Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Bekroonde dokumentêr toon hoe ma en dogter die generasiestryd aanpak.
Outeur: University Museum
Gepubliseer: 23/04/2019

Dit is die verhaal waarby gehore met die Universiteit Stellenbosch (US) se vertoning van Whispering Truth to Power ingetrek is. Dié bekroonde dokumentêr is op 11 April 2019 by die Universiteitsmuseum vertoon. Whispering Truth to Power, onder die regie van Shameela Seedat, volg die voormalige openbare beskermer prof Thuli Madonsela onderwyl sy in die laaste jaar van haar termyn haar amptelike pligte uitvoer. Die rolprent wat in April 2018 vrygestel is, toon prof Madonsela waar sy haar in die onstuimige water van hoëvlakregeringskorrupsie bevind, met 'n vurige dogter aan die een kant en die eise van sekere van Suid-Afrika se mees gemarginaliseerde gemeenskappe aan die ander.

Prof Madonsela is die voorsitter van die Leerstoel vir Maatskaplike Geregtigheid en professor in die regte aan die US se Fakulteit Regsgeleerdheid. Sy is verantwoordelik vir die uitvoer en koördinering van navorsing in maatskaplike geregtigheid en gee klas in grondwetlike en administratiewe reg.

In die bespreking by die geleentheid het die gehoor gesels oor verskeie aspekte van die rolprent wat vir hulle uitgestaan het. Een persoon het gevra of daar 'n vervolg op die rolprent gaan wees. Ander het gesê Whispering Truth to Power laat hulle geesdriftig oor Suid-Afrika voel, maar erken daar is nog vele uitdagings wat aangeroer moet word.

Die dokumentêr toon ook die spanning tussen die politiek van prof Madonsela en dié van haar dogter Wenzile. Wenzile studeer in die regte aan 'n voorheen Afrikaansmedium-universiteit en is 'n uitgesproke maatskaplike aktivis op die kampus. Sy en haar ma stamp gereeld kop oor politieke kwessies. In een besonder spannende toneel verwys Wenzile na die grondwet ter regverdiging vir haar keuse om 'n baret te dra wanneer sy prof Madonsela na die Staatsrede vergesel. Dít nadat Thuli aangedring het sy dra dit nie.

Ná die vertoning het LLM-student Inga Dyanti gesê hierdie aspek van die twee se verhouding vergestalt die dinamika tussen die ouer geslag en hul stryd teen die rasse-ongeregtigheid van apartheid, en die jonger geslag en hul stryd om 'n nuwe, dieper maatskaplike geregtigheid te midde van toenemende ongelykheid.

Sommige gehoorlede het in die meer tegniese aspekte van die rolprent belang gestel. Een persoon het Seedat geluk gewens met die hommeltuig-tegnologie wat in die verfilming van die dokumentêr gebruik is.

Die Universiteitsmuseum se Opvoedkundige en Openbare Programme-beampte, Ricky Brecht, sê die Museum tree proaktief op deur meer maatskaplik-inklusiewe en -verantwoordbare geleenthede aan te bied. Brecht beklemtoon dat daar spesifiek op gemeenskapsbetrokkenheid gefokus word.

“Hierdie geleenthede word gebruik as die vlammetjie wat gefasiliteerde gesprekke oor aktuele kwessies aansteek. Inwoners van en besoekers aan Stellenbosch kry die geleentheid om deur dialoë, rolprentvertonings en ander geleenthede byeen te kom."