Joernalis. Dosent.
Ombudsman. Skrywer. ‘n Man met ‘n besliste weersin in onsin. Een wie se
besinnings oor billikheid en reg of verkeerd gegrond is in die Suid-Afrikaanse
perskode. Dìs in breë prof George Claassen, uittredende direkteur van CENSCOM,
‘n sentrum binne die Universiteit Stellenbosch se Departement Joernalistiek wat
wetenskap en tegnologie binne die sfeer van massakommunikasie bestudeer.
Prof Claassen is die
volgende spreker in die Afdeling Navorsingsontwikkeling se Forward with
Research Impact-lesingsreeks. Hy sal op 9 Oktober om 13:00 in die Wilcocksgebou (kamer 1012) praat oor hoe
joernaliste skynwetenskap en kwaksalwery eties moet hanteer.
Claassen is al by die
vier dekades ‘n mediaman en ‘n kenner oor veral wetenskapsjoernalistiek en
media-etiek. Hy’t in Middelburg op die Hoëveld grootgeword in die huis van ‘n
wiskundeonderwyser. Sy een broer het ‘n chemiese ingenieur geword, sy ander
(die oud-Springbok rugbykaptein Wynand Claassen) ‘n argitek en sy suster ‘n
onderwyseres in Afrikaans. Tuis kon die Claassen-kinders elke dag drie verskillende
koerante van hoek tot kant deurlees. Dit het ‘n kultuur van kritiese denke en
ingelig wìl wees by Claassen gekweek.
“Die eerste basiese ding
is dat joernaliste (én wetenskaplikes) nuuskierig moet wees. Einstein het gesê
dis die soektog na wat die werklikheid is. Jy vind dit net as jy nuuskierig is
en vrae vrae,” reken hy.
Na sy aanvanklike regstudies
aan die US en ‘n meesstergraad in Afrikaans-Nederlands aan die Universiteit van
Pretoria het Claassen ‘n doktorsgraad in Vlaamse letterkunde aan UNISA behaal.
In 1974 het hy by die nuutgestigte dagblad Beeld ingeval, en daar tot
1982 as ondersoekende joernalis gewerk. In die 2000’s was hy adjunk-redakteur
van Die Burger in die Kaap. Hy’t lank ‘n wetenskapsrubriek geskryf en
was sewe jaar lank die koerant se wetenskapredakteur, en praat steeds gereeld op
RSG oor verwante sake. Hy’t ook ‘n roman en talle nie-fiksieboeke agter sy
naam.
En wat was sy eerste
nuusstorie ooit?
“Oor die hofverskyning
van die ontkleedanseres Glenda Kemp en haar luislang Oupa,” glimlag Claassen net.
Al was dié artikel net ‘n
vingerlengte lank, het dit darem die volgende dag op die voorblad van Beeld
se Kaapse susterskoerant geland.
Hy’t joernalistiek gepleeg
in ‘n era voordat e-pos of SKYPE beskikbaar was en nuusmense maklik-maklik vrae
aan plaaslike én oorsese kenners kon stuur. Die Internet was nog nie eens ‘n
oorweging in Suid-Afrika nie. Daar was geen Google Scholar of webwerwe wat
persverklarings versprei en sodoende joernaliste outomaties op datum hou oor
die jongste navorsingsartikels nie.
“Joernaliste besef nie
hoe maklik het hulle dit vandag het in terme van hul toegang tot inligting nie.
Destyds moes jy baie meer spitwerk doen. Jy moes uit jou kantoor uit gaan. Jy
kon nie telefoonjoernalistiek of Google joernalistiek beoefen nie,” verduidelik
Claassen.
So verduidelik hy in sy
dolleë kantoor in die solder van die US Departement Joernalistiek. Hy het dit ontruim
om plek te maak vir sy CENSCOM-opvolger, Nathan Geffen, wat ook steeds sal
aanbly in sy pos as redakteur van die internetnuusblad GroundUp.
Wetenskapsjoernalistiek
in Suid-Afrika
Claassen se eie loopbaan
in die akademie het in die laat 1980’s begin. Hy het vier jaar lank verskillende
Afrikaanse taalvariasies by die Suid-Afrikaanse Raad vir Geestesnavorsing (RGN)
nagevors. Daarby het hy die eerste van sy drie uitgebreide navorsingsbesoeke
aan die VSA onderneem.
Gedurende sy RGN-jare het
hy die eerste keer ‘n sessie aangebied oor die waarde wat wetenskaplikes daaruit
kan put om hul bevindinge danksy die media met die publiek te deel.
Tussen 1989 en 1992 was
hy hoof van die Tshwane Universiteit van Tegnologie (TUT) se Departement
Joernalistiek. Daar het hy informeel begin werk aan ‘n kurrikulum vir die
dosering van wetenskapsjoernalistiek. Dié het hy met mening gedryf toe hy in 1993 as voorsitter by die US se Departement
Joernalistiek aangesluit het om die nagraadse
joernalistiekprogram tot 2000 te bestuur. Die Klas van 1994 was die proefkonyne vir wat
uiteindelik die eerste honneursmodule in wetenskapsjoernalistiek in Afrika sou
word Claassen het sedertdien wêreldwyd oor die dosering van die dissipline gekonsulteer,
en het ook die skryf van ‘n module daaroor vir UNESCO gedryf.
Die dissipline is sedert 1995 ook tot meesters- en PhD-vlak by die US
uitgebrei, en is een van Claassen se blywende nalatenskappe.
“Meer as 40 M-studente het al intussen in wetenskapsjoernalistiek
gespesialiseer, en ‘n hele paar PhD-studente ook. Want die behoefte in
Suid-Afrika is daar,” vertel Claassen.
Hy reken egter sonder omhaal dat die wetenskap in alle vorme “gruwelik” in
die plaaslike hoofstroom-media afgeskeep word. Al die spesialis-joernaliste wat
eens aan ‘n toegewysde wetenskapslessenaar by ‘n koerant verbonde was, werk
deesdae as vryskutskrywers.
“Dit bly een van die tragedies van die Suid-Afrikaanse media,” reken Claassen,
wat jare al die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum (SANEF) se
opleidingsbeen vir wetenskapsjoernalistiek lei.
Keelvol vir kwaksalwers
Na sy uittrede as CENSCOM-hoof sal Claassen sal steeds
wetenskapsjoernalistiek en media-etiek aan die US doseer. In sy lesings
kombineer hy graag voorbeelde uit albei sfere. Onder sy mees gebruikte woorde
tel “kwaksalwery”, “skynwetenskap” en “onsinverklikker” (of “Baloney
Detector”).
Hy sien rooi as hy net dink oor die dikwels
onetiese manier waarop die media stories rapporteer oor homeopatiese middels,
osoonklinieke en ander “wonderprodukte” wat sonder goed nagevorsde
wetenskaplike bewyse aan verkoop word. Hy ag dit as bedrog.
“In die proses stel dit
mense se lewens in gevaar,” reken Claassen.
“Die manier waarop joernaliste
byvoorbeeld oor kwaksalwery rapporteer raak ‘n media-etiese kwessie. Dit is ook
‘n wetenskapskwessie,” wy hy uit oor ‘n onderwerp wat hy met gebruiklike erns benader.
CENCOM se organisasie in
2018 op Stellenbosch van die eerste internasionale kongres ooit oor
kwaksalwery, pseudowetenskap en vals nuus was ‘n natuurlike uitvloeisel van sy
professionele én akademiese belangstelling in die onderwerp.
Rol as ombudsman
Sy pligte as ombudsman vir die webwerf News24 en by die 90
gemeenskapskoerante van Media24 hou hom ook goed besig. Dit gee Claassen ‘n
daaglikse kykie in die psige van mense. Keer op keer besef hy dat mense nie die
werkinge van die media verstaan nie, maar dat klaers dikwels net wil voel dat iemand na hul griewe luister.
Is dit ‘n moeilike werk?
Soos dit ‘n goeie
joernalis betaam, gebruik Claassen eerder iemand anders se mening om daarop te
antwoord. Dit behoort aan Daniel Okrent, wat na ‘n plagiaatskandaal in die
vroeë 2000’s deur die toonaangewende New York Times-koerant as die
eerste “public editor” of ombudsman aangestel is.
“Hy’t gesê dis die
moeilikste job wat hy nog ooit in sy lewe gehad het, baie moeiliker as
om redakteur te wees, omdat jy dit van alle kante af kry. Jy moet in die middel
staan, en jy moet luister,” soek-soek Claassen na die regte woorde. “Jy is die
oor vir die luisteraar of die leser, vir die kyker, vir die ou wat kla, maar jy
moet ook terselfdertyd die belange dien van die organisasie wat aangekla word. So
jy moet as arbiter optree, en uitvind wie praat eintlik die waarheid.”
Dis wat hy aspirant-joernaliste
altyd in die klas leer: Wees regverdig. Minimaliseer skade. Wees
verantwoordbaar.