Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Deelname aan die US se Welwees, Kultuur en Werksklimaat Opname 2019
Outeur: Office of the Vice-Rector: Social Impact, Transformation & Personnel
Gepubliseer: 30/10/2019

​Ons nooi u graag om aan die US se Welwees, Kultuur en Werksklimaat Opname deel te neem. Die doel van hierdie opname is om eerstens te bepaal wat die welstandsvlakke van personeel is, en tweedens is dit vir ons baie belangrik om die opinie van personeel oor die kultuur en klimaat binne die werksomgewing te kry. 

Alle personeel van die Universiteit Stellenbosch word aangemoedig om deel te neem. Meer inligting oor die agtergrond van die opname, die rasionaal daarvan, die vrywillige aard van deelname, die vertroulikheid en onafhanklikheid van die opname, instruksies vir die voltooiing daarvan ens. is hieronder beskikbaar. Vir u gerief word die skakels onmiddellik hieronder aangebied, gevolg deur die agtergrondinligting, rasionaal ens. 

Die opname is beskikbaar in al drie die amptelike tale van die Wes-Kaap. Om die opname te voltooi, klik eenvoudig op die skakel wat ooreenstem met u taalkeuse (Let wel: u Inetkey moet oop wees). 

  1. Afrikaans: https://fw4l.novisurvey.net/ns/n/suwellatworkafrikaans.aspx
  2. Xhosa: https://fw4l.novisurvey.net/ns/n/suwellatworkxhosa.aspx
  3. Engels: https://fw4l.novisurvey.net/ns/n/suwellatwordenglish.aspx

Dit behoort u minder as 20 minute te neem om die opname te voltooi. 

Agtergrond en die strewe om die voorkeurwerkgewer te wees

In 2017 het die US begin met die eerste Klimaat- en Kultuuropname waaraan 720 personeellede deelgeneem het. Die aanvanklike resultate het temas uitgelig waarin personeel positief oor hul ervaring aan die US was, terwyl ander temas uitgelig was wat meer aandag moes kry. Sekere groepe personeel het ook uiteenlopende ervarings gehad wat die US-bestuur intussen probeer aanspreek het. Hierdie groeperings is:

  • Vroulike personeel wat statisties minder positief is oor hul rol in besluitneming
  • BSIA-personeel wat minder positief is oor hoe diskriminasie aangespreek word, hul betrokkenheid by besluitneming en gelykheid,
  • Personeel onder die ouderdom van 40 wat minder positief is oor geleenthede vir ontwikkeling, US-leierskap, betrokkenheid by besluitneming en by die vorige Strategie van die US. 

Raadpleeg die addendum wat die vordering met hierdie kernareas uiteensit. 

Die US-bestuur versoek u om deel te neem aan hierdie tweede-rondte opname om die vordering in bepaalde temas en enige verandering in personeel se opinies te bepaal. Die nuwe opname is 'n verbetering van die 2017-weergawe en ons is vol vertroue dat die US en baie individuele omgewings voordeel uit almal se gemeenskaplike insette sal trek. 

Sukses in ons voortdurende strewe na uitnemendheid, relevansie en 'n beduidende sosiale impak hang van ons mense af - spesifiek ons personeel en studente. Daarom is dit belangrik om 'n institusionele klimaat van begrip, waardering, en verdraagsaamheid van kulturele verskille, kulturele oortuigings sowel as gedeelde waardes te ontwikkel. 

Ter ondersteuning van die US se visie, missie, waardes en strewes, soos uiteengesit in US se Visie 2040 en Strategiese Raamwerk 2019– 2024, is dit noodsaaklik om die gesondheid en welwees van ons werknemers te ondersteun. In ons strewe om die voorkeurwerkgewer te wees, beoog ons 'n bemagtigende omgewing te vergestalt, wat die beginsels van mede-skepping en toepaslike deelname insluit, en die kenmerke van 'n inklusiewe kampuskultuur. 

Waarom die opname?

Die Universiteit streef daarna om 'n voorkeurwerkgewer en 'n toonaangewende universiteit te wees deur die werksomgewing van al sy personeel – insluitend akademici en professionele, administratiewe en ondersteuningspersoneel – voortdurend te verbeter. Deur die Welwees, Kultuur en Werksklimaat Opname 2019, bied die US aan alle personeel die geleentheid om na te dink en 'n mening te lig oor 'n aantal belangrike aangeleenthede wat hulle as personeellede raak. Die resultate/bevindinge van die opname bied ook die leierskap van die Universiteit die geleentheid om kernuitdagings wat personeel nadelig beïnvloed, te identifiseer en aan te spreek deur middel van 'n omvattende en gestruktureerde program. 

Vrywillige deelname

Deelname aan hierdie opname is heeltemal vrywillig. Sonder u deelname sal die US egter nie in staat wees om aandag te skenk aan kommerwekkende areas of om op ons sterkpunte voort te bou nie; daarom word u versoek om alle vrae so eerlik en opreg moontlik te beantwoord. Die opname bied u as personeellid die geleentheid om belangrike terugvoer aan die Universiteit te gee oor hoe u voel oor belangrike kwessies wat u raak. 

Vertroulikheid, anonimiteit en onafhanklikheid

U antwoorde is heeltemal vertroulik en anoniem. Dit beteken dat die Universiteit nie antwoorde/response op die opname aan enige personeellid kan koppel nie. 

Die opname word namens die US gedoen deur die Afdeling Inligtingsoorsigbestuur in samewerking met die Afdeling Menslike Hulpbronne. Die opname word van 28 Oktober tot 15 November 2019 gedoen. 

Uitnodiging

Alle personeellede van die Universiteit Stellenbosch (US) word dus vriendelik versoek en aangemoedig om aan die Welwees, Kultuur en Werksklimaat Opname 2019 deel te neem.  Die opname is aanlyn beskikbaar. Om die opname te voltooi, moet u net op die skakel klik wat ooreenstem met u taalkeuse (Neem asseblief kennis dat u Inetkey oop moet wees). 

  1. Afrikaans: https://fw4l.novisurvey.net/ns/n/suwellatworkafrikaans.aspx  
  2. Xhosa: https://fw4l.novisurvey.net/ns/n/suwellatworkxhosa.aspx  
  3. Engels: https://fw4l.novisurvey.net/ns/n/suwellatwordenglish.aspx

Dit behoort u minder as 20 minute te neem om die opname te voltooi. 

Alle personeellede sal op Maandag, 28 Oktober 2019 'n afskrif van hierdie boodskap per e-pos ontvang. 

Personeel sonder e-pos en Internet

Alternatiewe reëlings sal vir personeellede getref word wat nie toegang tot e-pos en Internet in die uitvoering van hul normale, amptelike pligte het nie, sodat hulle aan die opname kan deelneem. Lynbestuurders word dus versoek om personeellede wat nie toegang tot e-pos en/of die Internet in die loop van hul pligte het nie, te verwittig om me Alvira Albertus (alviraa@sun.ac.za of 021 808-2966) by die Afdeling Menslike Hulpbronne te kontak om aan die opname deel te neem. 

Voltooi asseblief die opname en moedig elkeen van u kollegas aan om dieselfde te doen. Ons sien uit na goeie betrokkenheid en response. 

Dankie dat ons op u gewaardeerde deelname kan staatmaak. 

Prof Wim de Villiers
Rector and Vice-Chancellor