Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US vra onvoorwaardelik om verskoning vir trauma wat navorsingsartikel veroorsaak
Outeur: Stellenbosch University
Gepubliseer: 30/04/2019

​30 April 2019

Beste Kollegas en Studente

US vra onvoorwaardelik om verskoning vir trauma wat navorsingsartikel veroorsaak

Die Universiteit Stellenbosch erken dat die publikasie van die artikel 'Age- and education-related effects on cognitive functioning in Coloured South African women' erge trauma en woede by lede van die algemene publiek, Stellenbosse gemeenskappe, belanghebbers van die Universiteit en ons kampusgemeenskap veroorsaak het. Die artikel het in 'n internasionale vaktydskrif Aging, Neuropsychology, and Cognition, verskyn wat op normale en abnormale ontwikkeling fokus.

Ons vra onvoorwaardelik om verskoning vir die pyn en lyding wat hierdie artikel meergebring het. Ons het ook empatie met huidige en voormalige personeel, studente en alumni wat weens hul verbintenis met ons instelling kritiek moes verduur. 

Die Rektoraat het daarom besluit om 'n deeglike ondersoek na alle aspekte van hierdie navorsingstudie aan te vra, met die Beleid vir Verantwoordelike Navorsingsgedrag en die US se prosedure vir die ondersoek van bewerings van die skending van navorsingsnorme en -standaarde as riglyn. Op grond van die bevindinge van die ondersoek, sal ons soos vereis regstellende stappe neem.

In ons Eeufeesjaar (2018), het die Universiteit Stellenbosch 'n restitusieverklaring aanvaar wat die instelling se onlosmaaklike verbintenis tot geslagte uit die verlede, die hede en die toekoms, sowel as sy bydrae tot die ongeregtighede van die verlede, erken. Ek haal aan: “Hieroor het ons diepe berou. Ons vra die gemeenskappe en individue wat uitgesluit is van die historiese voorregte wat die US geniet het, sonder enige voorbehoud om verskoning en ons eer die kritiese Maties-stemme van daardie tydperk wat geweier het om stil te bly. As 'n verantwoordelikheid teenoor die huidige en toekomstige geslagte, verbind die US hom onvoorwaardelik tot die ideaal van 'n inklusiewe universiteit van wêreldgehalte in en vir Afrika."

As deel van Visie 2040, het die US vyf waardes ontwikkel wat as grondslag vir ons etiese kode dien, naamlik verantwoordbaarheid, respek, billikheid, deernis en uitnemendheid. Ons is daartoe verbind om hierdie waardes uit te leef.

Ons bedank graag alle lede van die kampusgemeenskap wat na aanleiding van hierdie artikel aan verskeie besprekings deelgeneem het, en vir die talle voorleggings en voorstelle wat ons ontvang het. Ons sal dringend voortgaan met die proses soos hierbo uiteengesit en die uitkoms met julle almal deel.

Groete

Prof Eugene Cloete

Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studies