Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Heengaan van ’n merkwaardige Suid-Afrikaanse wiskundige
Outeur: Media & Communication, Faculty of Science
Gepubliseer: 13/08/2019

Dit is met groot hartseer dat die Departement Wiskundige Wetenskappe by die Universiteit Stellenbosch (US) kennis neem van die heengaan van Professor Dirk Laurie (1946-2019).  Hy het op Saterdag 10 Augustus 2019 in die ouderdom van 73 by sy huis in Franskraal gesterf ná ernstige gesondheidsprobleme die afgelope ses maande.

Professor Laurie het in 2007 afgetree na 'n loopbaan van 38 jaar in wiskunde navorsing, eers by die WNNR se Nasionale Navorsingsinstituut vir Wiskundige Wetenskappe (15 jaar), en daarna as houer van navorsingsleerstoele by Noordwes-Universiteit (17 jaar) en die US (6 jaar).  Hy het in 1977 sy doktorsgraad in wiskunde onder studieleiding van Professor Ron Mitchell aan die Universiteit van Dundee, Skotland verwerf.

In 2006 het hy die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns se Havengaprys vir Wiskundige Wetenskappe ontvang.

In 'n roubetoon in NA Digest, skryf medewiskundige Professor André Weideman dat Laurie betekenisvolle bydraes tot verskeie velde in numeriese analise gemaak het, waaronder kwadratuur en lineêre algebra. Hy was die outeur of mede-outeur van meer as 40 portuurbeoordeelde artikels, soos gelys in Mathematical Reviews.  In 2002 was hy een van vyf solo-wenners van die internasionale “SIAM 100-digit Challenge, 'n kompetisie wat deur Professor Nicholas Trefethen van Oxford Universiteit uitgeskryf is waarin tien uitdagende probleme in numeriese analise opgelos moes word. Hy was ook medeskrywer van 'n topverkoper boek oor dié tien probleme – een van die bakens van die moderne berekeningswiskunde.

Die Suid-Afrikaanse Wiskunde Olimpiade was een van sy passies en vir nagenoeg 30 jaar was hy betrokke by die opstel van die vraestel van die finale ronde van die Suid-Afrikaanse Wiskunde Olimpiade. Hy het die Suid-Afrikaanse span by ses geleenthede na die Internasionale Wiskunde Olimpiade vergesel.

Buite die akademie was hy bekend as 'n kranige skaakspeler ('n voormalige Suid-Afrikaanse skole-kampioenskaakspeler), hy was lief vir musiek (koorsang en blokfluitspeel), kriptiese blokkiesraaisels (beide die samestelling en fisiese uitleg daarvan deur middel van die LaTeX-sagtewarepakket wat hy ontwikkel het), en die oplos van raaisels oor die algemeen.

In sy jonger dae was hy 'n bekende gesig op Suid-Afrikaanse televisie, waar hy aan algemene kennis vasvraeprogramme soos Flinkdink deelgeneem het, en oor verkiesings kommentaar gelewer het. Tot en met sy dood was Professor Laurie Natuurewetenskappe-redakteur (en stigterslid) van die eerste geakkrediteerde Afrikaanse aanlynjoernaal, LitNet Akademies. Hy was passievol oor Afrikaans.

Professor Ingrid Rewitzky, hoof van die Departement Wiskundige Wetenskappe by die US, sê almal by die departement koester mooi herinneringe aan dié besondere wiskundige en betuig hul innige meegevoel en simpatie met familie en vriende.

Prof Dirk Laurie word oorleef deur sy vrou Trienke, en hul vyf seuns: Henri, Diederik, Dirk Pieter, Van Reenen en Kestell.

Op die foto bo, links: Prof Dirk Laurie vroeër vanjaar tydens die toekenning van 'n eredoktorsgraad aan Professor Nicholas Trefethen. Van links na regs, Prof Ben Herbst, Prof André Weideman, Prof Nicholas Trefethen en Dr Nick Hale.