Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US-landskap aan die verander met nuwe visuele simbole
Outeur: Asiphe Nombewu /Corporate Communication
Gepubliseer: 29/08/2019

​​Die langverwagte visuele regstellingsprojek van die Universiteit Stellenbosch (US) se afdeling vir Sosiale Impak is vandeesweek onthul.

Die geleentheid om verskeie nuwe kampussimbole bekend te stel, is onder andere deur prof Thuli Madonsela, voormalige Openbare Beskermer en tans bekleër van die leerstoel vir Maatskaplike Geregtigheid en die Reg aan die US se Fakulteit Regsgeleerdheid, en die Suid-Afrikaanse aktrise Quanita Adams bygewoon. Hulle is twee van die 10 voortreflike Suid-Afrikaanse vroulike denkleiers wat in 'n kunsinstallasie bestaande uit 11 bronsfigure voorgestel word. Die figure is in 'n kring op 'n grasperk buite die Neelsie langs die Rooiplein gerangskik en beklemtoon die dinamiese rol wat vroue in gesprekvoering speel.

Die ander vroue wat in die installasie, bekend as “Die Kring", uitgebeeld word, is Krotoa/Eva, die Khoi stammoeder van baie families in Suid-Afrika; die anti-apartheid aktiviste Winnie Madikizela-Mandela, Fatima Meer en Lilian Ngoyi; die skrywer en digter Antjie Krog; die Wimbledon rolstoel-tennisspeler Kgothatso Montjane; die kunstenaar en aktivis Zanele Muholi, en die musikale kunstenaar Dope Saint Jude. Die 11de en laaste bronsfiguur stel al die ander vrouestemme voor wat aangemoedig word om aan die gesprekke deel te neem.

Die kurator van “Die Kring", Stephané Conradie van die US se Departement Visuele Kunste, sê die installasie was 'n gesamentlike poging. “Die kunswerk is geïnspireer deur 'n prent wat ek gesien het van 'n groep Koi-inboorlinge wat in 'n kring sit. Die prent het my aandag getrek, want as studente het ons ook daar in 'n kring gesit. Ons het dit ook goedgedink om vroue op die voorgrond te stel in hierdie projek – vroue wat in die verlede geen stem gehad het nie," het Conradie gesê.

Volgens haar is die kunswerk idealisties, maar hulle hoop dit sal 'n ruimte word waarheen mense kan gaan om te praat, hulself te verootmoedig en begrip vir mekaar te ontwikkel.

Die bekendstellingsgeleentheid het die vorm van 'n wandeltoer aangeneem. Dit het voor die AI Perold-gebou begin waar dr Leslie van Rooi, Senior Direkteur: Sosiale Impak en Transformasie, die gaste verwelkom en 'n oorsig van die visuele regstellingsproses aan die US gegee het.

“Die visuele regstelling-inisiatief fokus daarop om die Universiteit se kampusse te verander in 'n poging om simbole wat sterk aanstoot gee, te verwyder, en om nuwe visuele simbole wat wys op 'n gedeelde geskiedenis, bekend te stel," het Van Rooi gesê.

Volgens Van Rooi het die Universiteit 'n daadwerklike poging aangewend om ruimtes vir dialoog oor openbare simbole en historiese figure te skep. “Daarbenewens is daar spesifieke komitees in plek om 'n Universiteitswye gesprek en benadering oor openbare simbole en die name van geboue te fasiliteer," het hy byvoeg.

Ná die verwelkoming het Van Rooi die gaste op die wandeltoer begelei om die verskillende simbole op die kampus te besigtig. Dit het onder meer die verwelkomingsboodskap in 15 Suid-Afrikaanse tale, insluitende braille, gebaretaal en San, wat in bankies op die Rooiplein gegraveer is, ingesluit. Hulle het ook die kunsuitstallings in die biblioteek, die kaart van die Die Vlakte-gemeenskap wat by die Lettere en Sosiale Wetenskappe-gebou aangebring is, asook die Adam Small-teaterkompleks besoek.

Van Rooi het gesê die bekendstelling van die projek was 'n doelbewuste en gestruktureerde proses om diepgaande verandering in die Universiteit se ruimtes, sy mense en programme te bewerkstellig.

Prof Nico Koopman, Viserektor: Sosiale Impak, Transformasie en Personeel by die US, het gesê die projek is 'n innoverende installasie op die US-kampus.

In sy toespraak by die Adam Small-teaterkompleks, het Koopman dit duidelik gestel dat transformasie 'n ingebedde proses by die Universiteit is wat in alle omgewings toegepas gaan word.

“Ons is as 'n instelling verbind tot waardigheid, ons is daartoe verbind om wonde te genees en om vryheid en versoening te bewerkstellig. Moet asb nie dink dat die US net regmerkies in die kassies langs visuele regstelling en transformasie wil maak nie; dit is deel van ons reis en deel van die instelling se reis," het hy aan die gehoor gesê.