Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US vereer ses vir bydraes tot onderwys, aktivisme, ontwikkeling en navorsing
Outeur: Corporate Communication Division/Afdeling Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 23/10/2019

Die Universiteit Stellenbosch (US) sal eredoktorsgrade toeken aan ses merkwaardige individue ter erkenning van hulle buitengewone werk om die wêreld ten goede te verander op hulle onderskeie gebiede, naamlik die uitvoerende kunste, ekonomie, hoër onderwys, vrouegesondheid, gelyke geleenthede vir persone met gestremdhede, en landelike ontwikkeling.

Hul samelewingsbydraes deur onderwys, aktivisme en navorsing vergestalt ook die waardes waarop die US se Visie 2040 berus – deernis, respek, uitnemendheid, verantwoordbaarheid en billikheid.

Die ontvangers van die eredoktorsgrade, is:

  • Me Nasima Badsha het in Suid-Afrika en die Verenigde Koninkryk grootgeword en oor meer as 30 jaar uitsonderlike bydraes tot die Suid-Afrikaanse hoër onderwys gelewer. Sy het baanbrekerswerk gedoen om toegang, billikheid en maatskaplike geregtigheid in die hoëronderwysstelsel te skep, en het 'n kernrol vervul in die konseptualisering van ʼn nuwe hoëronderwysbedeling in Suid-Afrika.

  • Me Rachel Kachaje van Malawi is ʼn bekende gestremdheidsaktivis met meer as 25 jaar ervaring as kampvegter vir gelyke geleenthede en regte vir persone met gestremdhede in Malawi, die res van Afrika en die wêreld. Kachaje, wat op driejarige ouderdom polio opgedoen het, het senior ampte in verskeie gestremdheids- en menseregteorganisasies en -komitees beklee, en is ook 'n voormalige minister van gestremdheid- en bejaardesake in die Malawiese regering.
  • Dr Bonisile John Kani, 'n boorling van Port Elizabeth, word vereer vir sy 50 jaar lange loopbaan in die uitvoerende kunste en toneelskrywery, nie net in Suid-Afrika nie, maar ook internasionaal. Sy hele loopbaan getuig van 'n onwrikbare verbintenis tot die versekering dat jongmense toegang tot die uitvoerende kunste het, en die gebruik van die kunste om op te voed, gemeenskappe te ontwikkel en onderdruktes 'n stem te gee. Onlangse internasionale suksesse sluit in sy rolle in die films Black Panther (2018), The Lion King (2019) en Murder Mystery (2019).  
  • Prof Quarraisha Abdool Karim is ʼn vooraanstaande Suid-Afrikaanse navorser met 'n A-gradering* van die Nasionale Navorsingstigting, 'n epidemioloog wat in aansteeklike siektes spesialiseer, en wetenskaplike mededirekteur van die Sentrum vir Vigsnavorsing in Suid-Afrika (CAPRISA). Sy word vereer vir haar toewyding aan navorsing en opvoeding op die gebied van vrouegesondheid in Afrika én die buiteland, veral vir haar suksesvolle pogings om die soeklig nasionaal en internasionaal op MIV te werp en haar deurslaggewende rol in navorsing oor MIV-voorkoming.
  • Dr Uma Lele, 'n boorling van Maharashtra, Indië, word vereer vir haar toonaangewende rol in die teorie en praktyk van landelike ontwikkeling wêreldwyd. Gedurende haar loopbaan van byna vyf dekades word haar werk gekenmerk deur pogings om openbare beleid deur nougesette empiriese navorsing te beïnvloed. Lele, aangewese president van die Internasionale Vereniging van Landbou-ekonome (die eerste vrou wat dié amp beklee), is sonder twyfel die voorste kenner van landelike ontwikkeling van haar generasie.
  • Prof Leonard Wantchekon van Benin voel so sterk oor die verbetering van ekonomieopleiding in Wes-Afrika dat hy sy eie universiteit gestig het – die Afrikaskool vir Ekonomie (ASE). Benewens sy amp as ASE-president, is Wantchekon ook professor in Politiek, Internasionale Betrekkinge en Ekonomie by Princeton in die VSA. Hy moes talle struikelblokke te bowe kom om ʼn akademiese leier op sy gebied te word. Hy word vereer vir sy reuse bydrae om die volgende generasie vakkundiges toe te rus met die vaardighede, netwerke en geloof in hulleself om bo hulle omstandighede uit te styg en toonaangewende akademici te word wat die wêreld ten goede kan verander.

Die US se eredoktorsgrade is 'n manier om erkenning te verleen aan die merkwaardige werk van individue wat as rolmodelle en 'n inspirasie vir Stellenbosch-graduandi beskou word. Die eregrade sal by of die Desember 2019 gradeplegtighede of by die April/Maart 2020 plegtighede toegeken word.

 

* 'n A-gradering van die Nasionale Navorsingstigting erken akademici wat as wêreldleiers op hulle onderskeie gebiede gereken word vir die gehalte en impak van onlangse navorsingsuitsette.​