Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
FGGW-simposium ondersoek die gebruik van ras in navorsing
Outeur: Wilma Stassen
Gepubliseer: 22/05/2019

Meer as 450 personeellede, studente en ander belanghebbendes het verlede week byeengekom by die Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) om ʼn omstrede navorsingsartikel te bespreek wat deur kollegas in die Departement van Sportwetenskap gepubliseer is.

Die simposium met die onderwerp “Ras as ʼn veranderlike in wetenskaplike navorsing – omstredenheid en bekommernisse", is gereël deur prof Jimmy Volmink, dekaan van die FGGW, om oor die gepastheid van rasgebaseerde navorsing te besin. (Luister na 'n potgooi​ van die simposium.)

Die simposium is gereël na aanleiding van die publikasie van ʼn artikel deur Nieuwoudt et al. wat gefokus het op die verwantskap tussen ouderdom, onderwys en kognitiewe funksie in ʼn monster van sogenaamde 'kleurling' vroue in Cloetesville. Die artikel het wydverspreide openbare ontsteltenis onder die publiek en by mense binne en buite die US ontlok.

“Teen die agtergrond van ons spesifieke politieke en maatskaplike geskiedenis in Suid-Afrika is ons almal geneig tot rasdenke en dit het ongetwyfeld ʼn invloed op ons wetenskap," het Volmink in sy inleidingsopmerkings gesê.

“'n Uiters problematiese kwessie wat deur hierdie studie in die kollig geplaas is, is die onvanpaste gebruik van rasetikette of -kategorieë in navorsing. Ongelukkig is hierdie ʼn algemene probleem wat nie tot US-navorsers beperk is nie. Bewyse van die misbruik van ras as ʼn veranderlike in navorsing kan gevind word in publikasies oor die hele spektrum van akademiese instellings in Suid-Afrika en elders," het Volmink gesê.

Vier paneellede uit uiteenlopende vakrigtings het insette oor die onderwerp gelewer, waarna die gehoor uitgenooi is om aan die bespreking deel te neem.

In haar bydrae het prof Soraya Bardien, ʼn menslike genetikus van die FGGW se Afdeling Molekulêre Biologie en Menslike Genetika, die wetenskaplike grondslag van rasklassifikasie bevraagteken. Ras word dikwels in wetenskaplike navorsing gebruik om te verwys na biologiese verskille soos velkleur, gesigskenmerke en die bou van sekere groepe.

Sy het daarop gewys dat enige twee ewekansig gekose mense gemiddeld 99.9% van hul DNS deel. “Minder as 0.1% van ons DNS bepaal die fisieke verskille tussen mense wat ons met rasverskille assosieer. Dit beteken mense van verskillende “ras"-agtergronde het meer in gemeen as wat hulle verskil," het Bardien gesê. Sy is die voorsitter van die Suid-Afrikaanse Vereniging van Menslike Genetika.

Terwyl bykans identiese DNS gedeel word, is daar verskille tussen groepe in hoe DNS gerangskik word. “Ons sien byvoorbeeld verskille in die volgorde van gene wat velpigmentasie raak en in gene wat weerstand teen malaria in verskillende geografiese streke beïnvloed," het Bardien verduidelik.

Bardien het ʼn stelling van die Amerikaanse Vereniging van Menslike Genetika aangehaal en gesê genetika wys dat mense nie in biologies onderskeibare subkategorieë ingedeel kan word nie en dat enige poging om genetika te gebruik om bevolkings op ʼn ranglys te plaas ʼn grondliggende wanbegrip van genetika demonstreer.

Dr Handri Walters, ʼn na-doktorale navorser in die Departement Sosiologie en Sosiale Antropologie aan die US, het in haar lesing “Bevraagtekening van Ras in Wetenskaplike Navorsing" aangevoer wetenskaplikes het dekades lank probeer om rasgroepe te bestudeer en te kategoriseer.

“Ras word gereeld in wetenskaplike studies as ʼn bepalende faktor gebruik en beskou as iets wat deur gestrenge wetenskaplike navorsing 'geken' kan word," het Walters gesê. Haar navorsing fokus op die geskiedenis van die akademiese veld van antropologie aan die US.

Sy het verduidelik dat raswetenskap gebaseer is op die konsep dat daar talle verskillende rasgroepe is, dat raskategorieë homogeen is (wat beteken wetenskaplike gevolgtrekkings oor ʼn paar lede van die groep kan na die hele groep geëkstrapoleer word), asook dat daar bepaalde eienskappe is waardeur hierdie groepe geïdentifiseer kan word.

In Suid-Afrika is die konsep van rasdifferensiasie verskans deur die apartheidsbedeling, wat die bevolking in vier verskillende raskategorieë verdeel het. “Die wette wat deur die apartheidstaat in werking gestel is, het vorm gegee aan die omstandighede waarin aangewese raskategorieë die daaglikse lewe moes aanpak en dit het ʼn blywende nalatenskap in die vorm van strukturele ongelykhede gelaat," het Walters gesê. Ondanks die afskaffing van apartheid bestaan hierdie konsepte van raskategorieë voort, tesame met veralgemenings oor die kenmerke van elke groep.

“Ons moet voortdurend vrae oor ras in wetenskaplike navorsing vra. Ons kan nie bekostig om dit steeds te gebruik om tot veralgemeende gevolgtrekkings gegrond op raskategorieë te kom sonder om dit te bevraagteken en as problematies te beskou nie. Dit sal onverantwoordelike wetenskaplike praktyk meebring en die spook van raswetenskap in die nuwe eeu laat voortbestaan," het Walters gesê.

Prof Leslie Swartz, kliniese sielkundige en uitgelese professor in sielkunde aan die US, het ook die kollig laat val op die gemak waarmee evolusionisme en rassisme hulle steeds in wetenskap voordoen. Dit is nie beperk tot Suid-Afrika nie, maar kom ook voor in gerekende internasionale eweknie-beoordeelde joernale en navorsing wat in die sogenaamde globale noorde geproduseer word.

Swartz – wie se navorsing op kultuur en geestesgesondheid en gestremdheidstudies fokus – het gemaan dat nie van kwesbare populasies weggeskram moet word nie, omdat dit die maatskaplike realiteit van verskil kan verberg en perpetueer. Hy het wetenskaplikes egter aangeraai om sensitief te wees jeens die sosiale omgewing waarin navorsing plaasvind en bewus van hul eie potensiële vooroordele te wees.

“Die vrae wat ons altyd in enige wetenskap moet vra, is: 'Wie doen die kykwerk?'; 'Hoe neem ons die kykwerk in ag?'; 'Na wie kyk ons?'; en 'Hoekom kyk ons?' As ons doelbewus oor daardie dinge kan dink, meen ek ons kan vordering met hierdie besonder moeilike kwessie maak," het Swartz gesê.

Prof Jonathan Jansen, uitgelese professor in onderwys aan die US, het benadruk dat dit algemeen vir navorsers is om ʼn kousale verband met ras te trek. Met verwysing na die artikel deur Nieuwoudt et al. wat die kognitiewe vermoë van bruin vroue bestudeer het, het Jansen gesê “dit het niks te doen met bruin wees nie en alles met waar jy woon, hoe jy leef en die sosio-ekonomiese omstandighede waarin jy leef".

Hy het wetenskaplikes gemaan om weg te beweeg van die gebruik van raskategorieë in hul navorsing, veral as dit ten doel het om ʼn verband tussen ras en houdings, oortuigings of vermoëns te trek. Jansen se eie navorsing, wat studies deur US wetenskaplikes oor die sogenaamde “bruin"-bevolking ondersoek, het getoon raskategorieë en negatiewe stereotipes word vandag nog deur die wetenskap geperpetueer.

Jansen het aangevoer hierdie probleem duur voort omdat rasverskille en die verhouding tussen ras en bepaalde maatskaplike uitkomste “die status van algemene kennis aangeneem het". Volgens hom moet die epistemologie van kennis hersien word: “Dit het met die aard en die politiek van kennis te make.

“Ten slotte moet ons onsself afvra hoe dit moontlik is dat hierdie navorsing die etiese oorsigproses geslaag het? Hoe is finansiering van die Nasionale Navorsingstigting bekom? En hoe het die ewekniebeoordeling van ʼn interne joernaal dit goedgekeur? Jy kan nie die artikel blameer nie [as die probleem in die stelsel lê]. Ons moet onsself afvra: “Hoe verander ons die reëls van die spel?"


 

Onderskrif: Prof Jimmy Volmink, dr Handri Walters, profs Jonathan Jansen, Leslie Swartz en Soraya Bardien.