othello in Suid-Afrika te vertolk.

Kani skryf drie toneelstukke: Nothing but the Truth (2002), Missing (2014) en Kunene and the King (2018). Al drie toneelstukke handel oor ingewikkelde Suid-Afrikaanse temas van vergifnis, ballingskap, afsondering, identiteit en verlies. Hy speel in die hoofrol in al drie toneelstukke, onder meer saam met sir Antony Sher in Kunene and the King.

Kani het reeds vier eregrade ontvang en sy lang lys toekennings sluit die Hiroshima-prys vir vrede van die Sweedse Akademie, die Olive Schreiner-prys, die Suid-Afrikaanse Film- en Televisie-toekenning vir lewenslange bydrae, die kykNET Fiesta-toekenning vir lewenslange bydrae en die Naledi World Impact Theatre Award in.

BELANGRIKE NOTAS AAN DIE MEDIA

  • Foto's en video: As gevolg van sekuriteit- en ander maatreëls, word die media vriendelik versoek om aan te dui of hulle een of meer van die plegtighede gaan bywoon. Let asb. daarop dat daar baie min spasie op die verhoog is en dat foto- en videografie aan ʼn privaat diensverskaffer uitgekontrakteer is. Enige versoeke vir foto's en videografie in hierdie verband moet asb. so vroeg moontlik aan die Mediakantoor by tel 021 808 4921 of media@sun.ac.za gerig word.
  • Die Universiteit kan ongelukkig nie die ontvanger van die eregraad se beskikbaarheid vir onderhoude waarborg nie, maar skakel asb. so vinnig moontlik met die Mediakantoor.