Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US stel Be Active-uitdaging bekend
Outeur: Corporate Communication/Korporatiewe Kommunikasie [Rozanne Engel]
Gepubliseer: 26/09/2019

Lede van die Universiteit Stellenbosch- (US-)gemeenskap het op Woensdag 25 September aan die pretdraf/-loop #MyHeartYourHeart vanaf Helshoogteweg tot by Coetzenburg-atletiekstadion deelgeneem om Hartbewustheidsmaand te ondersteun. Die geleentheid is deur die Kampusgesondheidsdiens (KGD) gereël.

Saam met die US-deelnemers was 'n groep personeellede van die Universiteit van die Vrystaat (UV), wat op 20 September op die UV-kampus in Bloemfontein weggespring en tot op Stellenbosch gedraf het om bewustheid van geestesgesondheid te wek. Die UV-personeellede het die 1 075 km tussen Bloemfontein en Stellenbosch afgelê deur elk 'n aflosren van 9 km per dag te hardloop. Die laaste 4,2 km van hulle tog het met die US se #MyHeartYourHeart-geleentheid saamgeval.

Volgens dr Jo-Anne Kirby, 'n dokter by KGD en koördineerder van die hartbewusmakingsveldtog, was die doel van #MyHeartYourHeart om personeellede aan te spoor om meer aktiewe lewens te lei. “Hoewel die UV vir geestesgesondheid gehardloop het en die US vir hartbewustheid, hou die twee eintlik verband. Mense met geestesiektes loop groter gevaar om hartsiekte op te doen, en diegene met hartsiekte loop groter gevaar om geestesiekte te ontwikkel. Een doeltreffende behandeling vir albei is oefening. Fisiese aktiwiteit verminder die risikofaktore vir hartsiekte én behandel die simptome van depressie en angs. So, oefening is medisyne," sê Kirby.

#MyHeartYourHeart het ook as platform gedien om die US se Be Active-veldtog bekend te stel in antwoord op 'n tweede UV-uitdaging ná die onlangse “pedometer"-inisiatief, waaraan die UV, US en twee ander universiteite deelgeneem het. Vir die pedometeruitdaging het 640 personeellede van die deelnemende instellings binne agt weke 'n gesamentlike afstand van 192 000 km afgelê.

Die Be Active-uitdaging sal 'n agt weke lange geleentheid van 30 September tot 25 November wees om te bepaal watter universiteit die fiksste is. Op grond van slimfoon- of sporthorlosiedata sal deelnemers punte vir draf, fietsry, swem, gimoefening en daaglikse treë verdien.

As deel van die Be Active-inisiatief het die UV boonop die US uitgedaag om die Universiteit van Kaapstad (UK) betrokke te kry deur van Stellenboschkampus na die UK se kampus in Kaapstad te draf, sê Kirby. “Ek hoop mede-US-lede sal saam met my hardloop en hierdie uitdaging voltooi sodat ons méér mense kan aanspoor om aktief te wees."

Vir verdere bewusmaking van 'n gesonde leefstyl bied KGD op Vrydag 27 September van 12:00 tot 14:00 gratis mediese toetse vir personeellede op die Rooiplein op Stellenboschkampus.

Vir meer inligting oor die Be Active-uitdaging, kontak dr Jo-Anne Kirby by 021 808 3290 of jkirby@sun.ac.za.

Fotos deur Stefan Els.