Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
McNamara-toekenning bevorder PhD-student se MIV-navorsing
Outeur: Sue Segar
Gepubliseer: 17/05/2019

Toe Mary Grace Katusiime, ʼn PhD-student in die Departement Mediese Virologie aan die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe van die Universiteit Stellenbosch, onlangs die Margaret McNamara-toekenning ontvang het, het sy gevoel sy geniet erkenning as ʼn jong vrou van Afrika wat baie hindernisse te bowe moes kom om te bereik wat sy tot op hede het.

Katusiime, wat MIV by kinders bestudeer, sê die toekenning ($7 000 of sowat R100 000 vir die jaar 2019) is ʼn waardevolle hupsoot om haar in staat te stel om die studies en navorsing voort te sit waaroor sy so sterk voel.

“Hierdie toekenning is baie spesiaal. Dit vertel vir my daar is hoop vir ʼn jong swart meisie uit ʼn gesin waar dinge nie op ʼn skinkbord aan haar gegee is nie. Dit is absoluut wonderlik om die toekenning in hierdie stadium van my loopbaan te ontvang en om in staat te wees om my navorsing en visie voort te sit. Dit is ʼn reddingsboei, want dit het gekom op ʼn tyd toe my ander finansiering opgedroog het," het Katusiime in ʼn onderhoud gesê.

Die Margaret McNamara Education Grant (MMEG) is ʼn openbare welsynsorganisasie sonder winsbejag wat die onderwys ondersteun van vroue in ontwikkelende lande wat verbind is tot werk wat vroue en kinders in ontwikkelende lande baat. Dit is in 1981 tot stand gebring ter nagedagtenis aan wyle Margaret McNamara, wat haar lewe gewy het aan die bevordering van onderwys vir hulpbehoewende gemeenskappe wêreldwyd.

Die toekenning stel die ontvanger in staat om van Januarie tot Desember 2019 te studeer en maak voorsiening vir uitgawes wat wissel van klasgeld tot kursusmateriaal, navorsingsbehoeftes, navorsingsverwante reise en daaglikse studente-uitgawes.

Oor haar navorsing sê Katusiime hulle bestudeer ʼn groep Suid-Afrikaanse kinders wat met MIV gebore is. “Hulle het kort ná geboorte met MIV-behandeling begin en is nou omtrent tien jaar oud. Hulle besoek die hospitaal gereeld as deel van ʼn opvolgprogram en vir bloedtoetse.  

“Die MI-virus kan nie met gereelde bloedtoetse by hierdie kinders bespeur word nie. Dit beteken die antiretrovirale middels het die virus gekeer om enigsins te vermenigvuldig, dat hierdie kinders goed op die behandeling gereageer het en dat hulle andersins gesonde individue is.  

“Ons weet egter die virus bestaan steeds in hierdie kinders, omdat MIV vermenigvuldig deurdat die virus homself in selle inplant en daardie selle se masjinerie gebruik om kopieë van homself te maak. Wanneer antiretrovirale middels toegedien word kan jy virusse keer om nuwe selle te besmet, maar die behandeling het geen uitwerking op selle wat reeds besmet is voordat die kinders met behandeling beging het nie. Ons noem die selle wat wegkruip 'dormante' of 'slapende' MIV-reservoirselle.

“My studie fokus op hierdie reservoirselle. Ons probeer hulle en die virus tipeer wat oor jare aanhou voortbestaan ondanks die kinders se gunstige reaksie op die behandeling.

“Hierdie reservoirselle is die hindernis wat die genesing van die infeksie keer en ons navorsing is deel van die globale genesingsagenda. Ons hoop om voortgesette pogings toe te lig wat ten doel het om die reservoirselle te vernietig en die infeksie te genees. Die einddoel is om genesingsbenaderings toe te lig."

Katusiime is in Uganda gebore en het op 2-jarige ouderdom Botswana toe getrek, waar sy die grootste deel van haar kinderdae deurgebring het. Haar ouers het vir ʼn Christelike nieregeringsorganisasie gewerk. “Interessant genoeg was my ouers intens betrokke by gemeenskappe wat onder MIV deurgeloop het. Hulle het veldtogte gevoer en inligting verskaf oor hoe om die verspreiding van die virus uit ʼn sosiale oogpunt te verhoed.  

“My hele opvoeding het plaasgevind in ʼn klimaat waar ek oor MIV geleer het – maar meestal die sosiale aspek daarvan. Toe ek hoërskool toe is, het ons na Suid-Afrika getrek en ek het die laaste deel van my kinderdae in Mpumalanga deurgebring. Daar het ek baie nou saamgewerk met jong mense en hul ouers in minderbevoorregte gemeenskappe wat ook ʼn stryd teen die sosiale gevolge van MIV gestry of daarvan herstel het. Daardie opvoeding het my gebring waar ek vandag is."

Katusiime se langtermyndoelwit is om haar vaardighede in Afrika te gebruik. “Dit is waar my vaardighede nodig is. Ek hoop om baie beter gevestigde navorsing op hierdie kontinent te sien plaasvind, wat neerslag sal vind by die mense wat dit nodig het. Dit is my passie om ʼn leier op hierdie gebied te word."

Katusiime is baie lief vir lees. Wanneer sy nie werk nie, gee sy Sondagskoolklasse en fasiliteer ʼn groep jong vroue bekend as Sisterhood Connect deur haar kerk, Hillsong. “Dis ʼn groep waar jong vroue soos ek van dieselfde ouderdomsgroep en wat steun en susterskap nodig het, byeen kan kom en mekaar kan ondersteun."  

Sy werk ook as ʼn vrywilliger by ʼn tehuis vir versaakte babas in Goodwood. “Baie van hierdie babas het MIV. Dis soveel pret om net by hulle te wees – om vir hulle te sorg en ʼn band met hulle te vorm. Hulle herinner my aan hoekom ek doen wat ek doen."