Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Prof Wim weer op sy fiets vir beurse
Outeur: Development & Alumni / Ontwikkeling & Alumni
Gepubliseer: 23/05/2019
Prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die Universiteit Stellenbosch (US) maak gereed om weereens sy steun aan Matie-studente te wys. In September vanjaar sal prof De Villiers die Londen-na-Brighton-fietsrit aanpak om geld vir beurse in te samel.

“Ek nooi alle kranige fietsryers in die Verenigde Koninkryk, Ierland en Europa om by my aan te sluit wanneer ek op 15 September 2019 hierdie ikoniese rit van 55 myl van Clapham Common in Suid-Londen na die kusdorp Brighton aanpak,“ sê prof De Villiers.

“Die geld wat ons insamel sal gaan na die Universiteit se VK/EU-beursfonds wat geskep is om finansiële steun vir benadeelde studente te help voorsien. Hierdie beursfonds sal akademies-begaafde dog finansieel benadeelde studente die geleentheid bied om akademiese sukses by Maties te behaal en hulle volle potensiaal te bereik,” voeg hy by.

In Maart vanjaar het De Villiers vir die tweede opeenvolgende jaar die Kaapstad Fietstoer saam met 'n span alumni, personeel en vriende van die Universiteit voltooi om geld in te samel vir #Move4Food, 'n veldtog wat voedselonsekerheid onder studente bestry. In Maart 2018 het hy ook die Kaapstad-fietstoer aangepak om die Universiteit se Eeufeesjaar te gedenk en om geld vir studentebeurse in te samel, en in September verlede jaar het hy die volle 42 km Sanlam Kaapstad Marathon voltooi – ook ten bate van #Move4Food.

“Wil jy graag hierdie uitdaging aanpak? Ons is op soek na 15 fietsryers om deel uit te maak van ons heel eerste Maties Warriors-span wat na ’n insamelingsmikpunt van ten minste £7 500 sal streef. Hierdie bedrag sal minstens een student se onderrig, huisvesting, kos en handboeke vir ’n jaar betaal,” sê Darryn Havenga, VK Direkteur vir Fondswerwing binne die US se Ontwikkeling en Alumni-betrekkinge Afdeling.

“As fietsry nie vir jou is nie, moenie bekommer nie – jy kan op ’n ander manier betrokke raak. Volg bloot hierdie skakel na ons GivenGain-blad en skenk aanlyn,” voeg hy by.

Vir verdere inligting en om in te skryf, kontak asseblief die volgende persone:

Maties in Benelux, Frankryk en Duitsland

Alison April

alisonapril@sun.ac.za


Maties in die Nordiese streek

Folkers Tulkki-Williams

folkers.tulkkiwilliams@gmail.com


Maties in die VK en Ierland

Darryn Havenga

darrynh@sun.ac.za


Maties in ander wêrelddele:

Darryn Havenga

darrynh@sun.ac.za​