Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
2019 AvOL-konferensie bevestig waarom onderrig saak maak
Outeur: Corporate Communication/Korporatiewe Kommunikasie [Rozanne Engel]
Gepubliseer: 04/11/2019


“Dit is ons eie konferensie – aangebied deur die Universiteit Stellenbosch vir die Universiteit Stellenbosch se personeel. Dit gaan alles daaroor om meer en meer uitnemend in ons onderrig, navorsing en praktyk te word op 'n manier wat leer en ook ons studente baat."

Dít was die boodskap van prof Arnold Schoonwinkel, die US se Viserektor vir Leer en Onderrig, Dinsdag (29 Oktober 2019) by die openingsgeleentheid van die 12de jaarlikse konferensie oor die Akademieskap van Onderrig en Leer (AvOL).

Schoonwinkel het beklemtoon hoe belangrik hierdie konferensie is om te help om verhoudinge en nuwe kundigheid by die Universiteit te bou.

Vakkundiges en dosente van verskeie fakulteite aan die US het by die konferensie, wat jaarliks deur die US se Sentrum vir Onderrig en Leer aangebied word, die geleentheid gekry om hul navorsing aan te bied, mekaar te onderrig en ontluikende vakkundiges te inspireer. Vanjaar se konferensie is op 29 en 30 Oktober 2019 by die Lord Charles Hotel, Somerset-Wes gehou. Die konferensie is voorafgegaan deur werksessies op 28 Oktober 2019.

Die doelwit van die sentrum is om professionele leergeleenthede vir akademiese personeel in fakulteite te skep en om denkleiers op die gebied van deelnemende, innoverende en akademiese onderrig en leer te wees.

Die AvOL-konferensie bied elke jaar aan akademici 'n platform waar hulle onderrig- en leerpraktyke en navorsing met mekaar kan deel en kan vier. Dit is ook daarop gemik om alle aspekte van onderrig en leer by die Universiteit in 'n oop, ondersteunende en intellektueelstimulerende atmosfeer aan te spreek.

Deelname aan die konferensie het sedert die ontstaan daarvan in 2007 eksponensieel gegroei tot 87 aanbiedinge en 300 geregistreerde konferensiegangers wat dit vanjaar bygewoon het.

Die hoofsprekers, dr Joy Mighty (professor en senior vakkundige vir Innovasie in Onderrig en Leer by die kantoor van die Hoof en Visepresident [Akademies], Carleton-universiteit) en prof Geo Quinot (professor: Departement Openbare Reg en direkteur: Eenheid vir Afrika-staatsverkrygingsreg aan die Fakulteit Regsgeleerdheid by die Universiteit Stellenbosch), het die gehoor met diepsinnige aanbiedings uitgedaag.

Dr Mighty het in haar toespraak by die openingsgeleentheid die dosente uitgedaag om baie goed na te dink oor hoekom hulle klasgee en het dit benadruk dat onderrig in ons samelewing saak maak om toekomstige geslagte te help. Sy glo “goeie onderwysers verstaan hoe hul leerders dink en redeneer", sodat hulle uit hul leerders se perspektief kan beplan en onderrig om die leermateriaal toeganklik en betekenisvol te maak.

Mighty het ook gesê goeie onderwysers moet 'n klimaat van omgee en vertroue bevorder en aanmoediging verskaf en duidelike verwagtinge en redelike doelwitte stel om leerders te help om sukses te behaal.

“Doeltreffende onderrig het ten doel om die samelewing op omvangryke maniere te verander. Onderrig staan sentraal in die akademiese doel van enige universiteit. Ons het 'n verantwoordelikheid om leeromgewings te skep waar studente kan floreer, om hulle aan te moedig om die beste te wees wat hulle kan wees en om hulle in staat te stel om te transformeer en hul kennis op maniere uit te brei wat hul begrip sal verdiep, hul kritiese denkvermoë sal ontwikkel en uiteindelik hul volwaardige en doeltreffende deelname aan die samelewing te bewerkstellig," het Mighty gesê.

Besoek die konferensie-webblad by http://www0.sun.ac.za/sotl/ vir meer inligting oor die program en om toegang tot uittreksels van al die aanbiedings te kry. Alle navrae kan gestuur word aan sotl@sun.ac.za.

Foto deur Anton Jordaan.