Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Laat die US Kommunikasielaboratorium jou leer beter kommunikeer
Outeur: Corporate Communication/Korporatiewe Kommunikasie [Rozanne Engel]
Gepubliseer: 25/11/2019

Kommunikasie is ʼn belangrike deel van ons daaglikse lewens – of dit nou is om ʼn e-pos of teksboodskap te stuur, ʼn belangrike voorlegging aan te bied, ʼn verslag te skryf of sommer net ʼn lekker gesprek te geniet. Die kennis om doeltreffend te kommunikeer in ʼn wêreld wat deur tegnologie gedryf word, raak al hoe belangriker.

By die Universiteit Stellenbosch (US) is die Kommunikasielab, ook bekend as die Comms Lab, die ideale plek om bestaande kommunikasievaardighede te slyp of iets nuuts te leer.

Volgens Michelle Pieters, koördineerder by Comms Lab, het baie mense “ʼn behoefte om hul vaardigheidsvlakke te lig". Sy vertel dat sy al ʼn geweldige toename in deelnemergetalle gesien het sedert die Comms Lab in 2017 begin het.

Die Comms Lab, wat deel vorm van die US se Taalsentrum, bied gespesialiseerde kommunikasie-kortkursusse vir verskillende US-omgewings en korporatiewe kliënte aan. Deelnemers ontvang ʼn bevoegdheidsertifikaat as die kursus suksesvol voltooi is. Die kursusse is prakties en interaktief en kan ook pasgemaak word om aan die kliënt se spesifieke behoeftes te voldoen.

COMM 3.jpg COMM 2.jpg

Pieters sê dat sy nie deelnemers wat vir ʼn kursus kom as eenmalige kontakte beskou nie. Dis eerder die begin van “ʼn langtermynverhouding met die Lab." Sy voeg by dat “ons gedurig ons inhoud en gehalte verbeter. Ons wil baie graag meer mense help."

Die Comms Lab se kursusse word almal in Engels aangebied en sluit in:

  • PR like a pro: Writing for the media wat deelnemers met die jongste tegnieke toerus om doeltreffend en met vertroue op verskillende sosialemediaplatforms te skryf en om pers- of gedruktemediaverklarings, bemarkingsmateriaal, publikasies en blogs te skep.
  • Communication par excellence is 'n intreevlakskryfkursus wat gemik is op mense wie se eerstetaal nie Engels is nie, maar wat in ʼn werksomgewing funksioneer waar Engels gebruik word.
  • Communicative English made easy is ʼn kursus gemik op niemoedertaalsprekers van Engels wat die fynere vaardighede en selfvertroue wil aanleer om in Engels te kommunikeer.
  • Crafting confident presentations help deelnemers om treffende voorleggings te ontwikkel en aan te bied sodat hulle ʼn duidelike boodskap met selfvertroue kan oordra.
  • Cutting-edge business report writing is ʼn kursus wat deelnemers met vaardighede toerus om voortreflike verslae te skryf.
  • Effective office communication and documentation help deelnemers om teks en e-posse te skryf en professionele agendas en notules saam te stel.
  • Form design for business is ʼn praktiese en interaktiewe kursus waar werklike vorms ontleed, getoets en verbeter word op grond van die toetsresultate.
  • Communicate as a professional, ʼn eendagslypskool wat ʼn inleiding bied tot die kommunikasiekennis en -vaardighede wat beroepslui nodig het om verskillende kommunikatiewe take suksesvol af te handel.
PROF 3.jpg PROF 2.jpg

Die Kommunikasielab bied spesifieke kursusse aan vir diegene wat in verskillende sake-, administratiewe en korporatiewe omgewings werk. Kliënte tot datum sluit Fruit and Veg City Holdings, die Stad Kaapstad se Direktoraat vir Korporatiewe Dienste, die Wine Industry Ethical Trade Association, Mediclinic Corporate, Maties Gimnasium en die US-biblioteek se personeel in – om maar net ʼn paar te noem.

Vir meer inligting oor die Comms Lab se kursusse, kontak Michelle Pieters by 021 808 2812 of michellep@sun.ac.za en besoek gerus https://shortcourses.sun.ac.za/courses/c-12.html.​