Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Trek jou hardloopskoene aan vir #Move4Food!
Outeur: Development & Alumni / Ontwikkeling & Alumni
Gepubliseer: 16/07/2019

​Die 2019 Sanlam Kaapstadse Marathon (15 September) is om die draai, wat beteken daar is nog 'n geleentheid vir personeel van die Universiteit Stellenbosch (US) om die student-gedrewe #Move4Food-veldtog te ondersteun.

Die # Move4Food-veldtog het in Augustus 2018 afgeskop met 'n teiken van R10 miljoen rand om voedselonsekerheid onder studente op ons kampusse te beveg. Tot op hede is meer as R1 miljoen in skenkings en goedere ingesamel.

Vroeër vanjaar het prof Wim de Villiers aan die Kaapstad-fietstoer deelgeneem om geld vir #Move4Food in te samel en verlede jaar het hy die volle Sanlam Kaapstadse Marathon (42,2 km) voltooi vir hierdie waardige inisiatief. Vanjaar sal prof De Villiers egter in September in Londen wees, waar hy saam met mede-Maties die Londen na Brighton Fietsrit gaan aanpak om beursgeld vir studente in te samel. 

So, hoe kan JY help? Trek asseblief jou hardloopskoene aan en #Move4Food! Of jy nou die 10km, die volle marathon van 42,2km of die korter roetes aflê, kom wys wat in jou steek, en help om voedselonsekerheid op ons kampusse te beëindig.

Maak só om in te skryf:

  • As jy reeds jou kaartjie vir die marathon gekoop het, kan jy vir Maties se #Move4Food-span inskryf deur 'n e-pos na ontwikkeling@sun.ac.za te stuur.
  • As jy nog nie jou kaartjie het nie, bied ons jou 25% afslag op inskrywings vir die wedlope van 42,2 km en 10 km. Kaartjies vir die 5km en veldloop is ook beskikbaar.
  • Stuur 'n e-pos na ontwikkeling@sun.ac.za en kry 'n koeponkode waarmee jy op die webtuiste van die Kaapstad-marathon kan registreer.
  • Sodra jy geregistreer het, sal jy verdere inligting ontvang oor hoe jy onder jou vriende, kollegas en familie kan geld insamel om mede-Maties ook húlle “wenstreep" te help oorsteek.

Is hardloop nie vir jou nie? Maak dan 'n geldelike bydrae by https://www.givengain.com/cc/su100/.  Of, as jy planne het om later vanjaar aan enige ander sportaktiwiteit deel te neem, stuur 'n e-pos na ontwikkeling@sun.ac.za sodat ons jou kan help om jou Matie-trots te wys en die #Move4Food-veldtog te ondersteun.

  • ​Foto: #Move4Food-ondersteuners tydens verlede jaar se Marathon.