Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Ondersoek na navorsingsartikel oor kognitiewe funksionering in November 2019 voltooi
Outeur: Corporate Communication
Gepubliseer: 14/10/2019

​Die Formele Ondersoekkomitee wat deur die Universiteit Stellenbosch (US) aangestel is om verskeie aspekte rakende die navorsingsartikel, Age- and education-related effects on cognitive functioning in Coloured South African women, te ondersoek, het tot einde November 2019 uitstel gevra om sy taak te voltooi. Hierdie versoek is toegestaan sodat alle prosesse gevolg kan word.

Die US het in Mei vanjaar in die kollig beland nadat die artikel in 'n internasionale wetenskaplike vaktydskrif, Aging, Neuropsychology, and Cognition, gepubliseer is. Die Universiteit Stellenbosch het sedertdien in 'n verklaring erken dat die betrokke artikel aanstoot gegee het en die menswaardigheid van talle Suid-Afrikaners aangetas het. Die Universiteit het onvoorwaardelik om verskoning gevra vir die erge trauma, pyn en woede wat dit vir die algemene publiek, die Stellenbosse gemeenskappe, belanghebbers van die Universiteit en sy kampusgemeenskappe veroorsaak het. Die redakteurs en uitgewers van die vaktydskrif het ná konsultasie met die skrywers later die artikel teruggetrek – 'n stap wat sterk deur die US gesteun is.

Die US se Navorsingintegriteitsbeampte (NIB) het in samewerking met prof Eugene Cloete, Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studies, die Formele Ondersoekkomitee aangestel ooreenkomstig die US se Beleid vir Verantwoordelike Navorsingsgedrag, asook die US se prosedure vir die ondersoek van navorsingswangedrag.

Die komitee is die taak opgelê om 'n formele klagte van beweerde navorsingswangedrag wat teen die skrywers van die artikel aanhangig gemaak is, te ondersoek, en daarmee saam ook die verwante institusionele beleide, prosesse en praktyke. Die aanvanklike verwagting was dat die ondersoek teen die einde van September 2019 afgehandel wou word, maar weens die komplekse en openbare aard van die saak neem dit langer om sekere wetlike kwessies rakende die lidmaatskap van die komitee uit te klaar. Dit het onvoorsiene vertragings veroorsaak. Soos in vroëere verklaring aangedui is, sal die uitkoms van die ondersoek aan belanghebbers bekendgemaak word. 

WÊRELDWYE NAVORSINGSTANDAARDE

In 'n verklaring wat in September vrygestel is, het die Universiteit Stellenbosch bekendgemaak dat twee senaatkomitees aanbeveel het dat die instelling amptelik die 'Wêreldwye gedragskode vir navorsing in omgewings wat arm is aan hulpmiddels' ('Global Code of Conduct for Research in Research-poor Settings' – www.globakcodeofconduct.org) by sy volgende Senaatvergadering in November 2019 aanvaar. Die Senaat se Navorsingsetiekkomitee het hierdie aanbeveling by sy geskeduleerde vergadering op 30 Augustus 2019 gedoen. Dit volg nadat die Navorsingskomitee van die Senaat 'n soortgelyke aanbeveling by sy vergadering op 14 Augustus 2019 gedoen het.

“Hoewel 'n enkele stuk navorsing geensins die gehalte, etiek en waardes van die US se uitstekende navorsingsprogram kan weerspieël nie, het die voorval ernstige gesprekke op ons kampusse ontlok oor hoe individue en gemeenskappe in navorsing oor hulle behandel word – nie net aan die US nie, maar by alle Suid-Afrikaanse universiteite, en ook reeds vir 'n geruime tyd deur akademici die wêreld oor," het prof Cloete gesê.

“Verbeterde wêreldwye navorsingstandaarde is reeds meer as 'n dekade lank op die internasionale navorsingsagenda. Gemeenskappe in Afrika het inderdaad 'n betekenisvolle rol gespeel om die uitbuiting van kwesbare gemeenskappe uit te lig. Dit het tot die samestelling van die 'Wêreldwye gedragskode vir navorsing in omgewings wat arm is aan hulpmiddels' gelei. In 2018 is dit by 'n werksessie van die Europese Parlement aangekondig dat die TRUST* wêreldwye gedragskode vir navorsing in omgewings wat arm is aan hulpmiddels 'n verwysingsbron vir die Europese Unie se Horizon 2020-navorsing- en innovasieprogram gaan word. Senaatkomitees en verskeie ander strukture het hul steun aan die US toegesê om die gedragskode te aanvaar en dit sal by die volgende senaatvergadering in November 2019 vir amptelike goedkeuring ter tafel gelê word," het prof Cloete bygevoeg.

INSTITUSIONELE INISIATIEWE

Die Senaat en sy subkomitees het sedert Mei 2019 hul steun toegesê aan 'n gefokusde en gesamentlike langtermyn-institusionele reaksie op die kwessies wat die artikel en die verwante reaksie uitgelig het, byvoorbeeld tussenkomste op die US se kampusse om toepaslike temas soos die rol van ras in wetenskaplike navorsing en die transformasie van die US se institusionele kultuur aan te spreek. 

In 'n mosie wat eenparig by die Senaat se vergadering in Mei aanvaar is, is spesifieke Universiteitstrukture die taak opgelê om na sekere konkrete voorstelle om te sien.

Die Akademiese Beplanningskomitee (ABK) van die Senaat is versoek om dit te oorweeg om 'n module oor teen-rassisme, demokrasie en kritiese burgerskap vir alle eerstejaarstudente aan te bied, en om te bepaal of sommige US-akademici dalk reeds hul navorsing op geslag- en kritiese rassestudies fokus. Die oogmerk is om 'n netwerk van kundiges op hierdie gebied te ontwikkel. 'n Konsepverslag word tans saamgestel en sal by die volgende vergadering van die ABK op 30 Oktober 2019 ter tafel gelê word.

Ander voorstelle deur die Senaat het ingesluit:

Dat “oorweging geskenk word om 'n kampuswye meganisme wat toegewy word aan die transformering van navorsing en wetenskap" by die US te skep.

Dat “die Navorsingskantoor 'n reeks kortkursusse vir alle personeellede aanbied" oor onderwerpe soos “die gebruik van menslike kategorieë in navorsing en wetenskap". Navorsingintegriteit word reeds in bestaande kortkursusse gedek, maar die moontlikheid van voorgeskrewe opleiding in navorsingsetiek word oorweeg. Intussentyd sal bestaande opleidingsinisiatiewe uitgebrei word om groter bewustheid te skep.

Die Navorsingskomitee van die Senaat het ook verdere aanbevelings by sy vergadering in Augustus 2019 gedoen:

Dat 'n proses geskep moet word sodat alle sosiale impakprojekte aan die US 'n etiese oorsig deurloop.

Dat lede van die navorsingsetiekkomitees, personeel en studente verpligte opleiding, insluitende bewusmakingsinisiatiewe oor etiese gedragskodes en die US se beleide en prosesse, ontvang.

Dat institusionele bewusmaking oor die risiko's verbonde aan onetiese optrede in navorsing moet plaasvind met behulp van aanlyn opleidingsprogramme en inisiatiewe.

Die tema van etiese riglyne vir sosiale impak is vervolgens by die jaarlikse simposium oor sosiale impak op 6 September 2019 bespreek, waar onder meer ook waardevolle insette van belanghebbers uit die burgerlike samelewing ontvang is. 'n Pas-gestigte taakspan sal 'n formele stel etiese riglyne vir sosiale-impak-inisiatiewe ontwikkel.

 *TRUST was 'n pluralistiese projek wat daarop gemik was om die voldoening aan hoë etiese navorsingstandaarde wêreldwyd te kweek en om die praktyk van “etiese aflaaiing" of die toepassing van dubbele standaarde in navorsing teen te werk deur saam met kwesbare bevolkings toerusting en meganismes te ontwikkel vir die verbetering van strukture vir navorsingsoorsigbestuur. Die TRUST-projek het in Desember 2018 ten einde geloop. Die TRUST-konsortium is egter nog steeds by pogings om “etiese aflaaiing" wêreldwyd te verminder. (www.globalcodeofconduct.org)