Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Vrouewiskundiges van Afrika vergader in Stellenbosch
Outeur: Media & Communication, Faculty of Science
Gepubliseer: 28/06/2019

Vanat 2 tot 5 Julie 2019 sal bykans 60 vrouewiskundiges vanuit Afrika en Suid-Afrika by die Universiteit Stellenbosch (US) vergader vir die Afrika Vroue in Wiskunde-konferensie.

Dr Karin-Therese Howell, ʼn wiskundige in die US se Departement Wiskundige Wetenskappe en een van die organiseerders, sê die doel van die konferensie is om ʼn netwerk van vroue wiskundiges in Afrika te bou en om die sigbaarheid van vroue wiskundiges in Afrika te verhoog.

Gedurende die vier dae sal wiskundiges vanaf Nigirië, Zimbabwe, Ethiopië, Morokko, Senegal en Suid-Afrika onderwerpe in velde soos Matroïde Teorie, Algebra, Analise, Toegepaste Wiskunde en Diskrete Wiskunde bespreek.

Twee van die drie gassprekers is vanuit Afrika afkomstig. Hulle is Professor Nouzha El Yacoubi, 'n wiskundige verbonde aan die Mohammed V Universiteit in Rabat, Morokko, en die eerste vrou om as president van die African Mathematical Union (AMU) verkies te word. Sy sal praat oor wiskunde se rol in Afrika se ontwikkeling en die uitdagings en vooruitsigte wat daarmee gepaard gaan.

Professor Ingrid Rewitzky, uitvoerende hoof van die US se Departement Wiskundige Wetenskappe, sal praat oor haar loopbaan as 'n wiskundige en hoe sy uitdagings soos navorsing versus onderrig, en spesialisering versus veralgemening, gehanteer het.

Professor Nancy Ann Neudauer van die Pasifiese Universiteit in die VSA sal 'n voordrag lewer genaamd “Breaking symmetry in graphs". Prof Neudauer is ten nouste betrokke by die Afrika-Instituut vir Wiskundige Wetenskappe, en die oprigting van AIMS-sentra in lande soos Kameroen, Tanzanië, Ghana en Ruanda.

Prof. Rewitzky sê konferensies soos dié is belangrik: “Dit is ʼn eerste stap om jong vroue te ondersteun om 'n bevredigende persoonlike lewe te kan lei terwyl hulle terselfdertyd hul loopbane as kreatiewe wiskundiges voortsit, en om die nodige erkenning vir hul bydraes tot die veld te ontvang."

Die konferensie sluit ook paneelbesprekings in oor loopbaanbeplanning, die werk-leef balans en hoe om gelykheid tussen mans en vroue in hierdie veld te bewerkstellig.

“Ons hoop die konferensie sal die nodige netwerk-geleenthede bied om hierdie vrouewiskundiges in hul nagraadse studies en loopbane te ondersteun, en dat dit sal lei tot verskeie samewerkingsgeleenthede en projekte," sê Dr Howell.

Medianavrae

Dr Karin-Therese Howell

Tel: (021) 808 3281/3282

Sel: (082) 838 5323

E-pos: kthowell@sun.ac.za