Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Logistiekdosent wen konferensie-toekenning
Outeur: Ronél Beukes
Gepubliseer: 22/08/2019

By die onlangse jaarlikse Suider-Afrikaanse Vervoerkonferensie by die WNNR in Pretoria is mnr Johann van Rensburg, logistiekdosent aan die Universiteit Stellenbosch, bekroon met die toekenning vir die Beste Referaat deur 'n Jong Professionele Persoon (onder 35).

Sy referaat, Disruptive transport technologies: Forecasting the impact on road-generated revenues in South Africa, het die toekenning van die Vervoeringenieursafdeling van die SA Instituut vir Siviele Ingenieurswese (SAICE) by die konferensie gewen. Dit het 'n kontantprys, boeke en 'n sertifikaat ingesluit.

Dit is die derde keer die afgelope vyf jaar dat Van Rensburg hierdie prys gewen het vir 'n referaat wat vir publikasie voorgelê en by die konferensie aangebied is. Al drie die referate maak deel uit van sy PhD-studies.

Lee-Thomas Smith, ˈn meestersgraadkandidaat in Vervoerekonomie wat met behulp van die studieleiding van Van Rensburg studeer, het die opstelkompetisie vir studente gewen. Dit word toegeken aan 'n navorsingsopstel wat vir publikasie voorgelê en by die konferensie aangebied word.

Alle geregistreerde voor- en nagraadse studente aan tersiêre instellings kan aan die opstelkompetisie deelneem. Studente moes 'n opstel van vyf bladsye  voorberei oor die 2019-konferensietema, naamlik "Disruptive Transport Technologies – is South and Southern Africa ready?"

Smith het ook 'n toekenning ontvang vir die beste studentebydrae by dieselfde konferensie.