Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Toep simuleer Apollo 11 se figuur-agt pad om die maan
Outeur: Wiida Fourie-Basson
Gepubliseer: 16/07/2019

'n Wiskundige van die Universiteit Stellenbosch en 'n groot aanhanger van die Apollo 11 missie, dr. Bruce Bartlett, het 'n toep gebou wat die vaartuig se figuur-agt vlug rondom die maan uitbeeld.

Moonshot! is 'n interaktiewe simulasie, met agtergrondinligting, en gemik op enigeen wat in ruimtevaart belangstel.

“Dit is baie maklik om te speel. Nuuskierigheid oor wat regtig gebeur het, is die enigste voorvereiste. En as jy lus het, kan jy van die kontroles verander," verduidelik hy.

Die Apollo-program het hom al van kleintyd af geïnspireer: “Ek kan onthou hoe beide my ouers met groot verwondering hieroor gepraat het, oor hoe hulle oor die radio geluister het toe Neil Amstrong die eerste man was wat op die maan geland het.

“Ek wou altyd een van die wetenskaplikes in die beheerkamer gewees het. Dié wat somme maak en hul baan rondom die maan bereken en dan opspring en juig wanneer hulle dit reggekry het. Nou is ek 'n wiskundige en kry ek uiteindelik die geleentheid!" lag hy.

Die toep is beskikbaar op dr. Bartlett se webwerf by https://math.sun.ac.za/bbartlett/assets/moonshot.html

Dr. Bartlett reken die maanlanding was 'n grensskuiwende oomblik in die mensdom se geskiedenis en moet gevier word.

Navrae

Dr Bruce Bartlett

E-pos: bbartlett@sun.ac.za

Tel: 021 808 3283