Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Samewerkende forum tussen SA en Swede wil ingewikkelde wêreldprobleme pak
Outeur: Corporate Communication Division/René-Jean van der Berg
Gepubliseer: 13/05/2019

​Samelewings wêreldwyd staar ingewikkelde uitdagings in die gesig wat strek van klimaatsverandering en voedselsekuriteit tot kwessies oor geslag en ras en talle ander probleme rakende maatskaplike transformasie.

Hierdie uitdagings verg soortgelyke ingewikkelde en innoverende oplossings met internasionale netwerke en samewerking wat al hoe belangriker word in die soeke na antwoorde.

 

Selfoongebruiker kan hier klik om na die video te kyk.

Die Universiteit Stellenbosch (US) was vandeesweek die gasheer vir die Suid-Afrika-Swede-Universiteitsforum (SASUF), met meer as 400 afgevaardigdes uit Suid-Afrika en Swede wat vir die twee-dae lange navorsing-en-innovasie-spitsberaad op Stellenbosch byeengekom het om wêreldwye uitdagings ten opsigte van volhoubaarheid te bespreek.

sasuf people.jpg

Die forum is 'n strategiese internasionalisasieprojek wat van 2017–2020 strek met die oorhoofse doel om bande in navorsing, opvoeding en innovasie tussen Swede en Suid-Afrika te versterk. SASUF is 'n samewerkingsinisiatief tussen 36 universiteite in Swede en Suid-Afrika, tesame met die ambassades, burgerlike organisasies, befondsingagentskappe en ministeries in albei lande. 

Prof Wim de Villiers, Visekanselier en Rektor van die US, het in sy openingsrede gesê Suid-Afrika beleef as 'n jong demokrasie groot uitdagings in die samelewing en nouer bande met Swede kan help om dit aan te spreek.

“Daar was baie ontwikkelinge die afgelope 25 jaar, wat die aanspreek van ons uitdagings nog belangriker maak – en as universiteite is ons ideaal geposisioneer om tot hierdie soeke by te dra. En om dit te doen met ons drievoudige missie – navorsing en innovasie; leer en onderrig; en sosiale betrokkenheid vir impak."

Hy het gesê die samelewing kyk al hoe meer na universiteite vir oplossings vir sowel plaaslike as internasionale krisisse.

Tussen 2017 en 2020 sal SASUF navorsers van Swede en Suid-Afrika byeenbring vir seminare, uitruil van kennis en projekte; innoverende maniere skep om internasionalisasie te benader en die krag van digitale hulpmiddele te gebruik in internasionale samewerking; en navorsers in verbinding sit met agentskappe, nywerhede, ministeries en omliggende samelewings om die Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte (VOD's) te bereik. Vir meer inligting oor SASUF en sy doelwitte, klik hier. ​​