Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Dis tyd om fees te vier! IPB 21ste Verjaarsdag
Outeur: C van der Vyver
Gepubliseer: 02/07/2019

2019 is die 21ste herdenking van die Instituut vir Plantbiotegnologie (IPB), wat in 1998 in samewerking met die Suid-Afrikaanse Suikervereniging onder die direkteurskap van prof Frikkie Botha gestig is. Die Instituut funksioneer as 'n onafhanklike eenheid binne die Departement Genetika in die Fakulteit AgriWetenskappe. In 2004 is prof Jens Kossmann as die direkteur daarvan aangestel, 'n posisie wat hy steeds beklee. Onder sy leiding is die IPB 'n multikulturele en interdissiplinêre span navorsers en nagraadse studente wat op navorsingsgeleenthede in plantbiotegnologie fokus.

In September vier die IPB sy 21ste bestaan by die Stellenbosse Instituut vir Gevorderde Studie (STIAS) as 'n middagherdenkingsessie met terugvoer en toekomsperspektiewe, gevolg deur 'n sosiale aandete. Alle bestaande en voormalige personeellede, befondsers, alumni-studente wat steeds in die veld van biotegnologie en plantkunde werksaam is, nasionale en internasionale medewerkers, 'n fakulteits- en departementele afvaardiging van die kampus, asook diegene wat oor die jare noodsaaklike dienste aan die IPB gelewer het, is na die geleentheid uitgenooi.

Die IPB het in sy 21 bestaansjare 'n menigte studente opgelei wat 'n noodsaaklike rol gespeel het in die vestiging van mense se loopbane, betekenisvol tot kennis in die veld van biotegnologie bygedra, talle wetenskaplike referate in eweknie-geëvalueerde vaktydskrifte gepubliseer, en 'n aantal patente vanweë die toegepaste aard van die uitgevoerde navorsing geregistreer. In 2019 vier en onthou ons hierdie bydraes.