Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nuwe SAMNR-navorsingseenheid oor die genomika van breinversteurings by FGGW gehuisves
Outeur: FMHS Marketing & Communication / FGGW Bemarking & Kommunikasie
Gepubliseer: 10/06/2019

Die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad (SAMNR) het onlangs ʼn buitemuurse eenheid vir navorsing oor die genomika van breinversteurings by die Departement Psigiatrie aan die Universiteit Stellenbosch (US) tot stand gebring.

Die navorsingseenheid, onder leiding van proff Soraya Seedat en Sian Hemmings, sal biomerkers vir verskeie breinversteurings identifiseer, insluitende posttraumatiese stresversteuring, MIV-verwante neurokognitiewe versteurings, fetale alkoholspektrumversteurings, skisofrenie-spektrumversteurings en Parkinson se siekte.

“Die eenheid sal help om die las van neuropsigiatriese versteurings in Suid-Afrika te verminder deur translasionele neurowetenskaplike vraagstukke oor die spektrum heen aan te pak. Om dit te bewerkstellig, sal ons ʼn gereedskapstel met innoverende multi-omika (byvoorbeeld genomika, epigenomika, mikrobiomika en bio-informatika), toegepaste kognitief-affektiewe benaderings en breinbeeldingstudies gebruik," verduidelik Seedat, Hoof van die Departement Psigiatrie aan die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) van die US.

“Omdat breinversteurings poligenies is (dit word deur verskeie gene veroorsaak), met gevarieerde oorerflikheid en ʼn mate van oorvleueling in hul genetiese samestelling, word ʼn saamlopende benadering geverg om die gemeenskaplike biologiese meganismes te verklaar deur multivlakdata te integreer (byvoorbeeld genetiese merkers, breinvlakdata, neuropsigologiese data en sosiale determinante)."

Die Genomika van Breinversteurings-navorsingseenheid is maar die tweede buitemuurse eenheid wat by die US gevestig is. Die ander een is ook in die Departement Psigiatrie en word met die Universiteit van Kaapstad gedeel. Goedkeuring vir die eenheid geskied in siklusse van vyf jaar en navorsingsfinansiering van meer as R5 miljoen word daarvoor na die FGGW gekanaliseer.

“Die nuwe eenheid sal die bestaande Beelding en Genetika in Neurowetenskap-navorsingsgroep (IMAGINE) by die FGGW in staat stel om tot ʼn formele groepering uit te brei, sal ons wetenskaplike mededingendheid en sigbaarheid bevorder, bykomende navorsingsuitsette genereer en meer nagraadse studente ondersteun," sê Seedat.

Die eenheid kom op ʼn geleë tyd, omdat die FGGW se nuwe Biomediese Navorsingsinstituut, wat tans in aanbou is, ʼn neurogenetika-laboratorium en ʼn neurotegnologie-laboratorium sal insluit.

Die verwagte uitsette van die eenheid sluit in:

  • Om ʼn groep interdissiplinêre projekte uit te voer deur genoom- en neurobeeldingstegnologieë te gebruik.
  • Om ʼn biobank te vestig wat ʼn wye reeks biologiese monsters bevat (byvoorbeeld DNS, RNS, vel, hare).
  • Om geoptimaliseerde protokolle vir die ontwikkeling en instandhouding van breinversteuringspesifiek geïnduseerde pluripotensiële stamsellyne by interne laboratoriums te vestig.
  • Om vermoë uit te bou en vaardighede in breinversteuringsnavorsing oor te dra sodat ʼn nuwe generasie kliniese en basiese neurowetenskaplikes opgelei kan word wat bedrewe met genomika en neurobeeldingstegnieke is. 

Onderskrif: Die span navorsers aan die Departement Psigiatrie wat betrokke is by die Navorsingseenheid vir die Genomika van Breinversteurings.