Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US maak geskiedenis saam met Michigan State University
Outeur: Corporate Communication/Korporatiewe Kommunikasie [Rozanne Engel]
Gepubliseer: 01/03/2019

“Dit is 'n geskiedkundige geleentheid en ek is seker dat wanneer ons twintig jaar van nou af terugkyk, ons die belangrikheid van vandag se ooreenkoms sal besef."

Dit was Bongani Mgijima, Direkteur van die Universiteit Stellenbosch Museum, se blye woorde gister (21 Februarie). Die Universiteit Stellenbosch (US) het gister saam met die Michigan State-universiteit (MSU) geskiedenis gemaak toe lede van die MSU en die US 'n memorandum van verstandhouding by 'n amptelike seremonie onderteken het. Die partye het ooreengekom om internasionale samewerking op die gebiede van opvoeding, navorsing en gemeenskapsbetrokkenheid by albei universiteite te bevorder.

Die ooreenkoms spruit uit 'n versoek vir ondersteuning wat die twee universiteite aan die Mellon-stigting gerig het vir sodat hulle 'n bestaande inisiatief, die Ubuntu-dialoëprojek, oor 'n tydperk van drie jaar kan uitbou; sodat hulle 'n raamwerk vir universiteitmuseums kan ontwikkel wat deur ander in Afrika en elders gevolg kan word; en sodat hulle kan saamwerk om dinamiese ruimtes te vestig vir die saamskepping en verspreiding van kennis en praktiese toepassing deur middel van plaaslike en internasionale dialoog.

Volgens dr Leslie van Rooi, Seniordirekteur: Sosiale Impak en Transformasie, het die Andrew W Mellon-stigting 'n aansienlike bydrae gemaak wat curricula by beide instellings sal verbind. “Gegewe die beduidende bydrae oor 'n langer tydperk, hoop ek dit sal die museums se stem en posisie binne 'n breër akademiese raamwerk verstewig en akademici in staat stel om op 'n ander transformatiewe leerondervinding by ons studente betrokke te raak. “

Die amptelike ooreenkoms hou ook 'n ander geskiedkundige betekenis in, aangesien die MSU en die US aan teenoorgestelde kante van die skeiding wat deur apartheid veroorsaak is, was. In die sewentigerjare het die MSU besluit om hul beleggings by Amerikaanse maatskappye wat met Suid-Afrika handeldryf, te onttrek. Voor 1994, het die MSU ook 'n doelbewuste besluit geneem om net saam met historiese swart universiteite in Suid-Afrika te werk.

“Die Michigan State-universiteit wou in die sewentigerjare weens politieke redes niks met Suid-Afrika te doen hê nie, en voor 1994 wou die MSU weens dieselfde rede nie met universiteite soos Stellenbosch saamwerk nie. Die ooreenkoms met die MSU is dus 'n groot keerpunt aangesien beide die MSU en die US groot transformasie ondergaan het. Ons neem Ubuntu na die wêreld," sê Mgijima.

Die hoofdoelwitte en strewes van die Ubuntu-dialoë tussen die MSU en die US is om brûe tussen jongmense in Suid-Afrika en die VSA te bou, om instellings te transformeer deur samewerkende leerverbintenisse, om jongmense se lewens deur diensleer te verander en om die digitale skeiding tussen die Noorde en die Suide te oorbrug.

Prof Jamie Monson, Direkteur van die Sentrum vir Afrikastudie en professor in Geskiedenis by Michigan Staat-universiteit wat ook die ondertekening van die ooreenkoms bygewoon het, het Woensdag (20 Februarie) die Ubuntu-dialoë afgeskop toe sy die hoofspreker was by die US-museum se Ubuntu-dialoogbespreking.

Sy het beklemtoon hoe merkwaardig die nuwe vennootskap tussen die MSU en die US is.

“Ons is baie trots op die invloed en transformasie en dat die studente wat ons werf, in die ooreenkoms genoem word as studente wat uit die onderverteenwoordige of histories onderverteenwoordige gemeenskappe aan beide kante afkomstig is. Ons is besig om ons universiteit te transformeer en hopelik sal transformasie hier ook plaasvind sodat ons van mekaar kan leer in 'n saamgeskepte projek," het Monson gesê.

Die ooreenkoms tussen die US en die MSU sal help om samewerkende tentoonstellings en versamelings te skep en die uitruil van professionele personeel, vakkundiges, studente en navorsing en gesamentlike sosiale impak-projekte tussen die twee instellings bewerkstellig. Die twee universiteite sal ook kan saamwerk op die gebied van professionele ontwikkeling en tegniese kennis en die skryf van versoeke vir skenkings en fondsinsameling vir gesamentlike projekte.

*Vir meer inligting oor die Ubuntu-dialoë, skakel Natasha Cotman by 021 808 3691 of stuur 'n e-pos na ncoltman@sun.ac.za

In die foto sit van link tot regs: Prof J Monson (MSU), Prof W de Villiers (US) and Prof N Koopman (US). Staande van links tot regs: Ms L Hinds (MSU), Dr L van Rooi (US), Ms N Coltman (US), Prof K Dewhurst (MSU), Prof M Macdowell (MSU), Mr B Mgijima (US), Mr U Wolff (US) and Mr R Kotze (US).