Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Fisika-student vertrek na Lindau vir Nobelpryswenners-vergadering
Outeur: Media & Communication, Faculty of Science
Gepubliseer: 19/06/2019

JC Louw, 'n nagraadse student in Fisika van die Universiteit Stellenbosch (US), is een van die  20 top-Suid-Afrikaanse jong wetenskaplikes wat die 69ste Lindause Nobelpryswennersvergadering sal bywoon wat vanaf 30 Junie tot 5 Julie 5 in Lindau, Duitsland sal plaasvind.

Die 20 Suid-Afrikaners wat by 580 jong wetenskaplikes (almal onder die ouderdom van 35 jaar) van 88 lande sal aansluit, is deur die Akademie vir Wetenskap in Suid-Afrika (ASSAf) genomineer om hierdie geleentheid wat vanjaar aan Fisika gewy is, deel te neem. Die internasionale keuringsproses om te kan skouers skuur met 42 Nobelpryswenners, het uit verskillende fases bestaan.

JC, wat aan die Duitse Internasionale Skool in Kaapstad (DSK) gematrikuleer het, sê hy het in graad 10 in Fisika geïnteresseerd geraak nadat hy Bill Bryson se A Short History of Nearly Everything gelees het en bewus geraak het van kwarks, die partikels waaruit neutrone en protone bestaan.

Hy het dieper begin delf en begin om werke van die beroemde teoretiese fisikus Richard Feynman te lees. “Hy het my geïnspireer om nuuskierig te wees oor die heelal en hoe dit werk, wat daartoe gelei het dat ek teoretiese fisika aan die US kom studeer het."

Sy MSc-tesis onder die studieleiding van Prof Michael Kastner van die Nasionale Instituut vir Teoretiese Fisika (NITheP), het gehandel oor oop kwantumsisteme, - die studie van die onderlinge wisselwerking tussen baie, verskillende klein en koue partikels. JC verduidelik: “Hierdie veld is 'n deelversameling van veel-deeltjie kwantummeganika wat ek verder sal bestudeer as deel van my PhD-navorsing by die Universiteit van Göttingen in Duitsland. In die besonder sal ons probeer om die oënskynlik “onfisiese" eienskappe van die SYK-model te verklaar, wat vreemde materiale beskryf soos bv. dié wat heel gepas, vreemde metale genoem word, asook aspekte van sogenaamde swart gate."

Hy sê hy kan nie wag om sommig van sy fisika-helde by die Lindause vergadering te ontmoet nie: “Dit is 'n wonderlike geleentheid. Ek hoop om baie fisika te leer tydens die vele lesings wat daagliks deur Nobelpryswenners gegee sal word. Daar sal baie geleentheid wees vir interaksie met die pryswenners en om hulle vrae te kan vra. Ek het alreeds 'n klomp vrae, veral oor kwantumoptika en topologiese fases wat ek graag vir eksperts soos Steven Chu Duncan Haldane wil vra."

Hy sê hy is dankbaar vir ses ongelooflike studiejare in die US se Departement Fisika, en dankbaar vir die seldsame geleentheid wat moontlik gemaak word deur ASSAf en die Lindau Foundation.