Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US baanbreker op pad na haar PhD
Outeur: Corporate Communication/Korporatiewe Kommunikasie [Rozanne Engel]
Gepubliseer: 30/07/2019

Die Universiteit Stellenbosch (US)-student Nomzamo Ntombela is 'n ware baanbreker. Sy is die eerste generasie van haar familie wat gegradueer het; in 2017 het sy die eerste swart vrou geword om as voorsitter van die US-studenteraad verkies te word; en nou het sy een van die baie min US-studente geword om net met 'n honneursgraad tot 'n doktorale studieprogram aan die Michigan State-universiteit (MSU) in die VSA toegelaat te word.

Die US het vroeër vanjaar 'n geskiedkundige akte van verstandhouding met die Michigan State-universiteit aangegaan waarvolgens die twee universiteite onderneem het om internasionale samewerking in onderrig, navorsing en gemeenskapsbetrokkenheid by beide instellings te bevorder.

Die ooreenkoms spruit uit 'n versoek wat albei universiteite aan die Mellon-stigting gerig het vir ondersteuning om die bestaande Ubuntu Dialoë-projek oor 'n drie-jaar tydperk uit te bou; om herhaalbare raamwerke vir universiteitsmuseums in Afrika en elders te ontwikkel; en om saam te werk om dinamiese omgewings vir die sameskepping en verspreiding van kennis en praktyke deur plaaslike en internasionale dialoë te produseer. Die Ubuntu Dialoë was vir 'n Nomzamo 'n platform om blootstelling aan die MUS te kry voordat die akte van verstandhouding onderteken. Dit dien dus as 'n bewys van die talle geleenthede wat hierdie tipe ooreenkoms vir die studentegemeenskap kan inhou.

Volgens Nomzamo het dosente van die Afrikastudiesentrum aan die MSU haar aangemoedig om vir 'n doktorale program by die Amerikaanse universiteit aansoek te doen toe sy hulle verlede jaar besoek het as deel van die Ubuntu Dialoë-program en hul Jaar van Globale Afrika-simposium waar jong geleerdes van beide universiteite hul navorsing kon aanbied en idees uitruil.

“Ek het aangehou om vir hulle te sê dat ek nie 'n meestersgraad het nie en nie gedink het ek sou vir die program aanvaar word nie. Nadat ek egter tyd gehad het om daaroor na te dink, en by my terugkeer na Stellenbosch met mense by die US gepraat het, het almal my gemotiveer om wel aansoek te doen."

Personeellede by die Departement Antropologie, die US Universiteitsmuseum en van verskeie ander afdelings by die US het Nomzamo gementor en haar gehelp om vir die PhD-program aanvaar te word – 'n buitengewone prestasie vir 'n honneursstudent wat nog hul meestersgraad moet voltooi. Sy het ook die nagraadse rekordeksamen (of te wel die GRE), 'n gestandaardiseerde toets en 'n toelatingsvereiste by die meeste nagraadse skole in die Verenigde State, met vlieënde vaandels geslaag. As deel van die PhD-program by die MSU sal sy die keuse hê om 'n meestersverhandeling in die eerste paar jaar van haar studies te voltooi om as oorbrugging van 'n honneursgraad direk na haar PhD-studies te dien.

Die PhD-program by die MSU is deel van die Departement Geskiedenis en die Kollege vir Sosiale Wetenskappe en sal 'n interdissiplinêre kursus wees. Nomzamo se honneursstudies in Afrikageskiedenis aan die US – 'n vak waarvan sy nooit gedroom het nie – sal as 'n hefboom hiervoor dien.

“Ek het nie Geskiedenis as 'n vakkeuse op skool gehad nie. Ek het eers van Geskiedenis te wete gekom toe ek Stellenbosch toe gekom het; miskien nie die gemaklikste manier waarvoor 'n mens kan vra nie, maar dit was beslis vir my 'n groot ding. Dit het my gehelp om te ontdek wie ek is en waar ek vandaan kom, en dit het vir my die stukrag gegee om te word wie ek in die toekoms wil wees."

Nomzamo hoop ook dat haar reis aan die MSU sal help om ander te motiveer en 'n verskil in hul lewens te maak, veral vir swart vroue wat 'n loopbaan in die akademie wil volg.

“Om die eerste generasie-student te wees, het reeds 'n verskil in my familie se lewe gemaak. Ek wil regtig in verskil maak en meer swart vroue inspireer en help om ruimtes binne te dring waar hulle nie voorheen toegelaat is nie. Ek wil deur wat ek doen en wat ek reeds bereik het sover, mense help om in hulself te glo. Dit verg regtig net daardie een mens om in jou te glo of jou te ondersteun om iets te doen wat jy nog nooit vantevore gedoen het nie en ek hoop ek kan daardie mens vir iemand anders wees."

__________________________________________________________________________________

Vir meer artikels oor die Ubuntu Dialoë-program en die vennootskap tussen die US en die MSU, klik op die onderstaande skakels:

http://www.sun.ac.za/afrikaans/Lists/news/DispForm.aspx?ID=6194

http://www.sun.ac.za/afrikaans/Lists/news/DispForm.aspx?ID=6399