Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US, Uber en Zindi hou binnekort masjienleer-hackathon
Outeur: Ronél Beukes
Gepubliseer: 02/10/2019

Uber, Zindi en Vervoerekonomie aan die Universiteit Stellenbosch, in assosiasie met SANRAL, het datawetenskaplikes en aspirant-datawetenskaplikes genooi om aan 'n masjienleer-hackathon op Saterdag, 12 Oktober by die Launch Lab, Hammanshandstraat, Stellenbosch deel te neem.

Uber gaan later vandeesmaand 'n gratis hulpmiddel genaamd Uber Movement in Kaapstad bekendstel. Dit gebruik die anonieme data wat uit miljoene ritte bekom is om stedelike beplanners te help om belangrike besluite rakende hul stad te neem. 

Uber, Zindi en die Universiteit Stellenbosch wil graag 100 datawetenskaplikes bymekaar bring om SANRAL te help om 'n masjienleermodel te ontwikkel wat voorspel wanneer en waar in die Wes-Kaap motor- en voetgangerongelukke bes moontlik gaan plaasvind.

Enigiemand wat in die bou van masjienleermodelle belang stel, is welkom om deel te neem. (Dit sal help indien voornemende deelnemers iets weet van R of Python.) Deelnemers moet hul eie skootrekenaars na die hackathon neem.

Die voldag hackathon sal die volgende insluit:

  • tegniese oriëntasie rakende die uitdaging deur datawetenskapmentors,
  • werk saam met jou span om 'n masjienleermodel te bou,
  • dien resultate via die Zindi-platform in.

Pryse ter waarde van R7 500 sal aan die einde van die hackathon aan die beste oplossings toegeken word.