Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Universiteit Stellenbosch stel nuwe visuele simbole bekend
Outeur: Corporate Communication/ Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 26/08/2019

“Die Kring", 'n brons kunsinstallasie bestaande uit 11 voortreflike Suid-Afrikaanse vroulike denkleiers, is die jongste inisiatief wat deel uitmaak van 'n uitgebreide visuele regstellingsproses op die kampusse van die Universiteit Stellenbosch (US).

Die installasie, wat in 'n kring op 'n grasperk langs die Rooiplein gerangskik is, beklemtoon die dinamiese rol wat vroue in gesprekvoering speel.

Prof Nico Koopman, Viserektor: Sosiale Impak, Transformasie en Personeel, sal Maandag, 26 Augustus die kunsinstallasie, 'n toonbeeld van die Universiteit se verbintenis tot die verskaffing van 'n transformerende studente-ervaring, amptelik open.

Die bekendstellingsgeleentheid, wat om 17:30 begin, sal die vorm van 'n wandeltoer aanneem. Dit begin voor die AI Perold-gebou en sal 'n besigtiging van die nuutste visuele regstelling-installasies by die US Biblioteek, die hoofgebou van die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe, asook die Adam Small-teaterkompleks insluit.

Die vroue wat verteenwoordig word in Die Kring is Krotoa/Eva, die Khoi stammoeder van baie families in Suid-Afrika; prof Thuli Madonsela, voormalige Openbare Beskermer en tans bekleër van die leerstoel vir Sosiale Geregtigheid en die Reg aan die US se Fakulteit Regsgeleerdheid; die anti-apartheid aktiviste, Winnie Madikizela-Mandela, Fatima Meer en Lilian Ngoyi; die aktrise Quanita Adams; die skrywer en digter, Antjie Krog; die Wimbledon rolstoel tennisspeler, Kgothatso Montjane; die kunstenaar en aktivis, Zanele Muholi, en die musikale kunstenaar, Dope Saint Jude. Die laaste vrou stel al die ander vrouestemme voor wat aangemoedig word om aan die gesprekke deel te neem.

Die installasie sal personeel en studente op kampus in staat stel om bymekaar te kom en gedagtes uit te ruil in 'n ruimte waar almal ingesluit voel. Dit volg nadat verskeie geboue die afgelope paar jaar hernoem, en kunsinstallasies en boodskappe van verwelkoming in 15 tale (wat braille, gebaretaal en San insluit) op banke op die Rooiplein aangebring is. Dit is alles deel van 'n poging om 'n inklusiewe omgewing te kweek.

“Die Kring" is rolstoelvriendelik, terwyl 'n kort beskrywing van elke persoon asook 'n volledige kontekstualisering van die inisiatief in Afrikaans, Engels en Xhosa tot die kunswerk bygevoeg gaan word.

“Die projek maak deel uit van 'n uitgebreide visuele regstellingsproses op die US se kampusse in 'n poging om onder meer simbole wat sterk aanstoot gee, te verwyder, maar veral om nuwe visuele simbole wat wys op 'n gedeelde geskiedenis, ons verskeidenheid van stories en openbare ruimtes wat verwelkomend is vir almal, daar te stel," verduidelik dr Leslie van Rooi, Senior Direkteur: Sosiale Impak en Transformasie.

Dié proses het reeds jare gelede afgeskop en vordering is oor die laaste paar jaar gemaak om studente- en personeel-vriendelike leef- en werkruimtes te skep wat voldoen aan die behoeftes van ʼn diverse groep studente, personeel en ander belanghebbers, en wat 'n verwelkomende kampuskultuur bevorder.

“Daarmee saam het die Universiteit ʼn daadwerklike poging aangewend om ruimtes vir dialoog oor openbare simbole en historiese figure te skep. Daarbenewens is daar spesifieke komitees in plek om 'n universiteitswye gesprek en benadering oor openbare simbole en die name van geboue te fasiliteer," voeg Van Rooi by.

MEER OOR “DIE KRING"

“Anders as ander vorme van kuns in publieke areas, soos byvoorbeeld standbeelde, is die vroue hier verteenwoordig in 'n kring," sê me Stephané Conradie van die US se Departement Visuele Kunste en kurator van die projek. “Hierdie vorm van die gesamentlike kunswerk asook die feit dat almal sit, breek 'n sterk vorm van mag en wys juis op interaksie met die publiek op so 'n manier dat dit ons nooi om deel te word van die gesprek. Die kunswerk is dus nie verhewe bo almal nie en poog juis om iets van die kultuur van simbole in publieke ruimtes te vernuwe."

Mnr Jacques Buys van die Stellenbosch Art Foundry het die kunswerk vervaardig.

Gemik op gesprekvoering

Conradie verduidelik dat bronsbeelde en monumente gereeld geassosieer word met groot standbeelde – gewoonlik groter as lewensgroot – van figure in 'n heroïese posisie met 'n gevoel van glorie wat uitgestraal word. “In teenstelling hiermee bring Die Kring vroueleiers byeen in 'n openbare ruimte wat sinoniem is met lewenskragtige interaksie en dag-tot-dag-gesprekke. Dit word sodoende deel van sowel die ruimte as die gesprekke wat elke dag hier plaasvind. Hul 'spraak' verweef intense gesprekvoering oor ernstige onderwerpe met lighartige geklets – met mekaar en met ons."

Sy voeg by dat die figure alle vroue verteenwoordig, “maar soos hulle nederig op die grond sit, verteenwoordig hulle ook die universele menslike behoefte om na geluister te word. Op hierdie manier staan die kunswerk die gewone magshiërargie teen wat met historiese monumente en beelde gepaard gaan."