Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Matie se bekroonde eetbare strooitjies help die omgewing
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie [Alec Basson]
Gepubliseer: 04/09/2019

Haar passie vir omgewingsvolhoubaarheid het onlangs 'n tweedejaar Chemiese Ingenieurswese-student van die Universiteit Stellenbosch (US) 'n groot kontantprys in die sak gebring.

'n Inskrywing op Facebook oor 'n seeskilpad met 'n plastiekstrooitjie in sy neus het Leila Siljeur (19) so diep geraak dat sy genoop gevoel het om iets te doen om plastiekbesoedeling te help bekamp. Sy het besluit om eetbare en omgewingsvriendelike strooitjies onder haar eie handelsmerk te ontwerp. Met hierdie blink uitvindsel het sy R50 000 in die onlangse Allan Gray Orbis Stigting Nasionale Jamboree losgeslaan.

Die geregistreerde handelsnaam van Siljeur se strooitjies is Eat Me Straws en bestaan uit drie reekse – gewoon, gesond en streng vegetaries (vegan). Die voordeel van hierdie strooitjies is dat hulle nie pap word wanneer jy dit in 'n vloeistof sit nie. Siljeur glo dit is 'n verbetering op dít wat sover in die lyn van eetbare strooitjies gedoen is. “Hoewel maatskappye bioafbreekbare strooitjies vervaardig, beland baie daarvan nog steeds in die see wat 'n gevaar vir ons seelewe inhou."

Siljeur vertel sy het aan die begin van haar ontwerpproses met verskillende bindings-, emulgeer- en glaseerselmiddels rondgespeel omdat sy nie taai strooitjies wou hê wat die smaak van die klant se drankie kon beïnvloed nie. Sy wys daarop dat die tekstuur van die strooitjies 'n mengsel tussen droplekkers (liquorice) en gedroogde vrugte is.

“Die strooitjies kan gekleur en gegeur word volgens 'n kliënt se opdrag. Ons gebruik verskillende basisse vir die drie reekse – gelatine vir die gewone strooitjies, plante vir die streng vegetariese reeks en vrugte vir die gesondheidsreeks. Die streng vegetariese strooitjies met 'n bessiegeur verkoop baie goed. Ons het ook framboos- en sjokolade-gegeurde strooitjies."

Siljeur sê sy en haar span verkoop sedert verlede jaar op 'n informele grondslag klein hoeveelhede van tussen tien en 20 eetbare strooitjies aan US-studente. “Die terugvoer van die studente-klante was baie positief. Hulle hou baie van die strooitjies."

Sy beplan om haar produksie te verhoog sodat sy aan sakeondernemings op Stellenbosch en in ander dele van die land kan verskaf.

“Ons wil een groot bondel aan verskillende besighede verkoop. Ons ideaal is om aan groot kitskoskettings soos KFC en McDonalds en ook gesondheidswinkels te verskaf. As ons aan hierdie tipe kettingwinkels kan verkoop, behartig hulle die verspreiding en sodoende raak dit nie die verbruiker se sak direk nie."

Siljeur sê die prysgeld gaan baie handig te pas kom aangesien hulle wil uitbrei. Sy voeg ook by dat hulle saam met die US se Consulting Society en Accenture in Kaapstad werk.

  • Foto: Leila Siljeur geniet 'n sjokolade-gegeurde strooitjie. Fotograaf: Stefan Els

SLEGS VIR MEDIANAVRAE

Leila Siljeur

Universiteit Stellenbosch

E-pos: 22009388@sun.ac.za

UITGEREIK DEUR

Martin Viljoen

Bestuurder: Media

Korporatiewe Kommunikasie

Universiteit Stellenbosch

Tel: 021 808 4921

E-pos: viljoenm@sun.ac.za