Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
MSc in Biostatistiek in volle swang
Outeur: Susan Erasmus
Gepubliseer: 12/07/2019

Die MSc-graad in Biostatistiek wat onlangs deur die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe se Afdeling Epidemiologie en Biostatistiek bekend gestel is, het reeds tien ingeskrewe studente. Hulle is betrokke by projekte wat 'n wye verskeidenheid van onderwerpe betrek, insluitend MIV, rumatoïede artritis, kanker en verkragting.

Maar wat behels die program en hoe kan dit help om kliniese en openbare gesondheidsprobleme te takel?

Wat is biostatistiek?

Biostatistiek is die tak van statistiek wat te make het met hoe besluite geneem moet word wanneer bio-mediese data ontleed word. Dit is 'n ontwikkelende dissipline wat ten doel het om duidelike reëls en riglyne te formuleer om te kompenseer vir die feilbaarheid van menslike intuïsie in die algemeen, en vir vooroordele met betrekking tot studiesamestelling in die besonder.

'n Biostatistikus sal, byvoorbeeld, die voorkoms van sekere siektetoestande in bepaalde bevolkingsgroepe ondersoek – en probeer om die oorsake daarvan op grond van die beskikbare inligting te bepaal. Of hulle sal sekere pasiënte se lewensverwagting bepaal, data van medisyneproewe interpreteer, die geografiese verspreiding van siektes bekyk of behandelings- of voorkomingsmetodes evalueer. Hierdie inligting kan gebruik word om gesondheidsprogramme te verbeter of te ontwerp, of om behandeling en die effektiwiteit van noodsorg in 'n spesifieke gesondheidsopset te evalueer.

Waarom is dit belangrik vir navorsing?

Die insameling, ontleding en interpretasie van data is sleutelkomponente van mediese navorsingsprojekte. Dit stel biostatistici of navorsers nie net in staat om die regte statistiese toets vir 'n spesifieke studie of studie-opset te kies nie, maar ook om die data op so 'n manier te ontleed dat die bevindings korrek geïnterpreteer kan word – en om dit op 'n etiese manier en met akademiese integriteit te doen.

Dit is ook belangrik om bevindings van ander studies korrek te interpreteer en nie net dié waarby jy persoonlik betrokke was nie. 'n Korrekte interpretasie sal dit moontlik maak om navorsingsbevindings op kliniese praktyk toe te pas en sal die grondslag vir die bepaling van beleidsbesluite bied.

“Biostatistiek is op alle gesondheidsvelde van toepassing en versterk navorsingmetodes," sê prof Taryn Young, Direkteur van die Sentrum vir Bewysgebaseerde Gesondheidsorg en Hoof van die Afdeling Epidemiologie en Biostatistiek.

Wat behels die graad?

Die kursus bied besonder deeglike opleiding vir diegene met 'n agtergrond in of ondervinding van kwantitatiewe of gesondheidsverwante dissiplines wat graag 'n loopbaan in biostatistiek wil volg. Die program sal potensiële biostatistici interesseer wat praktiese en tegniese vaardighede wil bemeester, asook die toepassing van beginsels van statistiese redevoering om openbare gesondheidsprobleme en -uitdagings aan te pak.

Dit is 'n gestruktureerde meestersprogram wat die voltooiing van modules, 'n internskap van drie maande en 'n navorsingsopdrag behels. Die program word ondersteun deur 'n toegewyde en dinamiese span dosente van die Afdeling Epidemiologie en Biostatistiek en die Departement van Statistiek, asook internasionale medewerkers.

Doelwitte

Die program het ten doel om hoogs vaardige biostatistici te ontwikkel wat hul kundigheid kan gebruik om 'n betekenisvolle bydrae te lewer om kwessies in openbare gesondheid en in die veld van biomediese wetenskap aan te pak. Daar word voorts gehoop dit sal help om te voldoen aan Suid-Afrika se behoefte aan 'n vaardige wetenskaplike werksmag wat oor uitsonderlike kritiese intellektuele vermoëns beskik en onafhanklike denkers is.

Die graad is gemik op studente met 'n belangstelling in en 'n aanleg vir werk met tegnologie, statistiese analise en navorsing in die velde van geneeskunde en biologie. Hulle moet voorts geroepe voel om probleme wat deur die gemeenskap ervaar word, te takel en op te los.

 

Onderskrif: Dr Carl Lombard, me Liesel Esterhuizen, prof Taryn Young, me Tonya Esterhuizen en dr Birhanu Ayele.

Foto-erkenning: Damien Schumann