Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Genoeg is inderdaad genoeg – bestuur se reaksie op memorandum teen geslagsgebaseerde geweld
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 18/09/2019
Beste studente en kollegas

Genoeg is inderdaad genoeg. Geslagsgebaseerde geweld is ’n ernstige probleem wat alle vlakke van die samelewing, insluitende die Universiteit Stellenbosch (US), raak.

My kollegas in die Universiteit Stellenbosch-rektoraat wat op 6 September die byeenkoms op die Rooiplein bygewoon het, het my ingelig oor jul oproepe tot aksie in die stryd teen geslagsgebaseerde geweld.  

Ons het sedertdien op 9 September ’n memorandum (klik hier) van die Anti-GBV Movement SU ontvang, en opbouende samesprekings is gehou. Ons het kennis geneem van die oproepe en die vyf-bladsy lange opsommende uittreksel uit die bestuur se antwoord wat op 16 September verskaf is, het spesifieke optredes uitgelig.

Ons stel nou ons volledige, omvattende antwoord (klik hier) vry. Dit bevat agtergrond- en meer inligting. Ons verwys na inisiatiewe en dienste wat reeds in plek is, en sluit van die konkrete, tasbare stappe wat in die kort, lang en medium termyn gedoen gaan word, in. ’n Opvolg-bespreking is vir vanmiddag geskeduleer.

As Rektoraat wil ons ons waardering uitspreek vir die werk wat deur die Anti-GBV Movement SU gedoen is om nie net bekommernisse en griewe te opper nie, maar ook om konstruktiewe voorstelle aan die hand te doen. Ons is daartoe verbind om saam met ons studente en personeel te werk om ons institusionele optrede teen geslagsbebaseerde geweld te verskerp.

Alle belanghebbers moet dus dringend en onophoudelik aan oplossings werk. Die US erken die belangrike wat rol wat die instelling in die stryd teen geslagsgebaseerde geweld speel, en is daartoe verbind om die voorkoms daarvan op al ons kampusse uit te roei.

Prof Wim de Villiers
Rektor en Visekanselier