Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Unieke SA datastel bring die getal HIV-verwante sterfgevalle vóór antiretrovirale middels aan die lig
Outeur: Media & Communication, Faculty of Science
Gepubliseer: 10/06/2019

'n Unieke datastel het 'n span wetenskaplikes in staat gestel om 'n akkurater skatting te maak van die getal Suid-Afrikaners wat met MIV geïnfekteer was, en voor 2009 gesterf het vóór antiretroviale middels in die openbare sektor vrylik beskikbaar en maklik bekombaar was.

Hierdie data maak dit moontlik om 'n meer akkurate bepaling van sterftes as gevolg van MIV-besmetting te kan maak, asook die oorsake van sterftes wat die meeste met MIV geassosieer word, te kan identifiseer.  Die hoë voorkoms van MIV onder diegene wat dood is, toon die uitwerking van die MIV-epidemie op die sterftes onder volwassenes, op hospitaaldienste, en die mate waartoe vroeë behandeling met antiretrovirale middels die las op die land se gesondheidsdienste en die ekonomie in beide bogenoemde gevalle sou kon verlig.

Wetenskaplikes van die Universiteite van die Witwatersrand, Johannesburg, en van die Suid-Afrikaanse Sentrum vir Epidemiologiese Modellering en Analise (SACEMA) by die Universiteit Stellenbosch, het 'n navorsingartikel getiteld: HIV-attributable causes of death in the medical ward at the Chris Hani Baragwanath Hospital, South Africa, in die vaktydskrif PLOS ONE gepubliseer.

Die hoofouteur, dr. Andrew Black, is 'n pulmonoloog in die Departement Interne Geneeskunde by die Skool vir Kliniese Geneeskunde van Wits Universiteit en die Helen Joseph Hospitaal. Professor Brian Williams, 'n wiskundige modelleerder by SACEMA het aan die hoof van die span data-analiste gestaan wat bestaan het uit Trust Chibrawara, Zoe Gill, en Mmamapudi Kubanje, in samewerking met prof Freddy Sitas, 'n Suid-Afrikaansgebore kankerepidemioloog wat tans in Australië woon. 

Aanvanklike skattings in 2009 (toe die epidemie op sy ergste was) van die aantal sterftes in Suid-Afrika wat aan MIV toegeskryf kon word, varieer tussen 225 000 tot 350 000 per jaar. Hierdie getalle is op 'n reeks databronne, indirekte wiskundige modellering, sowel as 'n aantal aannames gebaseer. Nuwe analises van die wetenskaplikes het 'n werklike geskatte getal sterftes wat toegeskryf kan word aan MIV teen 2009, as 250 000 per jaar, aan die lig gebring.

As gevolg van die stigma wat op daardie tydstip aan MIV gekleef het, het dokters dikwels nie die MIV-status van die oorledene, of VIGS-verwante oorsake van dood op die amptelike doodsertifikaat aangeteken nie.  Die Baragwanath Hospitaal se Rekord van Sterftes (BMR), het egter voorsiening gemaak vir 'n meer akkurate en gedetailleerde rekord van die oorsake van dood. Tussen 2006 en 2009, het die the BMR getoon dat 15 725 volwassenes gesterf het en elke pasiënt se hospitaalnommer, ouderdom, geslag, oorsaak van dood, datum van hospitaalopname, datum van sterfte, HIV-status, CD4+ seltelling en antiretrovirale behandelingstatus is aangeteken.

“Ons het data van net minder as 16 000 pasiënte tussen 2002 and 2006 ingesamel. Dit maak dit die grootste studie van sy soort in Afrika," sê Black, wat tesame met Williams en die span van SACEMA 'n nuwe manier ontwerp het om bogenoemde data te analiseer.   

“Een van die uitdagings was om die tegnieke wat normaalweg gereserveer word vir die analise van chroniese siektes en kankerepidemiologie, wat die infektiewe oorsaak ondersoek, te integreer. Hierdie model het ons in staat gestel om 'n skatting te maak van die breuk van sterftes wat toegeskryf kan word aan VIGS, van diegene wat gesterf het aan Kriptokokale infeksies, Kaposi se sarkoom en pneumocystis jirovecii, tuberkulose, gastroenteritis en anemie, sê Williams.

Die relatiewe kansverhouding om MIV-positief te wees, het gevarieer tussen 18 en 124. Genitaal-urinêre toestande, meningitis en ander respiratoriese toestande, sowel as sepsis, lymfoom en ander vel- en beenkwale kon ook betekenisvol met MIV verbind word, met die kansverhouding om MIV-positief te wees wat varieer tussen 3 en 8.

“Die data het risiko's van meer as tienvoudig uitgelig vir 'n hele reeks van toestande. Dit is belangrik, aangesien dit ons vertel dat elke pasiënt wat nou opgeneem word vir 'n verskeidenheid van siektes – veral vir rare fungusinfeksies, soos besmetting met Kriptokokkus, en selfs sommige respiratoriese siektes – se MIV-status dadelik bepaal moet word. En indien hulle positief toets, hulle onmiddellik antiretrovirale middels toegedien moet word," sê Black.

Medianavrae:

Prof Brian Williams

SACEMA

Sel: 0041 79 558 8068

E-pos: williamsbg@me.com


 

Deborah Minors

Senior kommunikasiebeampte

Universiteit van die Witwatersrand 

Tel:  +27 11 717 1024 / 072 240 4990

E-pos:  Deborah.minors@wits.ac.za

Beeld van HI-virus deur Darwin Laganzon van Pixabay.

Hierdie artikel is gebaseeer op 'n gesamentlike mediavrystelling tussen die Universiteit Stellenbosch en die Universiteit van die Witwatersrand.