Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nuwe sentrum plaas kollig op kardio-metaboliese siektes in Afrika
Outeur: Sue Segar
Gepubliseer: 02/09/2019

Die onrusbarende ontploffing van kardio-metaboliese siektes in Afrika suid van die Sahara in onlangse jare ­ en die flagrante gebrek aan goeie navorsing oor die onderliggende oorsake van en behandelingsopsies vir hierdie siektes – het die idee vir ʼn gespesialiseerde kardio-metaboliese navorsingsentrum aan die Universiteit Stellenbosch laat posvat.

Die Sentrum vir Kardio-metaboliese Navorsing in Afrika (CARMA) is toe in Maart vanjaar in die Afdeling Mediese Fisiologie van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe gevestig. CARMA se ander kernlid is die Departement Fisiologiese Wetenskappe van die Fakulteit Wetenskap.

Die sentrum was die geesteskind van prof Faadiel Essop van die Departement Fisiologiese Wetenskappe en sal voorpuntnavorsing oor kardio-metaboliese siektes soos vetsug, diabetes, die metaboliese sindroom en kardiovaskulêre siektes doen. Essop is die direkteur en Hans Strijdom, medeprofessor in die Afdeling Mediese Fisiologie, die adjunk-direkteur van die sentrum, wat al vyf jaar lank beplan word.

Die sentrum sal spesifiek fokus op siektes wat mense in Suid-Afrika en die res van die kontinent raak.

Essop en Strijdom het in Julie met navorsers en personeel van die nuwe sentrum vergader om die weg vorentoe te beplan.

“Die vergadering het die ontwikkeling van kerntemas ingesluit, asook die herposisionering van bestaande navorsingsaktiwiteite wat voortaan onder die beskerming van die sentrum sal val," het Strijdom gesê.

Volgens hom het lewenstylsiektes ʼn ewe groot bron van kommer as aansteeklike siektes in Afrika geword. Wat werklik in ʼn Afrika-konteks kort, is ʼn antwoord op die vraag wat hierdie siektes veroorsaak en watter prosesse hulle op ʼn orgaan-, weefsel- en sellulêre vlak aandryf.

“Ons weet steeds nie of hierdie prosesse of meganismes in die Afrika-konteks verskil van ander kontekse soos Noord-Amerika, Australië en Europa nie."

Volgens Strijdom is swak navorsing oor die onderliggende meganismes en behandelingsopsies gedoen omdat “ons, myns insiens, so baie staatgemaak het op navorsing wat buite die Afrika-kontinent gedoen is om ons in die behandeling van hierdie siektes te rig".

“Ons verwaarloos steeds in groot mate die potensiële terapeutiese agente in ons eie omgewing. Ons wil die rol van medisinale plante van Afrika begin benadruk. Ons kan dalk uitstekende terapeutiese opsies in ons eie jaart vind– maar hierdie opsies is nog nie ondersoek nie. Ons fokus op die ondersoek van hierdie moontlikhede. Sulke nuwe terapieë sal dalk nie hierdie siektes genees nie, maar daar is talle moontlikhede om minstens die progressie te vertraag."

Oor die ontwikkeling van die sentrum het Strijdom gesê Essop het sowat vyf jaar gelede met die oorspronklike idee vorendag gekom.

“Etlike formele en informele vergaderings, onder meer met ʼn groter belangegroep, het gevolg, wat uiteindelik die totstandbrenging van die sentrum meegebring het. Ons hoofdoelwitte is om uitstekende navorsing en innovering in kardio-metaboliese siektes relevant tot Afrika en Suid-Afrika te doen, leer- en onderwysgeleenthede vir nagraadse studente van Suid-Afrika en Afrika op die gebied van kardio-metaboliese siektes te skep en aktief aan maatskaplike impakinisiatiewe deel te neem om groter bewustheid oor kardio-metaboliese siektes by die algemene publiek skep."

Strijdom het gesê CARMA streef daarna om ʼn internasionaal erkende sentrum vir navorsing en opleiding op die gebied van kardio-metabolisme in Afrika te word deur basiese wetenskaplike en kliniese navorsingsmodelle te gebruik. ʼn Amptelike opening word vir vroeg in 2020 beplan, asook hoëvlaksimposiums wat die ultramoderne navorsing op hierdie gebied ten toon sal stel.

CARMA is in Maart vanjaar amptelik deur die Senaat goedgekeur ná bykans vyf jaar van die uitruil van idees, vergaderings met belangegroepe, beplanning en uiteindelik die begin van die proses om die sentrum tot stand te begin bring.

“Die vergadering in Julie was ʼn 'breinstormsessie' waarheen personeel, navorsers, nadoktorale genote en studente van die twee kernnavorsingsgroepe (van die Departement Fisiologiese Wetenskappe op die Stellenbosch-kampus en die Afdeling Mediese Fisiologie op die Tygerberg-kampus) genooi is. Op die vergadering het ons hoofsaaklik gefokus op hoe om die bestaande navorsingsprojekte van die twee navorsingsgroepe te herbelyn sodat hulle sentrale temas of fokusareas onder die sambreel van die nuwe sentrum kan vorm. Ons het op ʼn paar sentrale temas besluit waaraan alle bestaande en toekomstige navorsingsaktiwiteite gekoppel sal wees. Ons het voorts begin om ʼn bestuurskomitee saam te stel, wat die dag-tot-dag bestuur van die sentrum sal behartig. Besluite is ook geneem oor operasionele kwessies op kort- tot middel termyn, met inbegrip van kwartaallikse vergaderings wat navorsingsvordering van lede en bestuursake sal bekyk, asook die beplanning van ʼn jaarlikse simposium en die amptelike openingseremonie wat vir vroeg in 2020 beplan word."

Volgens hom sal die kerntemas van die navorsing op die volgende gegrond wees:

  • ​algemene kardio-metaboliese siektes relevant tot die Afrika- en Suid-Afrikaanse konteks: diabetes, vetsug, MIV en dwelmgeïnduseerde kardiotoksisiteit;
  • die organe/weefsel wat deur hierdie siektes geraak word: die hart, vaskulature, endoteel- en vetweefsel;
  • onderliggende meganismes: oksidatiewe stres, inflammasie, seinbane en mitochondriese dinamika; en
  • ondersoek van potensiële intervensies gemik op die voorkoming of behandeling van die siektes/siektetoestande: rooibos, medisinale plante en anti-oksidante.​