Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US vier Afrikadag
Outeur: SU International
Gepubliseer: 02/05/2019

Die Universiteit Stellenbosch (US) sal vanjaar weer Afrikadag op 25 Mei vier ná 'n week propvol aktiwiteite op sy verskillende kampusse van 20 tot 24 Mei. 

“Ons moedig personeellede, studente en belanghebbendes op en om Stellenbosch aan om aan die geleenthede deel te neem. Ons het selfs interaktiewe aanlyn forums beskikbaar vir diegene elders ter wêreld wat graag op daardie manier wil deelneem," sê dr Nico Elema, die bestuurder van US Internasionaal se Sentrum vir Samewerking in Afrika.

Hoogtepunte van die week sluit in 'n amptelike bekendstelling van Afrikaweek op 20 Mei met prof Hester Klopper, Viserektor: Strategie en Internasionalisering. “Afgesien daarvan dat ons die aanvang van Afrikaweek sal vier, sal ons terselfdertyd die US Afrikaplatform bekend stel. Dié platform beoog om 'n virtuele ruimte te bied waar ons Afrikagerigte gemeenskap aan die US kan bande smee, kennis uitruil en vennootskappe bou. Daarbenewens sal die Afrika Doktorale Akademie 'n dekade van nagraadse vermoëbou vier," verduidelik Elema.

Op 30 Mei sal prof Wim de Villiers, rektor & visekanselier , weer die jaarlikse Afrikadag-Visekanselierslesing aanbied. Vanjaar se spreker is regter Thina Siwendu van die Gautengse afdeling van die hooggeregshof van Suid-Afrika. Sy sal 'n baie spesiale lesing getiteld “A mother's reflection on suicide loss in post-apartheid South Africa" lewer.

​Ná verskeie forums en gesprekke by die Universiteit van Stellenbosch Bestuurskool (USB) gedurende die week bereik verrigtinge 'n hoogtepunt met 'n seminaar op 24 Mei by die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe op Tygerbergkampus. Hiér sal die klem val op vennootskappe wat ons die volhoubare ontwikkelingsdoelwitte kan help bereik. Die seminaarprogram sluit onder meer 'n paneelbespreking in oor hoe om ons toekomstige leiers toe te rus om die kompleksiteite van gesondheid in die 21ste eeu te hanteer.