Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Njabulo "opgewonde" daaroor om studente te help
Outeur: Sue Segar
Gepubliseer: 05/11/2019

Toe Njabulo Maphumulo in Julie in sy pos begin het as die nuwe koördineerder van die groep van ses koshuise by die Tygerberg-kampus, is hy met ope arms verwelkom deur al die koshuishoofde.

"Hule is opgewonde om iemand te hê wat die komitee kan fasiliteer. Op die oomblik volg die verskeie koshuise elkeen hulle eie pad, en hulle wil graag 'n gemeenskapsgevoel daarstel," het Njabulo gesê.

Vandat hy in die pos begin het, het hy tyd deurgebring om sy nuwe omgewing te leer ken en om te luister na die idees en die uitdagings wat die mense het met wie hy sal saamwerk.

Njabulo het geen geringe taak wat voorlê nie. Buiten die dag-tot-dag administrasie van die ses koshuise, sal hy moet skakel met koshuispersoneel en studente-ondersteuning en ook dissiplinêre prosesse fasiliteer. Hy sal ook groot vraagstukke moet konfronteer wat die studente raak, soos die veiligheid van studente, geestesgesondheid, voedselsekuriteit en verskeie ander sake. Sterk kommunikasie met studenteleiers sal deurslaggewend wees in hierdie proses.

"Vir my gaan dit alles oor spanwerk en gedeelde verantwoordelikhede. Ons moet almal saamwerk."

Buiten al hierdie verantwoordelikhede wat die pos sal meebring, sal Njabulo – 'n "lewenslange student" – steeds studeer vir sy Meestersgraad in Publieke Administrasie by UWK se School of Government.

Njabulo het in Durban grootgeword, en in 2008 na UWK geskuif. Hy het sy Honneursgraad in Publieke Administrasie in 2017 voltooi en beoog om sy Meestersgraad in 2020 te voltooi. Hy het ook verskeie sertifikate in entrepeneurskap, demokrasie en burgerskap verwerf.

Hy het begin om sy vaardighede te slyp in kampus-ondersteuning in 2010 toe hy aangestel is as Administratiewe Studente-Assistent: Studente-Ontwikkeling en Ondersteuning in UWK se Residensiële- en Spysenieringsdienste.

In 2011, het hy die Administratiewe Beampte geword in die Kantoor vir Koshuis-lewe by UWK, wat behels het dat hy behulpsaam was met administrasie en ander aspekte van koshuis-lewe. In 2014, het hy gewerk as die waarnemende Koördineerder van Studente-Leierskap by UWK, wat behels het dat hy in verskeie programme moes saamwerk met studenteleiers. Dit het verkiesingsprosesse ingesluit.

In 2019, het hy die Koördineerder geword van die Studente-Leierskapsondersteuningsprogram. In 2016, is hy aangestel as die Kort-Kursus Fasiliteerder: Demokrasie en Aktiewe Burgerskap by die Frederik van Zyl Slabbert Instituut vir Studente-Leierskap. Dit het die volgende behels: die fasilitering van 'n verskeidenheid klasse oor demokrasie, burgerskap en verantwoordbaarheid vir studente.

In sy nuwe rol, buiten die bestuur van die koshuishoofde en personeel in die kompleks, in noue samewerking met die studenteleierskap, is deel van sy taak ook finansiële bestuur, dissiplinêre sake en krisisbestuur.

Die rol van die koshuishoofde is om studente-ondersteuning en -ontwikkeling te bestuur om sodoende diversiteit, eenheid en transformasie te bevorder in die spesifieke koshuise.

Die Tygerberg-koshuishoofde-span is:

  • Meggan Ceylon – Besoekende Hoof van Ubuntu-huis
  • Angelo McKerry – Besoekende Hoof van PSO
  • Dr Derick van Vuuren – Hoof van Kerkenberg-huis
  • Dr Alwyn Louw – Hoof van Nkosi Johnson-huis
  • Louis Fincham – Hoof van Meerhoff-huis
  • Simthembile Xeketwana – Hoof van Francie van Zijl-huis

'n Hoofdeel van die verpligtinge van die pos is om met 'n plan vorendag te kom in verband met kultuurverandering in die koshuise – met die oog daarop om 'n gesonde, verenigde gemeenskap te ontwikkel. Dit sluit die integrasie van die PSO-studente in die groep koshuise in om sodoende by te dra tot hulle universiteitsondervinding. Hy sal ook verhoudings opbou tussen die onderskeie fakulteite en die groep studentekoshuise asook met mense en inrigtings buite die universiteits-opset.

Deel van sy taak behels ook die opbou van 'n akademiese leerkultuur binne die koshuis-opset, asook die opleiding van studente vir leierskapsposisies en die identifisering van studenteleiers.

"Dit sal 'n voltydse werk wees, reg binne die koshuis-opset, maar sal ook nou betrokke wees met studente-integrasie en ontwikkeling."

Njabulo sal gereeld vergader met studenteleiers en koshuishoofde en personeel om te bespreek wat werk en wat nie werk nie binne die koshuis-opset.

'n Prioriteit is om 'n platform te skep – en werkswinkels – vir studente om gesprekke te kan voer oor verskillende vraagstukke, soos diversiteit en geslagsgebaseerde geweld.

Njabulo het gesê dat onlangse vergaderings wat hy met belanghebbendes op die kampus gehad het, het die gapings en die behoeftes aangedui.

"Een van die grootste probleme waarmee koshuise worstel is transformasie. Die universiteit is meer as 'n eeu oud en het 'n paar tradisies volgehou wat dalk nie meer relevant is nie.

"Geestesgesondheid is ook een van die groot kwessies waaraan ons nog nie genoeg aandag geskenk het nie. Ons Sentrum vir Studente-berading en Ontwikkeling is altyd volbespreek. Studente het baie hooi op die vurk – akademie, sosiale en familie-kwessies, asook groepsdruk. Ons moet hulle ondersteun.

"'n Ander kwessie is voedselsekuriteit. Net omdat iemand 'n beurs het, beteken dit nie hulle het genoeg geld vir kos nie. Ons het programme – soos die Pantry Project – maar dis nodig dat ons hulle uitbrei."

Oor sekuriteit in die koshuise: “Dit is 'n gedeelde verantwoordelikheid onder die studente self, onder hulle leiers en die relevante personeellede. As ons 'n veiliger en meer werkbare omgewing wil skep, sal elkeen hulle rol moet speel. As die Groepshoof, het ek alreeds gesprekke begin met studente oor die bevordering van 'n veilige kampus en wat hulle rol daarin sou wees. Op hierdie stadium is veiligheid 'n prioriteit vir koshuise, en aksieplanne word tans in werking gestel."

Njabulo glo dat hy verskeie sterk punte het wat hom sal help om die taak te vermag: “Ek word in die oggend wakker en ek voel opgewonde daaroor om studente met hulle ontwikkeling te help. Hierdie werk behels 'n belegging in die gemeenskap. Ek dink dikwels daaraan dat 'die student van vandag gaan die dokter van môre wees'. Ons gemeenskap het dokters en verpleegsters nodig. Dit voel goed om daartoe by te dra.

Njabulo se belanstellings sluit staptogte en hardloop in en hy hou ook van die adrenalien van hoë-risiko sport.

Hy geniet dit ook om te lees, veral boeke oor dinge wat tans in die nuus is.


Onderskrif: Njabulo Maphumulo is die Koördineerder van Koshuishoofde by die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe.

Foto-erkenning: Wilma Stassen