Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
FGGW-dosent se toekenning bevorder palliatiewe geneeskunde
Outeur: Susan Erasmus
Gepubliseer: 19/08/2019

Dr Henriette Burger van die Afdeling Stralingsonkologie by die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) het onlangs 'n ASCO IDEA-toekenning ontvang van Conquer Cancer, en het in Junie na Chicago gereis om dit in ontvangs te neem.

Die sogenaamde International Development and Education Award in Palliative Care (IDEA) van die Amerikaanse Vereniging van Kliniese Onkologie (American Society of Clinical Oncology [ASCO]) ondersteun die professionele ontwikkeling van vroeë-loopbaan onkoloë in lae- en middelinkomste lande oral ter wêreld. Dit word gedoen deur die daarstelling van mentor-verhoudinge tussen hierdie vroeë-loopbaan onkoloë (wat 'n spesifieke belangstelling het in palliatiewe gesondheidsorg) met onkologie-leiers wat in Kanada en die Verenigde State gebaseer is, en spesialiste in die veld is. 

Uit die 30 aansoekers uit lae- en middelinkomste lande van dwarsoor die wêreld, is vyf toekennings toegestaan in 2019. 

"Die toekenning bied mediese opleiding in palliatiewe sorg en die toekenning sluit die bywoning van die 2019 ASCO se Jaarlikse Vergadering in, asook 'n besoek daarna aan die mentor se instituut, met die oog op die ontwikkeling van 'n lang-termyn kennisdeel-verhouding om palliatiewe onkologie-behandeling in die ontvanger se land van herkoms te ontwikkel," sê Burger. 

Burger se mentor is Professor Eduardo Bruera, Hoof van die Departement van Palliatiewe, Rehabiliterende en Integrerende Gesondheid by die Universiteit van Texas se MD Anderson Kankersentrum in Houston, Texas. 

Soos bo vermeld, word die toekenning gegee aan vroeë-loopbaan onkoloë, met 'n spesifieke belangstelling in palliatiewe gesondheidsorg, wat waarskynlik leiers op hulle gebied sal word. 

"Die ontvangers sal werklike baat vind by die opvoedkundige en loopbaanontwikkelingsgeleenthede wat die toekenning bied, " volgens Burger. "Die hoofdoel van die toekenning is om die wye disseminasie van kennis en vaardighede te verseker, so ontvangers moet hulleself toewy daaraan om die kennis en die opleiding wat hulle ontvang het deur die program met kollegas te deel wanneer hulle terugkeer na hulle lande van herkoms." 

So wat beteken hierdie toekenning vir Burger op 'n persoonlike vlak? 

"Hierdie toekenning maak dit vir my moontlik om 'n professionele mentor-verhouding op te bou met Professor Bruera wat 'n groot belangstelling het in die ontwikkeling van palliatiewe gesondheidsorg dwarsoor die wéreld. Hy het ook wye ervaring in navorsing, onderwys en opleiding, publikasie and beleidmaking in hierdie veld op beide 'n plaaslike en wêreldwye vlak. 

"Dit is erkenning vir die werk wat ek gedoen het in die veld van palliatiewe gesondheidsorg en dit motiveer en inspireer my om my werk voort te sit as die voorsitter van die voorgraadse en nagraadse palliatiewe gesondheidsorg-modules wat by die Universiteit Stellenbosch aangebied word. 

"Dit versterk die verhouding wat die US reeds het met die MD Anderson Kankersentrum deur die ECHO Tele-mentor-projek in samewerking met die Afrika-Kanker-instituut. 

Toe sy gevra is oor haar spesifieke navorsingsbelangstellings, het Burger gesê dat sy tans ingeskryf is vir haar Meestersgraad in Palliatiewe Gesondheidsorg by die Universiteit van Kaapstad. Hiervoor sal sy kommunikasie-voorkeure ondersoek wat verband hou met gevorderde sorgbeplanning in multi-kulturele onkologie-opsette. Haar ander belangstellings sluit onderrig en opleiding in palliatiewe gesondheidsorg en palliatiewe radioterapie.