Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nuwe boek wil bydra tot wyer dokumentasie van en eerbetoon aan Suid-Afrikaners se herinneringe van die verlede
Outeur: Corporate Communications Division
Gepubliseer: 06/05/2019

Wat was apartheid se invloed op die lewens van Suid-Afrikaners? Hoe leef mense daagliks saam met die pynlike herinneringe? Op watter manier doen ons navorsing wat die waardigheid van deelnemers daaraan respekteer?

Dit is van die vrae wat in 'n nuwe boek, These Are the Things that Sit with Us, verken word. Die boek staan onder redaksie van Pumla Gobod-Madikizela, Friederike Bubenzer en Marietjie Oelofsen en is uitgegee deur Fanele, 'n druknaam van Jacana Media.

Die redakteurs het saam met 'n groep navorsers gewerk om 'n versameling kortverhale saam te stel oor die blywende invloed van apartheidsondervindinge op inwoners van Langa, Bonteheuwel en Worcester wat met die verlede moet saamleef.

Die boek werp lig op ongedokumenteerde alledaagse ondervindinge wat die lewens van gewone Suid-Afrikaners gedurende die land se wrede en pynlike verlede gevorm het. Dit is 'n opgawe van goed wat binne-in ons almal sit. Deur hul herinneringe te deel, stippel die storievertellers die omvang van die breër – en moeilike – gesprek oor die betekenis van geregtigheid en die verlore dele van die diskoers oor versoening in Suid-Afrika uit. Dit skep 'n ruimte vir 'n gesprek oor Suid-Afrika se geskiedenis en wat dit beteken om met die ander mense binne die konteks van hierdie geskiedenis te praat en aan te hoor.

'Ons het gehuil en gelag, maar ten diepste was ons hartseer.'

'They shot him in broad daylight, there was no warning.'

'Olu loyiko, oku kuzithoba isidima yayiyinto endiphazamisayo.'

Die boek lewer 'n belangrike bydrae tot huidige debatte oor die dekolonisering van die manier waarop kennis geskep word. Een van die mees unieke kenmerke van die boek is dat elke storie in Xhosa, Afrikaans en Engels verskyn – die tale van die storievertellers.

Die stories word saam met foto's aangebied wat met groot omsigtigheid deur die storievertellers gekies en met sensitiwiteit deur twee fotograwe, Noncedo Gxekwa en Botswele Mogotlane, geneem is. Die boek poog daarin om die bemiddeling, waardigheid en menslikheid agter die stories van swaarkry te wys.

Die skrywers hoop dat die publikasie van hierdie stories onderlinge gesprekke tussen Suid-Afrikaners van alle tale sal aanwakker en Suid-Afrikaners in staat sal stel om 'n band met mekaar te vorm wat wedersydse begrip vir die ingewikkelde aspekte van ons gedeelde geskiedenis en die voortslepende invloed van hierdie geskiedenis op mense en gemeenskappe sal bevorder.

Die boek is gegrond op navorsingsamewerking tussen die Universiteit Stellenbosch en die Instituut vir Geregtigheid en Versoening (IJR), wat hoofsaaklik deur die Andrew W Mellon Stigting en die Nasionale Instituut vir Lettere en Sosiale Wetenskappe befonds is.

Vir verdere inligting, skakel asb vir:

​​​ ​