Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Slattery orkestreer historiese oorwinning in wêreldwye gholftoernooi
Outeur: Daniel Bugan
Gepubliseer: 07/08/2019

Die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe se wêreldklasgholfspeler, prof Garrett Slattery, het weereens sy slag op die gholfbaan gewys toe hy 'n res-van-die-wêreld span tot oorwinning oor 'n Noord-Amerikaanse span in die vierde ISPS Handa Vision-beker gelei het.

Die Vision-beker, wat in Junie by die Portmarnock Links in Dublin, Ierland, plaasgevind het, is 'n tweejaarlikse toernooi soortgelyk aan die Ryder-beker, waar die 12 top blinde gholfspelers van Noord-Amerika met die 12 top gholfspelers in die res van die wêreld meeding.

Die toernooi het aanvanklik in 2013 as die Resmeyer-beker die lig gesien, maar is daarna hernoem tot die ISP Handa Vision-beker. Dis die eerste keer in 2013 by die Green Island Gholfklub in Columbus, Georgia in die VSA gehou.

Slattery, 'n professor in aktuariёle wetenskap, het nie net die span van die res-van-die-wêreld aangevoer nie; hy het ook al drie sy wedstryde gewen.

Maar daar's meer. Slattery se span het boonop daarin geslaag on die Noord-Amerikaners met 'n ongelooflike 15.5-8.5 te wen – die grootste wentelling in die geskiedenis van die kompetisie.

“Van ons almal, wel gedaan, Garrett, en ook aan die res van die span!" het prof Paul Mostert, voorsitter: Departement Statistiek en Aktuariёle Wetenskap, gesê.

Dis nie Slattery se eerste oorwinning op die wêreldverhoog nie. In 2014 het hy die B2-wêreldtitel by die wêreldkampioenskapsbyeenkoms van die International Blind Golf Association in Sydney, Australiё gewen.

Die B2-kategorie is vir spelers wat op 2 m minder sien as wat 'n persoon sonder gesiggestremdheid op 60 m sien.

  • Foto 1: Die kaptein van die res-van-die wêreld-span, prof Garrett Slattery, saam met die Noord-Amerikaanse spankaptein, me Linda Port, en die kaptein van die R&A*, Chris Hilton.
  • Foto 2: Prof Garrett Slattery en sy gids, mnr Erich Kliem, met die Vision-beker. (Beide foto's verskaf.)
    *R&A (Royal & Ancient) is die internasionale gholfliggaam wat gholf bevorder en aktiwiteite the bate van gholf as sport ondersteun.