Suid-Afrika het in Julie verlede jaar die eerste land geword om ʼn nuwe middel teen tuberkulose in sy nasionale program bekend te stel.
Hierdie nuwe middel, bekend as bedakilien, is die eerste nuwe anti-tuberkuleuse middel wat die afgelope vier dekades ontwikkel is. Dit verbeter die kans op oorlewing van pasiënte met multi-middelweerstandige TB en bied die moontlikheid van ʼn korter behandelingsperiode met minder newe-effekte.
Wetenskaplikes van die Universiteit Stellenbosch (US), wat saam met ʼn multidissiplinêre span navorsers en klinici werk, probeer nou hierdie lewensreddende middel bewaar deur te bestudeer hoe Mycobacterium tuberculosis, die bakterie wat TB veroorsaak, weerstand daarteen kan ontwikkel. Hul bevindings sal gebruik word om TB-behandelingsriglyne te rig om die regte kombinasie van anti-tuberkuleuse middels te verseker wat saam met bedakilien gebruik word om die uitkomste van behandeling te optimaliseer, terwyl die risiko vir die ontwikkeling van weerstandigheid teen die middel tot die minimum beperk word.
“Ons moet bedakilien teen die ontwikkeling van weerstandigheid beskerm en dit is derhalwe deurslaggewend om te verstaan hoe vinnig en deur watter meganismes bedakilienweerstandigheid ontwikkel," sê dr Margaretha de Vos, een van die hoofskrywers van ʼn wetenskaplike kommentaarartikel wat onlangs in die New England Journal of Medicine gepubliseer is. Die artikel is gegrond op navorsing deur De Vos en kollegas van die Afdeling Molekulêre Biologie en Menslike Genetika van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) aan die US.
US-navorsers het die ontwikkeling van bedakilienweerstandigheid in TB-bakterieë in ʼn 65-jarige pasiënt van Kaapstad bestudeer deur ʼn kombinasie van nuwe tegnieke te gebruik. Dit het ingesluit (1) volledige genoomvolgordebepaling van die bakterie in pasiëntmonsters wat gedurende verskillende stadiums van die siekte geneem is, (2) geteikende diep volgordebepaling van Rv0678, ʼn geen van die bakterie wat met bedakilienweerstandigheid verbind word, en (3) kultuurgebaseerde middelvatbaarheidstoetsing.
Die studie het getoon dat weerstandigheid teen bedakilien voorgekom het al het die pasiënt die standaardbehandeling gevolg, wat verg dat bedakilien saam met minstens vyf antibiotiese middels geneem word waarteen die bakterie nie weerstandig is nie.
“Hierdie resultate toon dit is van deurslaggewende belang om ons pogings te verskerp om pasiënte wat bedakilien neem te monitor en om nuwe diagnostiese instrumente te ontwikkel om bedakilienweerstandigheid vinnig te identifiseer. Deur bedakilienweerstandigheid vinnig te identifiseer, sal ons die behandeling kan verander en daardeur verspreiding verhinder," sê Rob Warren, uitgelese professor in molekulêre biologie en mede-outeur van die artikel.
Universiteit van Kaapstad professor Helen Cox, een van die senior mede-outeurs van die studie, sê “ofskoon dit belangrik is om die voorkoms van weerstandigheid teen nuwe middels soos bedakilien te monitor, behoort hierdie data nie aan die hand te doen dat ons toegang tot nuwe middels soos bedakilien beperk vir die duisende pasiënte in Suid-Afrika wat ʼn dringende behoefte aan beter behandeling vir middelweerstandige tuberkulose het nie."
Die studie is onderneem in samewerking met kollegas van die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad, die Universiteit van Kaapstad, Médecins sans Frontières (Dokters sonder Grense), asook die Nasionale Gesondheidslaboratoriumdienste en met internasionale steun van etlike institute in die VSA en België.
Onderskrif: Mycobacterium tuberculosis onder die mikroskoop.
Foto deur dr Marisa Klopper (US)