Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Taksman kan korporatiewe sluier deurdring om belastingontduikers vas te vat
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie [Alec Basson]
Gepubliseer: 10/07/2019

'n Nuwe studie wat by die Universiteit Stellenbosch (US) gedoen is, het bevind dat 'n betreklik onbekende stuk wetgewing as 'n nuwe troefkaart vir die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) kan dien in sy poging om aandeelhouers wat agter 'n maatskappy skuil om belasting te ontduik, vas te trek.

“Artikel 20(9) van die Maatskappywet 71 van 2008 laat die kommissaris van die SAID toe om deur die korporatiewe sluier te dring of die selfstandigheid van die regspersoon van ʼn maatskappy te verontagsaam as ʼn regsmiddel teen ontoelaatbare belastingontduiking wanneer belastingbetalers maatskappye hoofsaaklik vir 'n belastingvoordeel gebruik," sê dr Albertus Marais, wat onlangs sy doktorsgraad in Handelsreg aan die US behaal het. Hy is die direkteur van die Kaapstadse belastingkonsultantfirma, AJM. 

As deel van sy navorsing het Marais die maniere oorweeg waarop mense 'n maatskappy as regspersoon kan gebruik om voordeliger belastinggevolge te verkry, asook of dit gepas is om hierdie tipe gebruik as “misbruik" van die korporatiewe regspersoon te beskryf. Hy het ook gekyk of die gemenereg, die Maatskappywet 72 van 2008 of die Inkomstebelastingwet 58 van 1962 gebruik kan word om sulke gevalle van misbruik aan te spreek.

Volgens Marais is maatskappye afsonderlike regspersone en daarom ook afsonderlike belastingbetalers. Hy wys daarop dat dit in die praktyk baie makliker geword het om 'n regspersoon te gebruik om beter belastingvoordele te verseker vir diegene wat agter 'n korporatiewe struktuur skuil. Albertus.jpg

Hy voeg ook by dat deur die afsonderlike regspersoonlikheid van 'n maatskappy te gebruik, aandeelhouers dikwels daardie afsonderlike regspersoonlikheid kan misbruik indien hulle dit hoofsaaklik vir belastingdoeleindes gebruik.

Hy sê sy navorsing het gepoog om te bepaal wanneer die “misbruik" van 'n regspersoonlikheid op
“onbillike misbruik" sal neerkom. Dit is die toets vir die deurdringing van die korporatiewe sluier in die Maatskappywet.

Volgens Marais behels die deurdringing van die korporatiewe sluier tipies om “deur die maatskappy te kyk" en die maatskappy en sy aandeelhouer(s) as dieselfde persoon te beskou. Dit beteken egter nie dat die maatskappy se bestaan geskrap word nie, maar eerder dat die bestaan daarvan slegs vir 'n spesifieke ondersoek, soos die bepaling van belastinggevolge, geïgnoreer word.

Marais sê sy navorsing het getoon dat artikel 20(9) van die Maatskappywet 'n duidelike regsmiddel teen die gebruik van die korporatiewe sluier vir belastingdoeleindes bevat.

“Dit wil lyk of Artikel 20(9) baie meer doeltreffend is om die misbruik van die korporatiewe sluier vir belastingdoeleindes te beveg as wat die SAID se vertroue in die Algemene Maatreëls teen Ontwyking soos vervat in die Inkomstebelastingwet is.

“Wanneer vasgestel is of 'n geval van belastingontduiking wel ontoelaatbare belastingontduiking is wat gepleeg is deur die onbillike misbruik van die korporatiewe sluier, sal die SAID-kommissaris die reg hê om deur die maatskappy se korporatiewe sluier te dring om vas te stel of iemand aanspreeklik is vir die betaal van belasting."

Marais wys daarop dat aandeelhouers die korporatiewe sluier kan gebruik om belasting te ontwyk deur aandele wat aan 'n individu of 'n trust behoort, oor te dra na 'n maatskappy waarvan die individu of trust 'n aandeelhouer is.

“Sodoende word dividendebelasting van die onderliggende aandeleportefeulje vermy, aangesien Suid-Afrikaanse maatskappye, as aandelehouers, tipies vrygestel word van dividendebelasting op dividende wat aan hulle verklaar is.

“Dit mag veral vir inkomstebelastingdoeleindes vir individue voordelig wees om maatskappye of gelaagde maatskappystrukture by transaksies te betrek weens die voordelige regimes wat die Inkomstebelastingwet maatskappye toelaat."

Marais meen die deurdringing van die korporatiewe sluier kan heel suksesvol in die belastingkonteks toegepas word, veral in gevalle waar bestaande regsmiddele in die Inkomstebelastingwet ontoereikend is.

“Hierdie spesifieke leerstelling is nog nooit in Suid-Afrika in 'n belastingkonteks toegepas nie, maar dit kan verander, veral omdat die 'deurdring-regsmiddel' wat tradisioneel 'n beginsel van die gemenereg is, nou ook tot 'n sekere mate gewettig is."

Hy voeg by dat dit belangrik is om 'n bewustheid oor die moontlike toepassing van artikel 20(9) as 'n regsmiddel teen ontoelaatbare belastingontwyking te skep, aangesien die Inkomstebelastingwet se breë en kragtige algemene reëls teen ontwyking baie min doen om hierdie probleem aan te spreek. 

Marais sê beide die SAID en belastingbetalers sal by sy navorsingsbevindinge baat vind.

“Belastingontduiking is 'n besliste grysgebied en die skeidslyn tussen toelaatbare en ontoelaatbare ontwyking is alles behalwe duidelik. Hopelik sal hierdie navorsing help om die onderskeid 'n bietjie duideliker te maak, veral wat belastingbeplanning deur die gebruik van maatskappye betref."

SLEGS VIR MEDIANAVRAE

Dr Albertus Marais

AJM Tax

Kaapstad

Tel: 021 200 0281

E-pos: albertusmarais@ajmtax.co.za

UITEGEREIK DEUR

Martin Viljoen

Bestuurder: Media

Korporatiewe Kommunikasie

Universiteit Stellenbosch

Tel: 021 808 4921

E-pos: viljoenm@sun.ac.za