Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
UNIVERSITEIT STELLENBOSCH LOOPBAANUITSTALLINGS 2019
Outeur: Marquard Timmey
Gepubliseer: 30/08/2019

Die doel van die Eenheid vir Graduandi-loopbaandienste is om ons studente voor te berei om 'n doeltreffende oorgang na 'n loopbaan te maak en te verseker dat dit 'n betekenisvolle ervaring is. Die oorgang van studies tot 'n loopbaan kan 'n oorweldigende ervaring wees. Gegradueerdes voel soms geïsoleerd, party begin dalk te laat beplan aan die oorgang van studies tot werk, en sommiges vind dit moeilik om te besluit of hulle verder moet studeer of die werkswêreld moet betree. Dikwels koester gegradueerdes onrealistiese verwagtinge van die werkswêreld. 'n Noodsaaklike vaardigheid van die 21ste-eeuse student is die vermoë om vir sy of haar eie loopbaanontwikkeling verantwoordelikheid te neem.

Die Graduandi-Werwingsprogram (GWP) wat deur die Eenheid vir Graduandi-loopbaandienste van die Sentrum vir Studentevoorligting en -ontwikkeling gereël word, bied studente die geleentheid om self beheer te neem van hul loopbaanontwikkeling. As deel van die GWP het die Eenheid vir Graduandi-loopbaandienste die jaarlikse Rekeningkunde-, Algemene en Ingenieurswese-loopbaanuitstallings aangebied. Verskeie maatskappye het van die geleentheid gebruik gemaak om hul loopbaangeleenthede aan US-studente bekend te stel. Die Algemene Loopbaanuitstalling is op Dinsdag, 6 April in markiestente op die Rooiplein aangebied. Nege-en-dertig maatskappye het in 43 stalletjies uitgestal. Die Rekeningkunde-loopbaanuitstalling op Woensdag 7 Augustus het ook in die markiestente op die Rooiplein plaasgevind. By hierdie geleentheid het 38 maatskappye in 50 stalletjies uitgestal. Dit verteenwoordig die meeste stalletjies wat in die markiestente toegelaat was. Tydens die Ingenieurswese-loopbaanuitstalling wat op Donderdag 8 Augustus in Academia se ontspanningsaal gehou is, het 16 maatskappye in 18 stalletjies uitgestal. Ten spyte van die koue en die reën tydens die drie dae, was daar ʼn goeie opkoms deur ons studente. Ongeveer 2784 studente het die Algemene Loopbaanuitstalling besoek. Die Rekeningkunde Loopbaanuitstalling was deur 3534 studente bygewoon, terwyl 858 studente die Ingenieuswese Loopbaanuitstalling bygewoon het. Die loopbaanuitstallings bied aan studente 'n unieke geleentheid om netwerke te smee met die werkgewers wat teenwoordig is. Terselfdertyd kan hulle ook uitvind wat die werkgewers van gegradueerdes wat hulle aanstel verwag, en ondersoek instel na die geleenthede wat hulle aanbied. Hierdie is ook 'n uitstekende geleentheid vir ons studente om hulle vaardighede, ondervinding en kwalifikasies te bemark. Die loopbaanuitstallings is 'n integrerende deel van ons doelwit om sterk loopbaangemeenskappe te skep wat uit studente, werkgewers, alumni, ondersteuningspersoneel en fakulteitspersoneel bestaan. Ons het baie positiewe terugvoer van maatskappye ontvang oor die werkgereedheid van ons studente en hoe hulle tydens hul gesprekvoering met maatskappyverteenwoordigers by die loopbaanuitstallings opgetree het, bv.:

“Dit lyk asof studente navorsing gedoen het voor hulle hierheen gekom het, wat regtig goed is. Studente is beleefd. Goed-georganiseerd."

“Die studente het belangstellend en innemend voorgekom. Sien daarna uit om hulle aan te stel."

“Oor die algemeen goed, ons sal beslis volgende jaar weer hier wees."