Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Sagtevrugtebedryf vereer US-alumnus Sheila Storey
Outeur: Engela Duvenage
Gepubliseer: 18/09/2019

'n Alumnus van die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit AgriWetenskappe was onder diegene wat tydens die 44ste jaarlikse gala-aand van die Suid-Afrikaanse sagtevrugtebedryf vir haar uitmuntende bydrae tot dié landbousektor vereer is. Sy is Sheila Storey, en het 'n toekenning in die afdeling vir innovasie ontvang. Die tydskrif Landbouweekblad, waarvan 'n alumnus van die Departement Joernalistiek, Chris Burgess, tans die redakteur is, het die Izethelo-mediatoekenning ontvang.

Volgens 'n persverklaring deur die bedryf word Storey gereken as 'n wêreldklas-spesialis op die gebiede van grondlewe, plantprestasie en aalwurmbeheer. Sy het in 1987 die kommersiële aalwurm analise-laboratorium, Nemlab, gestig, twee jaar nadat sy 'n Meestersgraad in Landbou aan die Universiteit Stellenbosch verwerf het. Nemlab is vandag die grootste onderneming van sy soort in privaatbesit in Suid-Afrika.

In 2014 is NemaBio (Edms) ook gestig. Dit fokus op die kommersialisering van entomopatogene aalwurms vir die biologiese beheer van insekplae in gewasse. Storey het ook naam gemaak in grondkunde, en in 2015 'n grondgesondheidsentrum gestig wat aalwurmbeheerprogramme en - riglyne vir 'n verskeidenheid gewasproduksiestelsels regoor die land ontwikkel.

Storey is ook ten nouste betrokke by die ontwikkeling van kundigheid binne die vrugtebedryf. Sy was al studieleier vir 13 studente, en het al talle studente in diens geneem. 

  • FotoSheila Storey met haar toekenning.