Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
#WomenofSU: Dr Mpho Tlale
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie [Alec Basson]
Gepubliseer: 22/08/2019

Asof hulle nie reeds genoeg het wat hulle moet hanteer nie, gaan baie vroue in Suid-Afrika gebuk onder 'n gebrek aan eiendomsreg-sekerheid omdat hulle nie toegang het tot of beheer het oor gemeenskaplike grond nie. In haar navorsing, werp dr Mpho Tlale, 'n postdoktorale navorsingsgenoot van die Suid-Afrikaanse Navorsingsleerstoel vir Eiendomsreg by die Fakulteit Regsgeleerdheid, lig op die hierdie ongeregtigheid en toon sy hoe patriargale gewoontenorms en -praktyke dit laat voortbestaan.

As deel van Suid-Afrika se Vrouemaandvieringe, vertel sy meer oor hoe haar navorsingswerk 'n verskil in vroue se lewens maak.

Vertel ons meer oor jou navorsing.

My algemene belangstel is in gemeenskaplike eiendomsregstelsels van lande in Afrika. Dit is waar grond nie onderworpe is aan individuele beheer of gebruik nie, maar waar die gemeenskap eerder die grond besit en gebruik. My proefskrif het probeer vasstel of eiendomsreg veilig is in Suid-Afrika se landelike gebiede waar grond gemeenskaplik gebruik word. My navorsing het meer spesifiek probeer vasstel of vroue toegang het tot of beheer het oor gemeenskaplike grond. Ongelukkig het ek bevind dat Suid-Afrikaanse vroue baie minder toegang tot gemeenskaplike grond as mans het. Hierdie gebrek aan grondbesit kan meestal toegeskryf word aan die gewoontenorme en -praktyke wat hoofsaaklik patriargaal van aard is. Gewoontereg bevorder mans se grondeienaarskap bo dié van hul vroulike eweknieë. Vroue se grondeienaarskap is dikwels verbind aan hul verhoudings met mans, naamlik as moeders na seuns, as vrouens na hul mans en as dogters na vaders. Dit is dus vanselfsprekend dat die bestaande toestand moet verander: Vroue moet in hul eie reg grond kan besit, en nie net as sekondêre partye nie.

Hoe of hoekom het jy in hierdie spesifieke navorsingsveld begin belangstel?

Ek is oorspronklik van Lesotho en vir so ver terug as wat ek kan onthou, was daar maar altyd 'n storie van 'n weduwee, gewoonlik 'n werklose, landelike vrou, wat van haar familie-eiendom af verjaag is kort na haar man se dood. Dit het my altyd baie gepla en dit maak my vandag nog steeds woedend! Daarom was my besluit om in die regte te studeer hoofsaaklik 'n manier om hierdie ongeregtigheid aan bande te lê, maar dit het noodsaaklikerwyse tot my navorsingsbelangstelling gelei. Soos ek verder studeer het, het ek agtergekom dat die meerderheid van vroue in Afrika dieselfde realiteite in die gesig staar. Daarom is dit vir my so bevredigend om oor vrouesake navorsing te doen.

Hoekom dink jy is dit so 'n belangrike navorsingsveld vir Suid-Afrikaanse vroue?

Daar is meer vroue as mans in Suid-Afrika: Uit 'n groep van 1 000 mense wat die land se bevolking van 'n geskatte 58 miljoen verteenwoording, is 511 vroue en 489 mans. Vroue maak dus rofweg 51% van die land se bevolking uit. In die konteks van die algemene onsekere Suid-Afrikaanse gemeenskaplike eiendomsregstelsel, dra vroue die swaarste aan die las van eiendomsregonsekerheid. Duidelik is daar baie wat hier verken moet word. Ek hoop my bydrae kan meer toevoeg tot hierdie vakgebied se kennisrykdom.

Wat beskou jy as die grootste invloed van jou navorsing op vroue in die land?

Niks sal my gelukkiger maak nie as om ten minste net een vrou te help om toegang tot en beheer oor gemeenskaplike grond te kry sonder dat haar grondbesit aan 'n man gekoppel is. Om ten minste een vrou se afsetting te voorkom en om een vrou oor haar eiendomsregte op te voed, sal al klaar 'n groot verskil maak. Ek glo ook dit sal 'n groot bydrae lewer om te verseker dat vroue toegang tot en beheer oor gemeenskaplike grond verkry en uiteindelik eiendomsreg van die grond kan verseker. Soos die spreekwoord lui: Wanneer vir jy 'n man iets leer, leer jy 'n man. Wanneer jy 'n vrou leer, leer jy 'n hele geslag.

Wat is jou boodskap aan die volgende generasie vrouenavorsers?

Vind 'n vakgebied waaroor jy passievol is en werk volstoom daaraan; op hierdie manier sal dit nooit soos werk voel nie. Wanneer jy dit gevind het, staan jou plek vol, veral in vakgebiede wat tradisioneel vir mense wat anders as jy is, bestem was.