Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Kommunikasie uit die Raad (vergadering van 2 Desember 2019)
Outeur: Korporatiewe Kommunikasie / Corporate Communication
Gepubliseer: 04/12/2019

Die Raad van die Universiteit Stellenbosch (US) het op Maandag 2 Desember sy vierde en laaste geskeduleerde vergadering van 'n gebeurtenisvolle 2019 – die eerste jaar van ons tweede eeu as openbare universiteit – gehou.

Die Raad het die Fourie-verslag aanvaar en die Konstitusionele Hof se uitspraak oor die US Taalbeleid verwelkom. Ons het ook ʼn inskrywing in ons dagboeke gemaak dat oudregter Edwin Cameron op 8 April 2020 as die Universiteit se 15de Kanselier ingehuldig word. Sy termyn neem op 1 Januarie 'n aanvang.

Voorts het die Raad die Universiteit se begroting vir 2020 goedgekeur, wat aanpassings in personeelvergoeding en studentegeld insluit. Daarbenewens het ons goedkeuring daarvoor verleen dat die US, as instelling, die internasionale gedragskode vir navorsing in omgewins wat arm aan hulpbronne is (www.globalcodeofconduct.org) amptelik aanvaar.

Die Rektor, prof Wim de Villiers, het sy gebruiklike kwartaallikse bestuursverslag gelewer (klik hier) en die Viserektor: Leer en Onderrig, prof Arnold Schoonwinkel, was aan die beurt om oor die afgelope jaar se bedrywighede in sy verantwoordelikheidsentrum verslag te doen.

Meer hieroor en oor ander besluite en besprekingspunte by die vergadering volg hieronder. Sterkte met die laaste verpligtinge van die jaar. Geniet die rustyd wat voorlê, en kom veilig terug vir 2020!

Vriendelike groete

George Steyn
Voorsitter: US Raad

Konstitusionele Hof oor US Taalbeleid

Die Raad het die Konstitusionele Hof se eenparige uitspraak op 10 Oktober 2019 dat die US se Taalbeleid “grondwetlik geregverdig" is, verwelkom. Die hof het ook bevind dat die proses wat die Universiteit gevolg het om die Taalbeleid te aanvaar deeglik, omvattend en inklusief was, en dat behoorlike oorlegpleging plaasgevind het.

Regter Burton Fourie se verslag

Die Raad het kennis geneem van die besluit deur sy Uitvoerende Komitee (UK(R)) op 31 Oktober 2019 om ʼn onafhanklike ondersoek van stapel te stuur ná bewerings dat die Rektor met bogenoemde taalhofsaak probeer inmeng het.

Die ondersoek is deur afgetrede regter Burton Fourie behartig en die Raad het sy verslag ontvang, bespreek en aanvaar. Hierin word bevind dat “daar geen bewyse was ter ondersteuning van 'n bevinding dat die optrede van die Rektor rakende die nominasie van oudregter [Edwin] Cameron vir die amp van Kanselier van die Universiteit Stellenbosch 'n ernstige oortreding van die reg, of ernstige wangedrag uitgemaak het nie".

Die Raad het besluit dat regter Fourie se verslag volledig bekend gemaak moet word (klik hier), dat geen verdere stappe gedoen sal word rakende die Rektor se kontak met oudregter Cameron om hom te vra of hy homself as 'n kandidaat vir die US-kanselierskap beskikbaar sal stel nie, en dat die saak nou as afgehandel beskou word.

Begroting 2020

Die Raad het op aanbeveling van die UK(R) die Universiteit se geïntegreerde begroting vir 2020 en finansiële beplanning vir die tydperk 2021 tot 2025 goedgekeur. Prof Stan du Plessis, Bedryfshoof, het verslag gedoen dat die begrotingsproses deelnemend was en dat die begrotingsmodel voorspelbaarheid en deursigtigheid teweegbring.

Die hooftrekke van aanstaande jaar se begroting is soos volg:

  • Studiegeld styg met 6,2% (wat binne die perk van 6-8% van die “maatskaplike verdrag" tussen Universiteite Suid-Afrika (USAf) en die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding (DHOO) val, waarvan bestuurskole uitgesluit is). Daar is voorsiening gemaak vir gedifferensieerde aanpassings met betrekking tot kursusse waarvan die prys te laag was vergeleke met soortgelyke aanbiedinge by ander universiteite.
  • Studentehuisvestingsgeld styg met 8% (in die lig van die hoër kostefaktore wat met studentebehuising gepaardgaan).
  • Personeelvergoeding styg op aanbeveling van die Raad se Vergoedingskomitee met 5,5% vir diegene wat in die beoordelingsiklus van 2019 ʼn prestasiepunt van 3 of meer behaal het. (Dié voorgestelde verhoging is hoër as inflasie, wat in Oktober op 3,7% gestaan het.)
  • Inetkey val weg. Internetgebruikers by die US moet tans deur hierdie meganisme inteken sodat hulle op grond van werklike gebruik vir internettoegang kan betaal. Totdat nuwe toegangsmeganismes ingestel is, sal gebruikers steeds moet inteken, maar vanaf 2020 sal geen koste per gebruik meer verhaal word nie. Fakulteite en steundiensteafdelings het reeds begroot vir die internetkoste van personeel, terwyl internetkoste vir studente uit die institusionele blok van die hoofbegroting verhaal sal word.

Die hoofbegroting beloop R3,1 miljard, waarvan 49,5% aan fakulteite gaan, 27,3% aan die institusionele komponent, 20,6% aan professionele administratiewe steundienste (PASD), en 2,6% aan strategiese inisiatiewe.

Die US se totale geïntegreerde begroting vir 2020 beloop byna R6,7 miljard. Dit sluit ook kontraknavorsing, skenkings en kommersiële aktiwiteite in, waaruit die Universiteit die meeste van sy totale inkomste (47,3%) verdien. Die US se staatsubsidie het tot 27,4% gedaal en studie- en huisvestingsgeld beloop saam 22,6%. Ander inkomste beloop 2,6%.

Die US se totale bates staan op R15,7 miljard, en huidige kapitaalprojekte (nuwe bouwerk en instandhouding van huidige fasiliteite) beloop byna R2,2 miljard.

Die Raad het met waardering kennis geneem dat die vlak van staatsbesteding aan hoër onderwys nou 1% van bruto binnelandse produk (BBP) oorskry. Nietemin is kommer uitgespreek oor die volhoubaarheid van die uitgebreide NSFAS-beursskema en die swak fiskale stand van die regering, soos uit die onlangse mediumtermynbegrotingsverklaring blyk. Voorts hou die moontlike regulering van studentegeld ʼn risiko vir die hoëronderwyssektor in.

Die goedkeuring van die begroting is onderworpe aan finale bevestiging van die staatsubsidie vir 2020. Derhalwe het die Raad oudergewoonte ingestem dat die Rektor en die voorsitter en ondervoorsitter van die Raad enige begrotingswysigings goedkeur wat moontlik uit die bevestiging van die staatsubsidie kan spruit, ná oorlegpleging met die voorsitter van die Oudit- en Risikokomitee. Indien die wysigings beduidend is, moet 'n Raadsvergadering egter belê word.

Internasionale gedragskode vir navorsing in omgewings wat arm aan​ hulpbronne is

Die Raad het goedkeuring daarvoor verleen dat die US die internasionale gedragskode vir navorsing in omgewins wat arm aan hulpbronne is (www.globalcodeofconduct.org) amptelik aanvaar. Dít was op aanbeveling van die Senaat, wat op sy beurt op 22 November 'n aanbeveling met dié strekking van twee Senaatskomitees – vir Navorsing en vir Navorsingsetiek – aanvaar het. Die kode, wat deur die hele US nagevolg sal word, dien as riglyn vir billike en regverdige verhoudings tussen navorsers en die gemeenskappe – veral arm en gemarginaliseerde groepe – waarin hulle navorsing doen, en berus op billikheid, respek, deernis en eerlikheid.

Dit volg ná die publikasie van 'n om​strede artikel oor ras en kognisie deur US-navorsers in Mei vanjaar. Prof Eugene Cloete, Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studie, het aan die Raad verslag gedoen dat die omv​​attende ondersoek na verskeie aspekte van daardie artikel afgehandel is. Die inligting sal so gou moontlik met die betrokke rolspelers bespreek word.

Verslag van die Viserektor: Leer en Onderrig

By hierdie Raadsvergadering het die Viserektor: Leer en Onderrig (VR:L&O), prof Arnold Schoonwin​​kel, 'n beurt ontvang om oor die afgelope jaar se bedrywighede in sy verantwoorde​likheidsentrum verslag te doen. Klik hier ​vir sy volledige verslag (wat ook op 22 November voor die Senaat gedien het) en hier vir ʼn pdf-weergawe van sy PowerPoint-aanbieding.

Prof Schoonwinkel het uitgewys dat volvoering van die US se voorneme om Afrika se voorste navorsingsintensiewe universiteit te word met die toelating van diverse talentvolle studente en onderrig van gehalte begin.

Hy het ook aangedui al ses die se kern strategiese temas word in sy verantwoordelikheidsentrum bevorder. Hoogtepunte sluit die volgende in:

ʼn Florerende US

  • Die US het vanjaar 31 681 studente ingeneem (amptelike syfer in Junie) – twee derdes op voorgraadse vlak en een derde nagraads. Die gewildste studierigting is die natuurwetenskappe in die breë (44,6%), gevolg deur bestuurswetenskappe (29,3%) en humaniora (26,1%).
  • Inkomste uit leer en onderrig maak meer as 75% van die US se hoofbegroting uit.

Transformerende studente-ervaring

  • Die US se studentekorps word al hoe meer divers. In 2012 het 26,8% van ons voorgraadse studente en 50,2% van ons nagraadse studente uit die bruin, swart, Indiër- en Asiër-bevolkingsgroepe gekom. Vanjaar staan dié syfers op onderskeidelik 38,7% en 53,7%. Aansoeke deur swart studente toon die skerpste styging – ʼn toename van 43% die afgelope vier jaar.
  • Die US is daartoe verbind om onbillike diskriminasie en enige vorm van teistering en geweld op sy kampusse uit te roei. Ses gesamentlike werkgroepe word tans op die been gebring om geslagsgebaseerde geweld te bestry.

Doelgerigte vennootskappe en inklusiewe netwerke

  • Die telematikaskoolprojek, wat die US in samewerking met die Wes-Kaapse onderwysdepartement aanbied, het vanjaar meer as 3 000 leerders in 1 228 skole bereik met aanvullende kurrikulumsteun in nege vakke. Dít het die matriekslaagsyfer in die betrokke skole met 11,83% verbeter.

Genetwerkte en samewerkende onderrig en leer

  • Die US se projek vir IKT in leer en onderrig, wat R358 miljoen bedra, is die afgelope vyf jaar met welslae uitgevoer. Twee van die vele projekhoogtepunte sluit in die lê van alle beplande veseloptiese kabels en die installering van WiFi in die meeste lesinglokale.
  • Die US fokus nou op die uitbouing van hibriede leer, wat aanlyn komponente met tradisionele kontaklesings kombineer. Sowat 11% van die Universiteit se studente word reeds op dié manier bedien en die doelwit is om dit teen 2025 tot 25% te verhoog.

Navorsing vir impak

  • Die jaarlikse US-konferensie oor die Akademieskap van Onderrig en Leer (AvOL) bied dosente die geleentheid om hulle navorsing aan te bied en ontluikende vakkundiges te inspireer. By vanjaar se geleentheid was daar 81 aanbiedings en sowat 313 deelnemers.

Voorkeurwerkgewer

  • Deur middel van talle inisiatiewe kry US-akademici die geleentheid om hulle as opvoeders uit te leef, en ontvang dosente erkenning.

Taalkomitee van die Raad

Die Raad het die vierde verslag vir die jaar van sy Taalkomitee ontvang. Die komitee het kennis geneem van die uitslag van die taalopname wat in September 2019 onder US-studente en ook vir die eerste keer onder personeellede gedoen is. Vantevore is twee opnames in 2017 onder studente gedoen.

Die meeste van die studente wat deelgeneem het, het hul huistaal as Afrikaans aangedui (52%), gevolg deur Engels (35%). Nietemin het die studente ʼn voorkeur vir Engelse lesings (66%), tutoriale (63%) en leermateriaal (71%) uitgespreek – in ál drie gevalle hoër as in 2017. Die tweede sterkste voorkeur was vir die gebruik van sowel Afrikaans as Engels in die leersituasie. Die meeste studente het ingesluit gevoel by kommunikasie in die leef-, ko-kurrikulêre en administratiewe omgewings.

Die personeelopname dui op 'n hoë vlak van voldoening aan die implementering van die drie onderrigtaalopsies – parallel-, dubbel- en enkelmedium. Die komitee het fakulteite en steundienste-omgewings vir hulle voortdurende besinning oor die implementering van die Taalbeleid geprys.

Kapitaalprojekte

Kapitaalprojekte aan die US (nuwe bouwerk en instandhouding van huidige fasiliteite) beloop byna R2,2 miljard. Die Rektor het oor twee van die grootste huidige projekte verslag gedoen.

Die Jan Mouton Leersentrum langs die Neelsie sal teen die middel van 2020 voltooi wees. Hierdie drieverdiepinggebou met verskeie lesinglokale en veeldoelige ruimtes word met gevorderde tegnologie toegerus om met die jongste tendense tred te hou.

Bouwerk aan 'n nuwe Biomediese Navorsingsinstituut by ons Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe vorder ook fluks. By voltooiing in 2022 sal dit een van die innoverendste en mees gevorderde fasiliteite in sy soort in Afrika wees.

NNS-graderings

Die US het nou 473 akademici wat oor ʼn gradering van die Nasionale Navorsingstigting (NNS) beskik – 92% meer as tien jaar gelede. Voorheen het 'n gradering navorsers toegang tot aansporingsfinansiering gegee. Tog moes die NNS in 2018 weens begrotingsdruk hierdie finansiering aansienlik verminder. Nietemin het die US se Afdeling Navorsingsontwikkeling in die daaropvolgende rondte graderingsaansoeke nie 'n noemenswaardige daling in die getal aansoekers opgemerk nie. Dít dui daarop dat die graderingsproses as 'n maatstaf vir die gehalte van navorsing beskou word, en nie bloot 'n manier om finansiering te bekom nie.

Stellenbosch Netwerk bekend gestel

Die Rektor het verslag gedoen dat Innovus in November gasheer was vir die amptelike bekendstelling van die Stellenbosch Netwerk (SN). Die US is een van die stigterslede van die netwerk, synde 'n platform wat hom vir inklusiewe ekonomiese groei op en om Stellenbosch beywer. Die netwerk sal oor dissiplines en sektore heen werk om plaaslike ondernemings, akademici, entrepreneurs, beleggers, navorsers, studente, plaaslike multinasionale maatskappye sowel as die munisipaliteit byeen te bring om Stellenbosch as 'n kennisstreek-ekonomie te vestig.

Institusionele Plan 2020–2025

'n Bywerking van die US se Institusionele Plan (IP) moet teen 15 Desember elke jaar by die DHOO ingedien word. Die IP dek 'n aanlopende tydperk van ses jaar – in dié geval 2020–2025. Prof Hester Klopper, Viserektor: Strategie en Internasionalisering, het vanjaar se bywerking Maandag voorgelê aan die Raad, wat dit goedgekeur het.

Die bygewerkte IP strook met die US se nuwe Visie 2040 en Strategiese Raamwerk 2019–2024 sowel as die Strategiese Plan 2019–2024 wat daarmee saamhang. Die begrotingsmodel is vereenvoudig en die US se strategiese bestuursaanwysers is aangepas.

Die samestelling van die IP is aansienlik vergemaklik deurdat verantwoordelikheidsentrums en fakulteite se omgewingsplanne, die nuwe strategiese raamwerk, die strategiese plan en die IP nou sterker met mekaar verband hou. Die IP is van meer as 1 000 bladsye verlede jaar tot slegs 250 vanjaar verkort.

Personalia

Advokaat Jean Meiring is aangewys as lid van die senior aanstellingskomitee vir ʼn nuwe Viserektor: Leer en Onderrig in die plek van prof Arnold Schoonwinkel, wat op 31 Desember 2020 aftree. Die proses om sy opvolger aan te wys is aangevoor. Mnr Ainsley Moos is die plaasvervanger vir advokaat Meiring indien dit sou nodig wees. Mnr George Steyn is ook beskikbaar om in die komitee te dien en prof Wim de Villiers sal as voorsitter optree.

Me Gwen Ngwenya is as lid van die Sosiale en Besigheidsetiekkomitee van die Raad aangewys.

Die Raad het afskeid geneem van prof Usuf Chikte, en hom vir sy diens bedank. Hy is deur die Senaat verkies en sy tweede termyn verstryk aan die einde van die jaar.

Volgende vergadering

Die volgende Raadsvergadering is vir Maandag 6 April 2020 belê.