Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Navorsers keer na gemeenskappe terug met resultate van baanbrekerstudie oor MIV-voorkoming
Outeur: Kim Cloete
Gepubliseer: 07/05/2019

Oor die afgelope paar weke het inwoners van nege gemeenskappe in en om Kaapstad en die Wynland-distrikte byeengekom om die primêre uitslae van die HPTN 071 (PopART)-navorsingstudie aan te hoor. Dit is die grootste studie oor MIV-voorkoming tot op hede en is in Suid-Afrika en Zambië uitgevoer.

Gemeenskapslede en plaaslike leiers, veldwerkers en kliniekpersoneel van die nege Suid-Arikaanse studieterreine het in stadsale en ander lokale in die gemeenskappe byeengekom om die uitslae aan te hoor.

“Ons sou nie hierdie deurslaggewende MIV-voorkomingstudie kon onderneem sonder die steun van die mense in die gemeenskappe waarin ons gewerk het nie. Ons wil hulle daarvoor bedank en besin oor watter verskil hul deelname gemaak het," het dr Peter Bock, Navorsingsklinikus by die Universiteit Stellenbosch se Desmond Tutu TB-sentrum (DTTS) en mede-hoofnavorser van HPTN 071 (PopART) in Suid-Afrika, gesê.

Oor ʼn tydperk van vier jar het veldwerkers, bekend as MIV-gemeenskapsorgverskaffers (CHiPS), huise in Suid-Afrika en Zambië van deur tot deur besoek om ʼn pakket MIV-voorkomingsdienste aan te bied. Dit het ingesluit MIV-toetse en -berading, kondome en sifting vir en onderrig oor seksueel oordraagbare infeksies en tuberkulose. MIV-positiewe kliënte is vir antiretrovirale behandeling na klinieke verwys.

Die studie het bevind dat toetse by die huis, asook die verwysing van mense wat met MIV leef na klinieke vir versorging en behandeling, nuwe MIV-infeksies aansienlik kan verminder.

Gemeenskapslede en plaaslike leiers het die resultate verwelkom en gesê hulle was trots oor hul rol om groter bewustheid oor MIV-voorkoming te skep en te help om die hoë MIV-besmettingskoers deur verhoogde MIV-toetsing en -behandeling te verlaag.

“Wat ook al gedoen kan word om die siekte te voorkom sal nie net baie lewens red nie, maar sal ook op lang termyn kostedoeltreffend wees," het Aidan Stowman, Speaker van die Drakenstein-munisipaliteit in die Paarl, tydens een van die gemeenskapsinligtingsessies gesê.

Hy het ook die wyse waarop die resultate met die gemeenskap gedeel is, verwelkom. “Dankie dat julle die belofte gehou het om oor die resultate verslag te doen."

Lede van die gemeenskapsadviesrade wat vir die doeleindes van die studie tot stand gebring is, het ʼn sleutelrol gespeel. Hulle het hul dienste gratis aangebied en was ʼn deurslaggewende skakel tussen die navorsers, gemeenskapslede en klinieke. Hulle het raad aangebied, mense aangemoedig om vir MIV getoets te word en het gehelp om enige uitdagings binne gemeenskappe te takel.

Gemeenskapslede het ook van hul ervarings gedurende die studie vertel en gesê die boodskap oor die voorkoming van MIV deur toetse en behandeling is ver en wyd versprei deur die CHiPS, wat mense vier jaar lank een keer per jaar getoets het. Etlike deelnemers aan die studie het gesê die antiretrovirale behandeling was ʼn reddingsboei.

By elkeen van hierdie geleenthede is ʼn boodskap oor MIV-voorkoming oorgedra deur óf ʼn talentvolle marimba-orkes óf ʼn opheffende, betekenisvolle en soms humoristiese optrede deur ʼn plaaslike kuns-, drama- of ander groep. Mense in elke studieterrein het hul ervarings gedurende die studie beskryf en vrae deur gemeenskapslede is verwelkom.

“Dis so belangrik om mense in gemeenskappe oor die studieresultate in te lig. Hulle het hul tyd en belangstelling oor die afgelope paar jaar in die studie belê en verdien om te weet wat die uitkoms is," het Nomtha Mandla, Populasiekohort-projekbestuurder vir HPTN 071 (PopART) in Suid-Afrika, gesê.

ʼn Afsonderlike geleentheid is gehou om die primêre uitkomsresultate bekend te stel aan die ander vennote en belangegroepe wat ʼn sleutelrol in die uitvoering van die studie gespeel het. Verteenwoordigers van die Amerikaanse ambassade in Suid-Afrika, die Stad Kaapstad se Gesondheidsdepartement, die Wes-Kaapse Gesondheidsdepartement, die NRO-implementeringsvennote – Kheth'Impilo en Anova – en die US-leierskorps het die geleentheid bygewoon.

“Vennootskappe het die kern van die HPTN 071 (PopART)-studie uitgemaak. Ons is baie dank verskuldig aan almal wat oor die jare heen meegewek het aan die groter doelwit om die koers van MIV in ons gemeenskappe en elders te verlaag," het prof Nulda Beyers, hoofnavorser van die studie in Suid-Afrika, gesê.

Die DTTS hoop die lesse wat uit die studie geleer is, sal help om die lewering van gesondheidsdienste te verbeter. Die DTTS het nou met die Gesondheidsdepartemente van die Stad Kaapstad en die Wes-Kaap saamgewerk en glo die lewering van gesondheidsdienste aan gemeenskappe kan deur nou samewerking tussen akademici en verskaffers van gesondheidsdienste verbeter word.

Die studie is geborg deur die National Institute of Allergy and Infectious Diseases (NIAID) in Amerika, met primêre finansiering van die Amerikaanse president se  Emergency Plan for AIDS Relief (PEPFAR), wat deur die Kantoor van die US Global AIDS Coordinator and Health Diplomacy in die Amerikaanse Departement van Buitelandse Sake bestuur word. Bykomende finansiering is verskaf deur die International Initiative for Impact Evaluation, met steun van die Bill & Melinda Gates-stigting, asook NIAID, die National Institute on Drug Abuse (NIDA) en die National Institute of Mental Health (NIMH), almal verbonde aan die Amerikaanse Departement van Gesondheid se National Institutes of Health.

Onderskrifte

Bannierfoto: 'n Gemeenskapsdramagroep voer 'n toneelstuk uit wat handel oor MIV en TB.

Foto-insetsel 1: Disseminasie van die hoofbevindinge van die HPTN 071 (PopART) studie by 'n gemeenskapsgeleentheid in die Paarl.

Foto-insetsel 2: Prof Nulda Beyers (regs) en een van die lede van die HPTN (PopART) span by die geleentheid.